Foto: Gallo Images/Getty Images, Netflix
Foto: Gallo Images/Getty Images, Netflix

DIE HARTEBREKER-HERTOG

Daar is heelwat aan Netflix se jongste treffer, Bridgerton, wat kykers boei. Een van die grootste trekpleisters van dié dramareeks is Simon Basset, oftewel die hertog van Hastings. Menige ambisieuse ma probeer hul hubare dogters aan die hertog afsmeer.

Hy stel egter glad nie daarin belang om te trou nie, maar dit maak hom net nog aantrekliker vir die Londense elite. Om die knaende ma’s en hul dogters te pypkan, konkel hy met die debutant Daphne Bridgerton (Phoebe Dynevor) om voor te gee hulle is ’n paartjie. Maar alles verloop nie volgens plan nie . . .

Die reeks met sy stomende sekstonele en weelderige baldanse wat in 1813 in Londen afspeel, is al beskryf as ’n kombinasie tussen Jane Austen, Gossip Girl en Fifty Shades of Grey. Regé-Jean Page (31), wat die rol van die aantreklike hertog van Hastings vertolk, is “aangenaam verras” oor al die aandag wat hy kry danksy Bridgerton.

BUITESTANDER

Hy is dalk een van die begeerlikste mans op die kassie, maar in sy grootwordjare het hy soos ’n buitestander gevoel. Regé-Jean, die derde van vier kinders, se ma was ’n Zimbabwiese boorling en verpleegster en sy pa ’n Britse predikant. Hy was 14 toe sy gesin uit Zimbabwe na Londen verhuis het.

“Zimbabwe was ’n relatief jong land toe ek daar gebly het en sy post-apartheid-samelewing was net nuut gevorm,” onthou hy. “Om ’n kind van gemengde ras in daardie omgewing te wees beteken jy moet daaraan werk om jou eie identiteit te skep.”

Foto: Instagram (@regejean)
Foto: Instagram (@regejean)

Hy was nie wit of swart genoeg nie.

“My pa het Engels soos ’n 1920’s-nuusleser gepraat, en ek het daardie aksent van mag in die post-koloniale Zimbabwe geleer. Ek het geleer hoe om dit na te boots en tussen aksente te skuif, maar ook hoe om soos my ma se landelike familielede te praat.”

EERS PUNKSANGER, TOE AKTEUR

As tiener het hy die samelewing se konvensies uitgedaag.

Hy het selfs ’n punkgroep, Tunya, saam met sy broer Tose begin waarin hy gesing en die tromme gespeel het. As punksanger was sy hare elke kleur onder die son: van blou tot groen en pers.

Hy het toevallig begin toneelspeel by ’n Saterdagskool in Londen, maar dit gou verkies bo musiek maak.

“Ek wou ’n ontdekkingsreisiger word toe ek ’n kind was. Dit was my eerste idee oor iets regtig wonderliks: om onbekende dinge te ontdek, dit te verken en te sien wat jy huis toe kan bring om te sê ‘kyk, die wêreld is groter as wat jy gedink het dit is’. Toneelspeel is die naaste ding wat ek daaraan gevind het.”

Die vroue ding omtrént mee om sy karakter se oog i
Die vroue ding omtrént mee om sy karakter se oog in die reeks te vang. Foto: Netflix

Hy het in 2013 gegradueer aan die Drama Centre London, wat die akteurs Tom Hardy en Michael Fassbender onder hul oudstudente tel.

Regé-Jean was al in onder meer die regsdramareeks For the People te sien, maar dis sy rol in Bridgerton waaroor almal praat.

STOMENDE TONELE

Hy het begin boks en saam met sy medesterre etiket- en perdrylesse geneem vir Bridgerton se stel.

Maar hy was veral dol oor die versigtig gechoreografeerde danstonele. “Die dansery was ’n geskenk. As jy eers begin dans, kan jy eerlik wees. Ek dink dis hoekom danse so sentraal aan dié stories is.”

Dis tydens die danstonele dat die vonk ontstaan tussen sy karakter en Daphne, gespeel deur die Britse aktrise Phoebe Dynevor (25).

Regé-Jean en sy medester Phoebe Dynevor, wat die r
Regé-Jean en sy medester Phoebe Dynevor, wat die rol van Daphne Bridgerton vertolk. Foto: Netflix

Phoebe het glo op haar gemak gevoel met hom. En om die naaktonele tussen die twee te laat vlot, was daar selfs ’n “intimiteitschoreograaf” op die stel. Maar die twee stem saam dat die storie meer gaan oor romanse tussen jong verliefdes as oor seks.

Regé-Jean is ’n romantikus.

“Ek is ’n groot aanhanger van romanse as ’n konsep. Romanse is ’n wonderlike ding en ons het meer daarvan in die wêreld nodig,” vertel hy.

Maar of daar weg van die stel al iemand spesiaals in sy lewe is, wil hy nie verklap nie.

MEER OOR DIE BRIDGERTONS

Die boekreeks

Bridgerton is gegrond op ’n boekreeks deur die romanseskrywer Julia Quinn. Die boeke draai om die kinders van die ontslape burggraaf Bridgerton. Elke boek fokus op een van sy agt kinders. In die reeks kan die stem van Julie Andrews van The Sound of Music gehoor word. Sy is die verteller, ’n geheime skinderrubriekskrywer wat die Londense hoëlui op hul tone hou.

Die magtige gesin

Die Bridgertons is ’n magtige familie met status in Londen. Die oudste dogter, Daphne, is die Bridgerton aan die hart van die eerste boek, The Duke and I, wat tussen 1812 en 1827 afspeel.

Ontmoet die Bridgertons. Die akteurs agter is (van
Ontmoet die Bridgertons. Die akteurs agter is (van links) Ruth Gemmell, Claudia Jessie en Jonathan Bailey. Voor is Florence Hunt, Luke Newton, Phoebe Dynevor, Will Tilston en Luke Thompson. Foto: Netflix

In die vervaardigerstoel

Die vervaardiger Shonda Rhimes, verantwoordelik vir Grey’s Anatomy en The Fixer, maak Julia se boeke lewend met ’n kombinasie van weelderige kostuums, pittige tonele en moderne musiek teen die agtergrond van die 1800’s.

5 dinge wat jy oor Regé-Jean moet weet

1. Sy naam word as “reggae-Jean” uitgespreek.

2. Hy het 1,5 miljoen getroue Instagram-volgelinge.

3. Hy woon tans tussen Los Angeles in Amerika en die Britse hoofstad, Londen.

4. Dis nie die eerste keer dat Regé-Jean in ’n reeks van Shonda Rhimes se produksiehuis, Shondaland, te sien is nie. In 2018 was hy die regsman Leonard Knox in hul regsdramareeks For the People. Hy was in al 20 episodes voor dit ná twee seisoene geskrap is.

5. Hy’s verslaaf aan koffie en het al laat val hy het familie in Suid-Afrika. 

BRONNE: ESQUIRE.COM, PEOPLE.COM, OPRAHMAG.COM, VANITYFAIR.COM, NETFLIX, POPSUGAR.COM