Elana Bester (gespeel deur Ilne Nienaber) en Steve Abrahams (Clint Brink) gaan verleen hulp by ’n veldhospitaal in die onvoorspelbare en onbekende binneland van die Kongo.

Daar, in die middel van nêrens, beleef die Pretoriase geneeshere die een drama na die ander. 

Huisgenoot het Woensdagoggend eksklusief met Ilne Nienaber oor haar karakter, dr. Elana Bester, se uitdagings gesels. 

Ilne vertel haar rissiepit-karakter is tot die uiterste beproef nadat sy in ’n ontploffing beseer is. 

“Sy het nie geweet of sy dit gaan oorleef nie,” sê Ilne, maar kan nie veel meer verklap nie. 

Foto verskaf: Stark Films

Dit was ’n ongelooflike ervaring om die Kongo-tonele te skiet, vertel Ilne oor die talle uitdagings wat Elana in die Kongo moes hanteer. 

“Elana is ’n dokter en chirurg en haar groot ding in die lewe is nie om geld te maak of famous te word nie, maar om mense te help. Dit is absoluut die eerste en enigste rede hoekom sy Kongo toe is.

“Sy’t gehoor daar is probleme en wou graag gaan help. Toe kom sy agter dis nie so veilig soos sy gedink het dit is nie,” sê sy minute voordat sy weer op die Binnelanders-stel moet gaan om ’n nuwe episode te verfilm.

Die buitetonele was vir die aktrise self ook ’n uitdaging, veral omdat hulle in Mei vanjaar in die briesende koue plaaslik gewerk het aan tonele in die warm Kongo.

Foto verskaf: Stark Films.
Foto verskaf: Stark Films.

“Ons het van vyfuur soggens tot sesuur saans geskiet. En ek moes hééltyd huil en bang wees,” vertel Ilne.  

“In die storielyn is dit veronderstel om warmer as 40 grade Celsius te wees, maar by ons op die plaas was dit bitter koud. Die koue het my darem gehelp met die emosie van bang – dit het my laat bewe!” skerts Ilne. 

Foto verskaf: Stark Films.
Foto verskaf: Stark Films.

“Ek het in daardie vyf weke ontsettend baie geleer, van toneelspeel en van mense. Ek sal dit enige dag weer doen as ek kon. Ek hoop die kykers geniet die storielyn so baie soos wat ons dit geniet het om dit te skiet. 

Foto verskaf: Stark Films.
Foto verskaf: Stark Films.

“In Elana se tyd daar het sy agterkom sy is sterker as wat sy self gedink het. Haar lewe het vir haar sin gemaak omdat sy iets kon doen om mense te help.

“Sy het vriendskappe gebou met die dokters in die Kongo en Elana en Steve het ook nader aan mekaar gekom.”