Kykers het op 12 April gesien hoe twee mans by Siya (Gantane Kusch) se woonstel opdaag en hom en Michelle (Greta Pietersen) aanhou.

Hy is deur die twee weggevat om geld uit sy bankrekening te trek. Siya was ure lank weg. Maar met sy terugkoms het ernstigs met hom geskort.

Die traumatiese ervaring wat hy deurgemaak het, plaas nou groot druk op sy verhouding met Michelle. Maar Siya kon tot Woensdagaand nog nie vir haar vertel die booswigte het hom verkrag nie.

Toe het hy wel teenoor Tyron (Maurice Paige) hart oopgemaak en vertel wat regtig gebeur het. Maar sal hy ook vir Michelle vertel?

Verkragting van mans

Tot 'n paar jaar gelede was die verkragting van mans iets waarvan mense bewus was, maar daar's nie daaroor gepraat nie.

In Junie 2017 het Oliver Meth (toe 32) van Durban vertel van sy verkragtingsnagmerrie toe hy 16 jaar oud was. Sy ervaring toe hy in ’n bebloede toestand by die polisiekantoor opdaag, het hom laat besef daar word nie genoeg gedoen vir mans wat verkrag word nie.

“Daar is ’n gebrek aan ondersteuning en dienste, en die regstelsel is ontoereikend om dié soort misdaad te hanteer,” het hy aan die Daily Mail gesê.

Rees Mann, nog ’n verkragtingsoorlewende, het in 2012 die eerste geregistreerde organisasie vir manlike slagoffers van seksuele mishandeling en verkragting tot stand gebring: Samsosa (South African Mail Survivors of Sexual Abuse).

Volgens hom was amper 20% van verkragtingslagoffers in 2012 mans.

’n Daad van geweld

Rees sê seksuele misbruik is op geen manier te wyte aan die slagoffer se seksuele oriëntasie nie. In baie gevalle is die verkragter boonop iemand wat aan die slagoffer bekend is. 

Verkragting en seksuele mishandeling is ’n daad van geweld, beheer en aggressie en nie seksuele bevrediging nie. Iemand kan ’n slagoffer word ongeag sy ouderdom, ras of kulturele agtergrond.

Slagoffers word aangemoedig om nie hulself daarvoor te verkwalik nie. Die oorgrote meerderheid verkragtings word vooraf beplan.

Dit is bitter moeilik vir slagoffers om daaroor te praat, of dit onlangs of in die lank gelede gebeur het. Dit verg baie durf en daad om dit met iemand na aan jou te bespreek.

Redes om daaroor te praat
  • Dis moeilik om te konsentreer en die voorval te vergeet.
  • Jy huil gereeld wanneer jy alleen is.
  • Jy slaap sleg en jou aptyt ly ook daaronder.
  • Om met iemand daaroor te praat, kan jou beter laat voel.
Hoekom stilbly?
  • Dalk dink jy die voorval was jou skuld en jy voel skaam of verleë
  • Jy glo niemand gaan jou glo nie of andersins wat mense oor jou te sê gaan hê.
  • Verkragting gebeur net met vroue en jy’s veronderstel om ’n "man" te wees.
Kry hier hulp