Erns weer elders

Benewens die pelgrimstogte in Japan, die Kumano Kodo en Nakasendo, is rugby die ander groot aanknopingspunt waarop Erns (39) fokus in die nuwe kykNET-reisreeks Elders: Japan.

Vir die skietwerk het hy en ’n klein kameraspan einde verlede jaar vyf weke lank deur die eilandstaat gereis.

Op die Kumano Kodo-pelgrims­tog in Japan. Foto: Ro
Op die Kumano Kodo-pelgrims­tog in Japan. Foto: Roxanne Ferreira

“Die reeks fokus op pelgrimstogte, die Wêreldbekerrugbytoernooi wat in September begin en Japan se wonderlike kos, kultuur, mense en andersheid,” sê Erns, wat voorheen Elders: Die Camino aangebied het.

“Dit was een van die betekenisvolste ervarings van my lewe. Die stede en hipermoderne tegnologie is oorweldigend. Die platteland het weer ’n verruklike natuurskoon. Die mense is hoflik en vriendelik. Dit het vir my die naaste gevoel aan wat ek as Westerling in hierdie lewe aan ’n er­­varing op ’n ander planeet gaan kom.”

Hy is ook besig om sy ervarings neer te pen vir sy boek Sushi en Shosholoza, wat in September uitgereik word.

Nuuskierige skerpioen

Erns is in Port Elizabeth gebore en het op Uitenhage in die Oos-Kaap grootgeword, waar hy aan die Laerskool Handhaaf en Hoërskool Brandwag was.

Sy pa, André (66), is ’n oudonderwyser en opvoedkundige sielkundige; sy ma, Winnie (66), ’n musiekonderwyseres. Hy het ’n tweelingbroer-en-suster (31): Winand, ’n pianis en orrelis, en Charlotte, ’n sjef.

Dink hy vandag terug aan sy jonger self, onthou hy “ ’n linkshandige Skerpioen . . . nuuskierig, geesdriftig, lief vir lag, grappies en dikwels aandag­afleibaar. Ek het gesukkel om nee te sê en sou altyd te veel dinge gelyk probeer aanpak.

“Ek was ’n nerd wat kon rugby speel en lief was vir dagdroom. Min hiervan het intussen verander.

“My st.1-juffrou het eenkeer ’n opstel wat ek oor vla geskryf het voor die klas opgefrommel en woedend gesê: ‘Moenie jou André P. Brink-maniere in my klas kom uithaal nie!’

“Ek was ontsteld daaroor, maar het later besef dit was ’n enorme kompliment. Ek het die staaltjie jare later vir André vertel en hy het dit vreeslik geniet.”

Hy was hoofseun.

“Maar ek dink nie ek was ’n tipiese hoofseun nie. Ek het pousetyd eerder met die rokers agter die B-veld se paviljoen gesels as om hulle kantoor toe te sleep. Hul stories was interessanter as om hulle te straf,” bieg Erns, wat in 2002 ’n joernalistiekgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

“Ek was wel treurig wanneer dit by meisies gekom het. Ek was dikwels verlief, maar skamerig en lomp.”

Van woordsmid tot die kassie

Ná amper 10 jaar as reisjoernalis by Weg! het Erns einde 2017 as vryskutjoernalis begin werk.

“Ek is sedertdien my eie streng baas. My werkure is divers en opwindend, maar admin en spertye is ’n lewenslange stryd.”

Sy eerste TV-ervaring was in 2011 toe hy saam met Le Roux Schoeman (redakteur van Kerkbode) deelgeneem het aan die kykNET-reeks Fortuin­soekers: Die Krugermiljoene.

In 2016 en ’17 het hy saam met die Weg!-joernalis Toast Coetzer die eerste twee seisoene van Weg! Agter­paaie op VIA aangebied.

Sy topverkoperboek, Elders, oor sy 1 025 km te voet op die Caminopelgrimstog in 2015 in Spanje was die inspirasie vir Elders: Die Camino, ’n dokumentêre reeks wat verlede jaar uitgesaai is.

Sy topverkoperboek, Elders, oor sy 1 025 km te voe
Sy topverkoperboek, Elders, oor sy 1 025 km te voet op die Caminopelgrimstog in 2015 in Spanje was die inspirasie vir Elders: Die Camino. Foto: takealot.com
Beskikbaar by takealot.com

Hiervoor het hy in 2017 saam met ’n kameraspan teruggekeer na Spanje en 350 km te voet afgelê.

Hy het verlede jaar saam met die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout as skrywer, medewerker en uitvoerende vervaardiger aan die satiriese kykNET-nuusprogram, Die Ware Naarheid, begin werk. Die skrywers Bibi Slippers en Piet Matipa is deel van die span.

“Ons verfilm nou die tweede seisoen. Dit is opwindend om betrokke te wees by die eerste Afrikaanse satiriese nuusprogram in die styl van bekende oorsese programme soos The Daily Show with Trevor Noah en Last Week Tonight with John Oliver.

“Daar is beslis ruimte vir so ’n reeks waar ons ’n bietjie die grense kan uitdaag en op ’n tong-in-die-kies manier na daaglikse nuusgebeure kyk.

“Ons leuse is: ‘Dis ’n show met jokes dié . . . Die show is nie ’n joke nie.’ Ons doen noukeurig navorsing, en die nuus waaroor ons berig, moet geloofwaardig wees.”

Samewerking met ’n lag

Hy het Schalk die eerste keer in 2015 op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn sien optree.

“Sy stand-up was vir my vars en skreeu­snaaks. Ek het hom daarna bespreek vir ’n vriend van my se rampartytjie. Ons het ná die vertoning in die parkeerterrein gesels en besluit om ’n paar komedieavonture aan te pak. Ons werk al langer as drie jaar saam, en deesdae is ek ook bestuurder en vervaardiger van sy Afrikaanse stand-up.”

Hulle het ook saam die boek Truitjie Roer My Nie (2018) oor Schalk se lewe en hul komedieavonture uitgereik.

Erns tuis

Erns en sy meisie, Catherien Robbertze, saam met h
Erns en sy meisie, Catherien Robbertze, saam met hul honde, Mika en Suki. Foto: Johannes Robbertze

Hy en sy meisie, Catharien Robbertze (34), woon saam met hul twee honde, Suki en Mika, in Brooklyn, Kaapstad.

“Ek probeer maar meestal in my vrye tyd slaap inhaal. Maar ek geniet dit die meeste om op die rusbank saam met Catharien en ons honde te sit en TV kyk.”

Erns se gunstelinge

Plaaslike plek

Ek is baie lief vir Sutherland in die Karoo. Ek en Catharien het daar ’n erf op die rand van die dorp gekoop, met ’n uitsig op die Karoovlaktes.

Land

Namibië is vir my baie spesiaal: die onpeilbare vistas, die woestyn en wildlewe, die spasie, die ruimhartige mense.

Gereg

Catharien maak ’n bobaas-beesvleisbredie, veral in die winter. Ek is ook mal oor soesji.

Plaaslike sanger

Ek luister die afgelope tyd  baie na die ontslape sanger Piet Botha se musiek, veral sy eerste Afrikaanse album, Suitcase Vol Winter.

Album

Ek kan Leonard Cohen se destydse Ten New Songs-album herhalend luister al die pad van Kaapstad na Windhoek (en terug).

Moet-hê-reisitems

My paspoort, tandeborsel, selfoonlaaier, ligte reënbaadjie en werk wat nie betyds klaar is nie.


Kitsfeite
  • Ek wou as kind geen groen kos eet nie – deesdae is avo en broccoli vir my heerlik.
  • Shakira is my celebrity crush.
  • Ná vyf weke in ­Japan is ek steeds uiters onhandig met chopsticks.
  • Ek wil nog eendag die Comrades hardloop.  
  • Ek vind joga en meditasie wonderlik, maar doen dit gans te min.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.