Die tonge het geklap toe Rickus (André Lötter), en Marko (Francois Lensley) se eksmeisie Esti (Reandi Grey), skielik vir mekaar begin ogies maak.

“Rickus en Esti ken mekaar al ’n rukkie en daar was vuurwerke met hul eerste ontmoeting. Volgens Rickus is dit wel ware liefde al is dit net aan die begin. As Rickus in ’n verhouding is gee hy alles van homself,” vertel André, wat die rol van Rickus vertolk, aan Huisgenoot. 

Rickus het wel seker gemaak dat Esti, wat nou Oppiekoffie se bestuurder is, nie eerder vir Marko wil hê nie. 

View this post on Instagram

Who's here for this relationship? Wie is hier vir hierdie verhouding? #Resti #7delaan #Lovewins @cheerfullygrey @andrelotter

A post shared by 7de laan (@real7delaan) on

Marko se eksverloofde, Emma le Roux (Bertha le Roux-Wahl), het in November verlede jaar weer haar verskyning in Hillside gemaak en met Marko versoen. 

Tog voeg André by: “Rickus en Marko is vriende en volwasse, so Rickus is op die oomblik nie veel gepla met Marko nie.”

Esti het verlede jaar haar en Marko se verlowing verbreek toe sy na die Weskus vertrek het om haar seun, Thomas (Vian Singleton), by te staan. 

Die skoolseun het in ’n verbeteringskool beland nadat hy Rickus per ongeluk raakgery en verlam gelaat het. Rickus het intussen weer begin loop. 

Maar dit is lank vergete en Thomas en Rickus se verhouding het intussen verbeter. Hy keur selfs die verhouding tussen sy ma en Rickus goed. 

“Rickus en Thomas hou baie van mekaar en deel dieselfde belangstellings. Dis altyd moeilik vir ’n man om ’n verhouding te betree waar daar reeds kinders is. Die feit dat Thomas oukei is daarmee, maak dit soveel makliker,” sê André.  

Kykers sal moet wag en sien of daar ’n gelukkige einde is vir Rickus en Esti. 

“Rickus was op ’n manier baie lief vir elkeen van die vroue in sy lewe, maar dit het nooit lank gehou nie. As Rickus die liefde van sy lewe ontmoet, of dit nou Esti is of nie, sal hy ’n baie goeie eggenoot wees,” meen André. 

In die regte lewe is die akteur dolgelukkig getroud met sy vrou, Madeleine. Hulle ken mekaar al van skool af. André en Madeleine, wat ook in die vermaakbedryf werk as produksieontwerper, het in Oktober hul vierde huweliksherdenking gevier.

Hy het onlangs foto's van hulle saam op Instagram gedeel en daarby geskryf: "Met jou is niks vervelig nie. Ek is lief vir jou lag, jou hart, jou alles. 2020 met jou gaan epies wees. Ek is lief vir jou met my hele hart."

Sy medester Reandi het in September weer teruggekeer na die stel nadat sy op kraamverlof was. Sy en haar man, Dewald, het in Mei verlede jaar vir die eerste keer ouers geword toe hul dogtertjie, Heidi, gebore is. En hul klein prinses het omtrent hul hart gesteel.

Reandi deel gereeld foto's van hul kleinding in die sosiale media.

Die gesin het die feestyd by Stormsrivier in die Oos-Kaap deurgebring, net soos in Reandi se kinderdae. As kinders het hulle altyd daar gekampeer. "Dit is so spesiaal om nou, ná soveel jare, met my eie gesin terug te gaan Stormsrivier toe en hopelik weer dieselfde herinnerings met hulle te vestig," het sy vroeër aan Huisgenoot vertel.