In dié episode van die gewilde sepie 7de Laan het kykers ’n emosionele Tiaan Terreblanche (Frank Rautenbach) op die kassie gesien terwyl hy oor sy ma, Madel Terreblanche, wat destyds deur Wilna Snyman vertolk is, gesels het. 

“Sy’t ’n paar jaar gelede na Waenhuiskrans verhuis. Toe haar buurvrou een oggend daar aankom vir ’n gebruiklike oggendtee, was my ma weg. Ons soek al vir drie jaar lank sonder enige sukses. Daar’s nie ’n dag wat verbygaan dat ek nie aan my ma dink nie. Nie wonder waar sy is nie,” het hy in die toneel vertel. 

’n Toneel uit Woensdagaand se skok-episode. Foto:
’n Toneel uit Woensdagaand se skok-episode. Foto: Verskaf

Is sy veilig? Kyk iemand na haar? Lewe sy nog? Hoe gaan jy aan as jy nie weet nie? Sys bejaard. En sy is weerloos.

“Help ons om Madel Terreblanche te kry,” was Tiaan se laaste woorde voordat die episode geëindig het.

Die toneel het afgespeel net enkele oomblikke voor Mariaan (Deirdre Wolhunter) en haar man, Chris Welman (David Rees), op geraamtes in hul huis af gekom het. Madel en die res van die Terreblanche-gesin het voorheen in dié huis gebly.

Tiaan se skielike terugkeer het kykers omtrent geskok. “Nee man, julle moes Tiaan daar aan die begin dansend laat inkom het,” het een kyker op Facebook laat hoor by ’n video van Frank wat sy terugkeer na die Laan aankondig. 

“Dis goed om ‘Tiaan’ terug te hê (wat ’n verrassing!), al het dit so hartseer en grillerig begin. Wag mos al lank dat hy terugkeer.”

’n Ander meen dat Tiaan nou moet terugvat wat aan hom behoort. “Moenie vergeet nie, DeWet — ek bedoel Basson — en Tiaan ken mekaar,” het een geskryf. 

Tiaan is terug. Foto: Verskaf
Tiaan is terug. Foto: Verskaf

“Kom wys die Welmans ’n ding of twee, en vernaam vir Mariaan, wat dink hulle kan wegkom met alles,” het nog een laat hoor. 

’n Ander kyker hoop dat die berugte Sandra Stutterheim (Heléne Lombard) weer ’n verskyning sal maak.

“Ons kan nie sê dat daar meer van hierdie verrassings sal wees nie – maar dit is altyd die moeite werd om te kyk,” sê Kayleen Bessit, die sepie se publisiteitsbeampte.

HOEKOM NOU? 

“Tiaan het closure nodig, want 16 jaar lank al loop hy met al hierdie skuldgevoelens op sy skouers, veral oor sy verbrokkelde verhouding met sy ma,” vertel Frank (49). 

Volgens Frank het Tiaan Hillside destyds in 2005 verlaat te midde van die liefdesdriehoek tussen hom, Petra Terreblanche (Yvonne van den Bergh) en Tiaan se broer, Jan-Hendrik Terreblanche (Waldemar Schultz). Petra was lief vir albei broers, het swanger geraak, en dit het uitgekom Tiaan was die pa – terwyl sy nog met Jan-Hendrik getroud was.

'n Toneel destyds tussen Frank en Wilma. Foto: Ver
’n Toneel destyds tussen Frank en Wilna Snyman. Foto: Verskaf

Sy was tussen die twee broers verskeur tot die dag van haar dood. Sy het saam met haar en Tiaan se baba gesterf.

“Madel het toe uitgevind Petra was swanger met Tiaan se kind, en dat hy agter haar rug gekonkel het met ’n saketransaksie om die familie in te doen.

“Toe het sy vir hom gesê hy’t te ver gegaan en hom uit die huis geskop,” vertel Frank. 

TERUG OP STEL

Volgens Frank was dit baie pret om weer terug in Tiaan se skoene te klim. “Die eerste gevoel wat ek gehad het, was ’n gevoel van heimwee. 

“Dit is soos om jou familie weer te sien, maar die meeste van hulle is nie meer daar nie. Dit was net Ingrid, wat die rol van Vanessa Meintjies vertolk, Quinne Brown Huffman, wat Connie van der Lecq is, en Francois Lensley, wat beter bekend staan as Marko Greyling, wat oor was,” vertel hy. 

Volgens Frank was dit wonderlik om weer vir almal
Volgens Frank was dit wonderlik om weer 16 jaar later saam met almal te werk. Foto: Verskaf

“Om terug te klim in die karakter van Tiaan was vir my interessant, want ek het dieselfde opgewondenheid gevoel as toe ek Tiaan voorheen gespeel het. 

“Ek het geweet ek is ouer, en Tiaan is ook ouer. Ek dink daar’s nou baie meer diepte in die karakter,” vertel hy.

Al die herinneringe het teruggekom toe Frank weer op stel was en deur die Terreblanche-gesin se destydse huis gestap het.

“Al daai jare terug en al die goeie tye het teruggekom. Ek het vir Wilna, Waldie en vir Anna-Mart van der Merwe (Christelle Terreblanche) verskriklik gemis,” vertel hy. 

“Ek het ’n glimlag op my gesig gehad, maar daar was trane in my hart.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.