Dit is waarna aanhangers kan uitsien in die agtste en laaste seisoen van die gewilde televisiereeks Game of Thrones. Die afgelope paar maande het die televisienetwerk HBO ’n hele paar lusmakers uitgereik, maar nou is die eerste volledige lokprent eindelik hier.

In die lokprent, wat gister wêreldwyd uitgereik is, blyk dit of ons alles van epiese gevegte vir die ystertroon, ’n hele paar drake en genoeg van Arya Stark, Jon Snow en die White Walkers sal sien wanneer die Emmy-bekroonde reeks finaal groet.

Die lokprent is Dinsdag op YouTube gedeel en is 'n dag later reeds byna 20 miljoen keer gekyk. 

Die Britse aktrise Emilia Clarke (32), wat die rol van Daenerys Targaryen, oftewel die moeder van drake, vertolk, het in Februarie laat hoor dat kykers kan uitsien na "skokkende dinge". "Dit gaan groot wees. Dit behoort almal te weet," sê Emilia.

En aanhangers sit reeds reg en kan nie wag om daai temalied van die gewilde reeks weer op hul kassies te hoor nie.

GOT se laaste seisoen skop op 15 April om 03:00 op M-Net af. Die laaste seisoen bestaan uit ses episodes wat elkeen byna so lank soos ’n fliek is. 

Bron: MSN