Die deelnemers wat op ’n afgeleë eilandgroep in El Nido in die Fillippyne aan onmenslike hitte, honger en insekte uitgelewer word, is toegewyde volgelinge van die reeks en vertroud met die geskiedenis daarvan. Hulle weet nie net hoe om die hongerpyne te trotseer nie; hulle beraam ook heeltyd planne en strategieë om ’n treetjie voor hul teenstanders te bly. 

En nou kan ons eksklusief die name bekendmaak van die deelnemers wat dié moordendende uitdaging gaan aanpak. 

Onder hulle is ’n pastoor, dokter, grafiese ontwerper, radio-omroeper, spysenier en natuurlik ’n dwarstrekker of twee wat vir vonke gaan sorg.

WERNER JOUBERT

Werner Joubert

OUDERDOM: 34

BEROEP: PASTOOR EN GEKWALIFISEERDE BIOKENETIKUS

VAN: SECUNDA, MPUMALANGA

Hy het reeds in 2013 die eerste keer vir Survivor ingeskryf, maar dit toe nie deurgemaak tot by die finale ronde nie.

“Ek speel al die afgelope vier jaar die spel in my kop. Ek hou daarvan om van alles ’n speletjie te maak en my lewensfilosofie is: The more, the merrier.”

Die item wat hy eerste ingepak het, is ’n onderbroek wat hom nie sal skaaf nie.

En sy strategie? “Om onsigbaar te wees in die begin en saam met die stroom te vloei, maar om op die regte tyd vorentoe te tree en die stuur te vat. 

“Die waarheid is dat ek eintlik ’n leier is, maar ek wil dit so lank moontlik versteek.” 

Hy het bitter moeilik van sy seun, Kaeleb (4), afskeid geneem. 

“Hy het nie verstaan waarom ek weg was nie, en dit was baie moeilik vir my.”

TEVIN NAIDU

Tevin Naidu

OUDERDOM: 24

BEROEP: DOKTER

VAN: CLARE HILLS, DURBAN

Maak gereed om ’n speler te sien wat baie gaan lieg. 

“Ek wou pret hê en speel soos die Survivor-booswigte wie se spel ek so geniet om te kyk. Ek gaan voluit.”

Geen wonder dat hy heel eerste ’n swart frokkie ingepak het nie, geïnspireer deur die berugte Rob Mariano, oftewel Boston Rob. Dis sy gunsteling Survivor-booswig. Bob het al voorheen die werklikheidsreeks gewen.

Ter voorbereiding het hy gedoen “wat ek altyd vir pret doen. Ek lees oor die menslike brein, verstand en manier hoe mense dink, optree en reageer. Survivor gaan oor mense, en ek wou meer oor hulle leer.”

Hy meen “die gemiddelde mens lieg tot tien keer per dag”. “Dit wissel van witleun tot meer waaghalsige en misleidende leuens.”

Hy beskou homself as ’n driedubbele bedreiging omdat hy die sosiale, fisiese en strategiese kant van die spel onder die knie het.

Gedurende sy tyd op die eiland het hy die internet die meeste gemis.

ACE CHETTY

Ace Chetty

OUDERDOM: 28

BEROEP: GRAFIESE ONTWERPER

VAN: KEMPTON PARK, GAUTENG

Om vir die kompetisie voor te berei, het hy drie dae lank saam met sewe ander hoopvolles wat aan Survivor SA wou deelneem, uitdagings op ’n aanplakbord gedoen. En met sy sterk uithouvermoë is hy eindelik gekies as die een wat op die eiland kon oorleef. 

Hy vertel hy het net die noodsaaklikhede ingepak.

“Ek was reg om te oorleef.”

Terwyl hy op die eiland was, het hy die meeste verlang na sy familie en ’n kaashamburger.

Hy is ’n ou wat ’n mens altyd aan die raai hou; daarom is sy strategie “om nie voorspelbaar te wees nie en ‘die goeie ou’ te bly”. 

Sy achilleshiel is dat hy “te goedhartig is en altyd gewillig is om ander te help”.

En sy sterkpunt? “My vermoë om mense te oorreed oor idees en planne.”

ANNALIZE SAINSBURY

Annalize Sainsbury

OUDERDOM: 44

BEROEP: SPYSENIER

VAN: CLAREMONT, KAAPSTAD

Dié ma van twee dogters was vasbeslote om haar lewensfilosofie – “every day needs to be a great day” – uit te leef.

“Ek maak die beste van elke situasie.” 

Sy meen sommige deelnemers mag dalk dink sy kan te vriendelik en soms te veeleisend wees. 

Sy het heel eerste haar goue bikini ingepak.

Op die eiland het sy veral verlang na sjampoe en ’n yskoue gin & tonic.

In die paar dae voor sy na die eiland moes vertrek, het sy veral die tyd saam met haar man, Paul (46), en twee dogters, Jemma (13) en Mia (11), gekoester. 

Sy meen sy het die vermoë om mense goed te lees. “Dit help met die sosiale aspek van die spel. Ek het seker gemaak om die oomblik te koester en die skoonheid om ons te omhels – ongeag wat tussen ons gebeur het.”

CHANE MYNHARDT

Chane Mynardt

OUDERDOM: 28

BEROEP: ADMINISTRATIEWEKLERK

VAN: RAYTON, BLOEMFONTEIN

Sy is dalk ’n girly-girl wat van pamperlangdinge hou, maar moenie dink sy is bang vir vuil word nie.

“Ek is immers ’n boeremeisie in my hart”

Sy beskryf haarself as ’n sosiale vlinder wat maklik vriendskappe met haar mededeelnemers gaan vorm. 

Haar strategie was om as die hulpelose blondine voor te kom en haarself te omring deur die spelers wat fisiek sterk was. 

Om voor te berei vir die spel het sy baie YouTube-video’s gekyk wat raad gee oor, byvoorbeeld, hoe om ’n kokosneut oop te maak. 

Die item wat saam met haar na die eiland moes gaan, was ’n paar oorbelle.

“Ek dra altyd oorbelle en voel asof dit my wapenrusting vir die dag is.”

Op die eiland het sy haar man, Christian (31) “meer as die meeste kos gemis. Maar dit was ’n close call,” bieg sy.

PALESA TAU

Palesa Tau

OUDERDOM: 28

BEROEP: RADIO-OMROEPER

VAN: KAGISO, JOHANNESBURG

Sy is die vriendin wat jy aan jou kant soek, maar ook die vyand wat jy nooit wil ken nie, vertel die ma van ’n 11-jarige seun, Lwazi. “Ek is uiters mededingend.”

Sy vertel haar oorredingsvermoë is haar sterk punt en waarborg dat kykers dramatiese stappe van haar kan verwag. 

Haar strategie was om van meet af aan ’n sterk alliansie te vorm, die stemproses te domineer en uitdagings te wen.

Sy beskryf haarself as ’n alfawyfie, maar meen dit maak haar ook ’n teiken.

JEANNE MICHEL

Jeanne Michel

OUDERDOM: 35

BEROEP: RADIOVERVAARDIGER

VAN: ZONNEBLOEM, KAAPSTAD

Om haarself vir die spel voor te berei, het sy geleer om vuur te maak met vuursteen, kokosneute geëet, aanlyn legkaarte voltooi en in haar slaapkamer op die vloer geslaap om gewoond te raak aan ’n ongemaklike nagrus. 

“Ek is ’n slaafse Survivor-aanhanger. Ek ken en respekteer die spel.”

Sy het nie ’n spesifieke strategie gehad nie. “Dit het ontwikkel soos wat ek die mense ontmoet het en die spel ontvou het.”

Sy meen haar uitgesproke aard kan dalk haar mededeelnemers verkeerd opvryf. 

“Ek hou daarvan om die skoene van die klashanswors vol te staan, wat miskien mense kan irriteer.”

VUSI G. MAFULELA

Vusi G Mafulela

OUDERDOM: 35

BEROEP: LOGISTIEKE BESTUURDER

VAN: DOUGLASDALE, JOHANNESBURG

Hy vat nie nonsens nie en het geen tyd vir mense wat vals is nie.

Sy strategie was “om die alfamanne genoeg tou te gee om hulself op te hang en om noodsaaklik te wees vir my stam”.

Toe hy hoor hy is op pad is na die eiland, het “ek baie geswem en al die kos geëet wat ek geweet het ek vir ’n lang tyd nie gaan sien nie”. 

En wat is sy sterk punte? “My vermoë om te luister, my brute krag, spoed en skerp verstand.”

Hy het die meeste verlang na sy vrou, Althea Celia (35), en sy seun, Luke Vusi (2), en dink hy het dalk sy mededeelnemers geïrriteer met sy verlange na whiskey en grondboontjiebotter.

MARTHUNIS OOSTHUIZEN

MARTHUNIS OOSTHUIZEN

OUDERDOM: 29

BEROEP: BELEGGINGSADVISEUR

VAN: HILLCREST, DURBAN

Hy draai nie doekies om nie, is eerlik en het heel eerste sy Bybel ingepak.  

“Ek vang mense dalk aan die begin onkant, maar groei op hulle.”

Hy het as deel van sy voorbereiding gewig aangesit.

Sy strategie was om sterk te speel, maar nie die middelpunt van die aandag te wees nie. 

Die moeilikste, sê hy, was die ledige ure op die eiland.

KATINKA OOSTHUIZEN

Katinka Oosthuizen

OUDERDOM: 19

BEROEP: INVLOEDSBEMARKER IN DIE SOSIALE MEDIA

VAN: MOSSELBAAI

Sy is die baba onder die deelnemers, en meen die partytjie het begin die oomblik toe “Katinka die Kat”, soos sy bekend staan, op die eiland opgedaag het.

Haar strategie was om laag te lê en dan met ’n slag in te tree as die tyd reg is. 

Sy het ter voorbereiding gaan rekspring om haarself op dié manier uit haar gemaksone te dwing en ook na YouTube-video’s gekyk oor hoe om ’n skuiling te bou.

Sy het koffie die meeste gemis en heel eerste haar kontaklense ingepak.

En wat van haar persoonlikheid het dalk die ander deelnemers verkeerd opgevryf? “My onverbiddelike optimisme en onvermoë om altyd ’n geheim te hou.” 

MURISHCA MARTHEZE

Murishca Martheze

OUDERDOM: 34

BEROEP: BEMARKINGSBESTUURDER

VAN: PLUMSTEAD, KAAPSTAD

Sy is vasbeslote om met haar deelname aan Survivor te wys dat daar geen grense is nie en dat sy veel meer as ’n ma en eggenoot is. 

“Ek is ’n kreatiewe persoon wat middelmatigheid verpes en streef daarna om ’n dapper lewe te leef.”

Sy het as deel van haar voorbereiding geswem, haar inname van kafeïne en suiker beperk en baie gebid.

Sy meen haar stil geaardheid is haar grootste vyand “omdat dit dalk kan voorkom as ’n gebrek aan ’n begeerte om deel te neem”.

NEIL VOLLER

Neil Voller

OUDERDOM: 55 

BEROEP: UITVOERENDE HOOF: MENSLIKE HULPBRONNE 

VAN: EDENVALE, JOHANNESBURG

Al is hy die oudste deelnemer, is hy fiks en vol energie. Dink maar aan enige strawwe sportgeleentheid in Suid-Afrika en hy het dit al aangedurf – van die Dusi-kanoewedvaart tot die Midmar-oopwaterswemgeleentheid en Ystermankompetisie. 

Hy is altyd op die uitkyk vir nuwe avontuur, soos om te bungee en het al die Camino aangedurf. 

Sy strategie was doelgerig: “Om my sterk punte te onderspeel en nie te vinnig ’n teiken te wees nie.”

“Ek wou voorkom soos die ouer, meer beskeie speler.”

Hy beskryf homself as ’n sterk spanspeler wat geen nonsens vat nie. 

“Ek is uitgesproke en nie bang om besluite te maak terwyl ander mense besluiteloos is nie.”

SEAMUS HOLMES

Seamus Holmes

OUDERDOM: 25

BEROEP: EIENDOMSMAKELAAR

VAN: HILLCREST, DURBAN

Hy is ’n slaafse Survivor-aanhanger en het na die eiland gegaan met ’n sterk strategie.

“Ek was nie daar om rond te speel nie.”

Hy wou chaos skep omdat hy aanvaar het die ander deelnemers gaan ook hard speel.

Ter voorbereiding het hy sy fiksheid opgeskerp en probeer om met minder slaap klaar te kom.

“Ek is nie baie sentimenteel nie, so daar was nie regtig iets waarna ek verlang het nie.”

PHEKO PHETOE

Pheko Phetoe

OUDERDOM: 28

BEROEP: MYNTEGNIKUS

VAN: RASLOUW, CENTURION

Sy strategie was om soos ’n leeu te wees: die prooi te bekruip, in die agtergrond in te smelt, trots en kragtig te wees en aan die bopunt van die voedselketting te pronk. 

Ter voorbereiding het hy hard geoefen en daaraan gewerk om te leer vuurmaak sonder vuurhoutjies. 

Hy vertel sy analitiese vaardighede is sy sterkste punt, maar hy is ook geneig om dinge te oordink. 

Die item wat hy eerste ingepak het, was ’n Suid-Afrikaanse vlag. 

Gedurende die spel het hy verlang na sy familie, kos en vrede.

STACEY-LEE VALENTYN

Stacey-lee Valentine

OUDERDOM: 27

BEROEP: SAKEANALIS

VAN: WOODSTOCK, KAAPSTAD

Sy lyk dalk taai aan die buitekant, “maar ek is regtig sag aan die binnekant”.

Die afsondering was vir haar die senutergendste. 

Ter voorbereiding het sy meer gereeld kerk toe gegaan. 

Sy het veral haar geliefdes gemis en heel eerste briewe en foto’s van hulle ingepak.

En haar sterkpunt? “My fisieke krag en vermoë om onder druk kalm te bly.”

Haar strategie was om die stemsessies te vermy.

TOM SWARTZ

Tom Swartz

OUDERDOM: 41

BEROEP: BESTUURDER BY ’N AVONTUURKAMP

VAN: FOREST HILL, PORT ELIZABETH

Hy gaan nêrens sonder sy hoed, word gekenmerk aan sy baard en hou van die klank van sy eie stem. 

“Ek is baie luidrugtig. As ek nie van jou hou nie, sal jy daarvan weet.”

Met sy agtergond in die buitelewe was sy strategie om te voorsien.

“Ek het grootgeword in die gramadoelas en woon in die gramadoelas.”

Hy is nie ’n ou vir tierlantyntjies nie, sy emosies is sy grootste vyand en hy is soms sensitief. 

“Ek neem dikwels mense se bedoelings verkeerd op.”

Benewens sy familie het hy verlang na iemand wat hy in sy vertroue kon neem. “Jy kan niemand in Survivor vertrou nie.” 

JOSIE EVELEIGH

JOSIE EVELEIGH

OUDERDOM: 28

BEROEP: REISSKRYWER

VAN: SOMERSET-WES

Al het sy vooraf probeer gereedmaak vir die spel, kon niks haar voorberei op die ontberings op die eiland nie. 

“Ongeag my strategie, verloop dinge op Survivor nooit volgens plan nie, so kykers kan die onvoorspelbare van my verwag.” 

Vir haar was dit die belangrikste om nie te veel aandag te trek nie. 

Sy bieg dat sy daarvan hou as dinge op haar manier gebeur en dat dit dalk baasspelerig en afsydig vir die ander deelnemers kon voorkom.

Sy het sjokolade die meeste gemis.

TONI TEBBUTT

Toni Tebbutt

OUDERDOM: 38

BEROEP: INHOUDSONTWIKKELAAR

VAN: FOURWAYS, JOHANNESBURG

Strategiese denke, ’n paar wit leuens, uitbarstings oor emosies wat oorloop, verspotheid, trane en ’n hele paar oogrol-oomblikke. Dis wat kykers van haar kan verwag.

Sy vertel sy is passievol en energiek oor alles wat sy aandurf, beskik oor sterk sosiale vaardighede en ’n stoute sin vir humor, dra haar hart op haar mou en het nie ’n filter nie. “Ek hou nie altyd terug nie.”

Sy het haar man, Michael, hulle twee katte, Coco en Dobby, rooivleis en ’n kussing die meeste gemis. 

Survivor SA: Philippines begin op 3 Mei om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101)