WEGHOLTREFFER

Omar Sy se nuwe misdaadreeks, Lupin, is die gewildste Franse reeks nog op Netflix. Dis geïnspireer deur Maurice Leblanc se boeke oor die gentleman-dief Arsène Lupin. Dekades gelede is dit ook in ’n Franse televisiereeks, Arsène Lupin, verwerk wat in Afrikaans oorgeklank is.

Resensente is vol lof vir Omar se spel in die Fran
Resensente is vol lof vir Omar se spel in die Franse trefferreeks Lupin. Foto: Netflix

In die nuwe reeks is Omar die hoofkarakter, Assane Diop, die seun van die Senegalese immigrant Babakar (Fargass Assandé).

Babakar word veroordeel weens ’n misdaad wat hy nie gepleeg het nie en neem sy eie lewe agter tralies. Assane, geïnspireer deur ’n boek oor Lupin, besluit 25 jaar later om wraak te neem en sy pa se onskuld te bewys.

SY GROOTWORDJARE

Omar is in die arm voorstad Trappes, Parys, gebore en het in ’n laeinkomstebehuisingsprojek grootgeword. Sy Mauritiaanse ma was ’n huishulp en sy Senegalese pa ’n fabriekswerker.

“Elke oggend het ek gesien hoe my pa opstaan en na ’n werk toe gaan waarvan hy nie juis gehou het nie. Hulle het na Frankryk toe gekom om dieselfde rede as alle immigrante: sodat hul kinders ’n beter lewe kan hê.”

Hy het met sewe sibbes grootgeword.

“Ek het goeie herinnerings van my kinderjare. Daar was baie vreugde en pret.”

KITSROEM

Hy het ná hoërskool in 1996 as ’n komediant by ’n radiostasie begin werk. Hy was later ook op die kassie te sien, maar het oornag bekend geword danksy ’n rol in die Franse lokettreffer Intouchables (2011).

Vir sy spel is hy met ’n César-prys, Frankryk se weergawe van ’n Oscar, vir beste akteur vereer: ’n eerste vir ’n swart akteur. Sedertdien was hy al in Hollywoodflieks soos X-Men: Days of Future Past en Jurassic World te sien.

Die Franse akteur Omar Sy wys nou gesig in die tre
Die Franse akteur Omar Sy wys nou gesig in die trefferreeks Lupin. Foto: Gallo Images/Getty Images

Assane is ’n droomrol. “Dis die perfekte karakter om op jou emmerskoplys af te merk. Jy kan alles met hom doen. Dis die perfekte rol.”

SY HARTSMENSE

Omar, sy vrou, Hélène, en hul vyf kinders woon in Los Angeles. Die egpaar het in 2007 ná ’n verhouding van ’n dekade afgehaak. Omar woon sedert 2012 in die glinsterstad. Hy en Hélène, ’n beleggingskenner, hou hul kroos uit die kollig.

Omar en sy vrou, Hélène, is sedert 2007 getroud en
Omar en sy vrou, Hélène, is sedert 2007 getroud en het vyf kinders. Foto: Instagram (@mynameishelenesy)

“Ek voel my kinders is vryer hier,” sê Hélène.

Omar geniet dit om saam met sy familie uit te hang. “Wanneer ek die tyd het, bring ek my broers en vriende van Frankryk hierheen,” vertel hy. “Dis hoe ek my vrye tyd deurbring.” 

5 dinge wat jy oor Omar Sy moet weet
  • Sy Lupin-karakter, Assane, is dalk versot op die boekkarakter Arsène Lupin wat in 1905 geskep is, maar Omar, wat die boeke as kind gelees het, bieg: “Ek was nie ’n aanhanger nie.”
  • Hy bewonder die akteur Samuel L. Jackson. “Ek is mal oor hom. Hy is wonderlik,” sê Omar. Hy het eenkeer die akteur raakgeloop, en dié het hom sowaar herken. “Ek kon nie glo hy ken my naam nie.”
  • Hy staan 1,9 m in sy sokkies en het 2 miljoen volgelinge op Instagram.
  • Hy is in 2012 as die gewildste persoonlikheid in Frankryk aangewys.
  • Omar is ’n Moslem. 

BRONNE: CONNEXIONFRANCE.COM, NYTIMES.COM, TRAVELINGBOY.COM, NETFLIX, VARIETY, EXPRESS.CO.UK, ELLE, IMDB.COM