Anya Taylor-Joy speel die skaak- meester Beth Harm
Anya Taylor-Joy speel die skaak- meester Beth Harmon in The Queen’s Gambit. Foto: Netflix

SKAAKMAT!

Dié Amerikaanse dramareeks is ’n wegholtreffer sedert dit onlangs op Netflix uitgereik is.

The Queen’s Gambit, wat op Walter Tevis se gelyknamige boek van 1983 gegrond is, gaan oor Beth Harmon wat op nege ’n weeskind word toe haar ma sterf. In die weeshuis leer die opsigter, Mr. Shaibel (Bill Camp), haar skaak speel en sy ontpop dan in die 1960’s as ’n bobaasskaakspeler in Amerika wat op die hoogste vlak van dié spel meeding.

Die aktrise Anya Taylor-Joy (24), wat bekend is vir onder meer haar titelrol in vanjaar se fliekweergawe van Jane Austen se boek Emma, skitter in die hoofrol as Beth, wat haar in die sewe episodes tussen ’n see van mans in die skaakwêreld bevind.

Die reeks se skepper, Scott Frank, het vir Anya die boek gestuur, en sy was dadelik geïnteresseerd.

“Ek het gevoel ek verstaan Beth se gevoel van eensaamheid en haar behoefte om te probeer sin maak van ’n wêreld wat nie natuurlik vir haar gekom het nie,” sê Anya. “Almal wat sy al ontmoet het, het haar op die een of ander manier teleurgestel of weggegooi.

“Sy vertrou nie mense nie en is desperaat om ’n plek te vind om in te pas. En as kind het ek beslis elemente daarvan in my lewe gehad, so ek het dadelik ’n obsessie met haar gehad.”

HET JY GEWEET?
Daar was planne vir ’n fliekweergawe van die boek The Queen’s Gambit. Heath Ledger wou die regie daarvan behartig voor sy dood in 2008.

DONKER KINKEL

Hoewel die storielyn ’n donker kinkel het – Beth se aanneemma, Alma Wheatley (Marielle Heller), is ’n alkoholis en Beth is self as tiener verslaaf aan pille en drank – is dit meestal ’n goedvoelstorie.

Alma en Beth het nie jou tipiese ma-en-dogter-verhouding nie. Albei sukkel met verslawing, maar Alma vind betekenis deur Beth te help om die skaakwêreld te verower.

Anya en Marielle Heller, wat haar aanneemma speel.
Anya en Marielle Heller, wat haar aanneemma speel. Foto: Netflix

Marielle (41), wat meestal agter die kameras as regisseur werk, het ná byna ’n dekade na die skerm teruggekeer vir haar rol as Alma.

“Ek het die draaiboek gelees en was so uitgeboul deur Alma; sy is ingewikkeld en ryk en het na ’n uitdaging gelyk. Ek het gedink, hoekom nie?” sê Marielle, wat met die reeks se skepper, Scott, bevriend is.

“Sy leef met baie pyn – sy het hierdie droom om ’n pianis te word wat sy nooit kon vervul nie; sy wou ’n ma wees en sy kon dit ook nie vervul nie; sy is in ’n liefdelose huwelik. Sy is regtig ’n slagoffer van haar era.

"Daar is iets so tragies aan haar en tog is sy taai: Sy is slim; sy is geslepe. Sy het ’n ander kant aan haar wat aangewakker word deur te sien hoe Beth haar droom najaag.”

ANYA SE TRANSFORMASIE

Anya, wat ’n blondine is, is die een wat voorgestel het dat haar karakter, Beth, rooi hare moet hê. Sy kon nie skaak speel voor sy die rol losgeslaan het nie.

Elke skuif wat sy op die skaakbord maak, het sy “vyf minute” voor tonele verfilm is, geleer sodat dit vars in haar brein was. Sy het die skaakstukke so geskuif dat dit vroulik lyk en tussen haar mansmededingers uitstaan.

“Ek het geleer om oulike, koel choreografie met my vingers te doen,” sê Anya.

Die aktrise het ook baie insae gehad in Beth se ko
Die aktrise het ook baie insae gehad in Beth se kostuums, wat vergelyk word met dié in die periodedramareeks Mad Men. Foto: Netflix

Die aktrise het ook baie insae gehad in Beth se kostuums, wat vergelyk word met dié in die periodedramareeks Mad Men. Dis deur die Franse kostuumontwerper Gabriele Binder ontwerp en is onder meer deur stylikone van die 1960’s soos die aktrises Edie Sedgwick en Audrey Hepburn geïnspireer.

5 dinge wat jy oor Anya moet weet
  1. Haar eerste oudisie was vir die jonger weergawe van Angelina Jolie se karakter Maleficent in die Disney-fliek Maleficent. “Dit was my eerste ervaring van verwerping. Ek het vir ’n lang tyd gehuil nadat dit gebeur het,” vertel sy.
  2. Sy het ’n fotografiese geheue. Sy hoef nie ure lank lyne te leer nie. Sy lees ’n draaiboek net een keer en memoriseer dit.
  3. Anya het tydens die covid-19-pandemie die inperking in Londen saam met haar fotograaf-kêrel, Ben Seed, en twee pelle deurgebring.
  4. Anya speel ’n jonger Charlize Theron in die Mad Max-uitloperfliek Furiosa.
  5. The Queen’s Gambit is die mees gekykte reeks op Netflix in meer as 60 lande.

DIE HARRY POTTER-BAND

Anya het in Buenos Aires in Argentinië grootgeword. Sy is “toevallig” in Miami, Amerika, gebore toe haar ouers daar was. Haar eerste taal is Spaans. Sy het eers op agt leer Engels praat toe hulle na Londen verhuis het – en dit deur Harry Potter-boeke te lees.

Sy kon haar oë nie glo toe Harry Melling (31), wat Dudley Dursley in die Harry Potter-flieks speel, saam met haar op die stel van The Queen’s Gambit beland het nie.

Harry Melling van Harry Potter-faam (links) en die
Harry Melling van Harry Potter-faam (links) en die Maze Runner-ster Thomas Brodie-Sangster (regs saam met Anya) is ook in die reeks te sien. Foto: Netflix

Hy is die skaakspeler Harry. Hy het “ewe vriendelik” sit en luister toe sy liries raak oor sy Harry Potter-verbintenis. Nog ’n bekende gesig op die stel was die Maze Runner-ster Thomas Brodie-Sangster (30), wat die wêreldklasskaakspeler Benny Watts speel.

Die hoofster

Anya is die jongste van ses kinders. Haar pa is ’n oudbankier wat nou professioneel aan snelbootkompetisies deelneem, en haar ma is ’n fotograaf. Anya het al op ses geweet sy wil eendag ’n aktrise word.

Toe haar gesin van Buenos Aires na Londen verhuis het, het sy deur 'n moeilike tyd gegaan. Sy was agt jaar oud en Spaanssprekend, en kon nie ’n woord Engels praat nie. Sy is erg afgeknou. “Ek het gevoel ek pas nie in nie,” sê sy.

“Kinders het my nie verstaan nie. Hulle het my in sluitkaste toegesluit. Op skool het ek soveel kere in badkamers gehuil. Ek was bitter eensaam as kind.”

Maar sy het wel êrens ingepas: die modelwêreld. Sy het op 16 buite die Londense winkel Harrods met haar hond gestap toe Sarah Doukas – wat die supermodel Kate Moss ontdek het – haar voorkeer. ’n Dag later het Anya ’n kontrak met die modelagentskap Storm Management geteken. Sy het kort daarna skool opgeskop om ’n aktrise te wees.

Hoewel die aktrise met die Bambi-oë hoofrolle in flieks soos The Witch (2015) en Emma. (2020) losgeslaan het, twyfel sy in haarself.

“Ek dink nie ek is mooi genoeg om in flieks te wees nie,” het Anya onlangs aan die koerant The Sun gesê. “Dit klink pateties, maar ek dink net ek lyk vreemd.” Sy gaan ook nie fliekteater toe om haar flieks te kyk nie, bieg sy.

Die opkomende ster sê sy “het ’n paniekaanval” gehad terwyl sy Emma. verfilm het.

“Ek het gedink: ‘Ek is die eerste lelike Emma en ek kan dit nie doen nie’, want die eerste lyn in die fliek is: ‘Ek is aantreklik, slim en ryk.’ ” Maar sy het deurgedruk en nou is sy ’n bekende naam.

  • 2020.
  • EEN SEISOEN.
  • 16
  • BESKIKBAAR OP NETFLIX.
BRONNE: BUZZFEED.COM, TOWNANDCOUNTRYMAG.COM, HARPERSBAZAAR.COM, THESUN.CO.UK
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe