Toe die plaasseun van Prieska in die Noord-Kaap op ’n dag aankondig hy wil sy slag met koek bak voor die TV-kameras wys, het sy ouers glad nie sy geesdrif gedeel nie.

Want hoewel Wicus van Deventer (12) ’n slimkop en kranige sportman is, was hy ’n onervare bakker.

“Ons wou hom teen die nagevolge beskerm as hy nie goed genoeg sou wees nie,” gesels pa PG op die familieplaas, Alicedale, waar hy met dorperskape boer.

Maar toe verstom Wicus sy ouers, die beoordelaars, TV-kykers en homself en word onlangs as die heel eerste Koekedoortjie in dié kykNET-bakkompetisie vir kinders gekroon.

Hy het self vroeg in die reeks gedink hy gaan die trekpas kry toe die beoordelaars, Mari-Louis Guy en Nic van Wyk, nie met sy sneeupiekkoek beïndruk was nie, erken hy. Maar toe begin hy in die sesde episode wen.

Anders as die ander nege finaliste het Wicus, ’n gr. 7-leerder aan die Gekombineerde Skool Prieska, eintlik bitter min ervaring in die kombuis.

Twee jaar gelede het sy ouma Annelie vir hom ’n brood-resep gegee, wat hy op sy eie gebak het. Daarna het die gogga gebyt en het hy met basiese koek bak begin.

Eers wou sy ouers nie hê hy, as taamlik onervare bakker, moet vir Koekedoortjie inskryf nie, maar twee weke voor die sluitingsdatum het hulle bes gegee.

Uitdunrondes is oor die land heen gehou om 10 finaliste uit die 300 inskrywings te kies.

Op pad na Bloemfontein, waar Wicus deelgeneem het, het sy ma, Nini, gebid hy haal darem die top-10. Hy het toe inderdaad, en as finalis kon hy een volwassene na die Koekedoortjiestel saamneem. Wicus het op sy ma besluit.

“Kyk, as jy my saamneem, is jy in jou kanon,” het sy gewaarsku. Nini, ’n gr. 1-onderwyseres en adjunkhoof van die Laerskool JJ Dreyer in Prieska, erken sy is geen bobaasbakster nie.

My kind, nou moet ons begin leer om te bak.

Maar Wicus stry: “Ag, sy jok soms; sy is eintlik baie kreatief in die kombuis.”

’n Maand voor hul vertrek na Kaapstad, waar die reeks verlede September verfilm is, het Nini vir hom gesê: “My kind, nou moet ons begin leer om te bak.”

Hulle het die fynere kunsies van kreatiewe bak vinnig aangeleer deur onder meer na YouTube-video’s te kyk.

Tydens die eerste ronde van die kompetisie het Nini weer “vir die kind gebid hy val tog net nie eerste uit nie”.

Hy het nie, maar toe “gebeur daardie rampspoedige sneeupiekkoek in die tweede episode”, sê Wicus en trek sy oë dramaties op sy kenmerkende manier. Hy het die amandelmeel te vroeg bygevoeg en die beoordelaars het neus opgetrek vir die koek.

“Ek was reg om huis toe te gaan,” bieg hy. Maar hoe verder die Karooseun in die kompetisie gevorder het, hoe meer selfvertroue het hy gekry.

Al is hy nou die land se bobaastienerbakker, dink Wicus nie hy wil dalk eendag sy brood in die kombuis verdien nie.

Hy wil ’n aktuaris word, want “ek is baie goed met somme doen”, verduidelik die spontane seun wat diep in TV-kykers se hart ingekruip het.

Dié uitblinkertjie het ook al aan die Suid-Afrikaanse swemkampioenskapsbyeenkoms deelgeneem, is in die Vrystaat se junior gholfspan en draf as haker vir die Griekwa Bokkie-rugbyspan uit.

Wicus saam met sy ouers, PG en Nini, en sus Héloise. Ouboet Franco is nie op die foto nie. Foto: Dino Codevilla.

In Oktober gaan die gesin – ouboet Franco (15) en kleinsus Héloise (8) inkluis – op ’n week lange vakansie na die woestynstad Aboe Dhabi, een van die Koekedoortjie-wenner se vele pryse.

Nini onthou toe hulle verlede jaar op die vliegtuig klim om Kaapstad toe te vlieg vir die kompetisie, het Wicus aan haar gestamp. Dit was toe dat hy sê: “Mamma, kom ons gaan wen dié ding.