Emma is die afgelope paar dae weer terug in die Laan. Maar die rol wat deur die aktrise Bertha Le Roux vertolk word, is ver verwyder van hoe ons die geliefde karakter destyds leer ken het.

Ons sien haar nou as Miems, ’n tronkleier, wat haar medegevangenes en selfs die tronkbewaarders met ’n ysterhand regeer. 

Bertha het dit geweldig geniet om Miems te speel. “Die een oomblik is sy vriendelik en die volgende oomblik dreig sy mense links en regs. Dit was lekker om daardie oorgang te kon maak,” vertel Bertha oor die ervaring. 

Dis vanjaar vier jaar sedert Emma skuldig bevind is aan moord op haar jaloerse en geestesversteurde man, Rick (Darren Kelfkens). 

“Die lewe in die tronk het haar hard gemaak,” vertel Bertha oor die nuwe masker wat Emma dra. “In die tronk moet jy heeltyd op jou hoede wees, want jy weet nie regtig wie jy kan vertrou nie. Emma het die persona van Miems aangeneem en haar magsposisie help haar om agter tralies te oorleef.”

Sy meen as kykers mooi kyk, sal hulle Emma nog agter die masker raaksien, veral as sy alleen met Bonita (Hildegardt Whites) gesels.

Emma het reeds in 2015 alle bande met die Hillsiders verbreek. Dis net Bonita wat haar van haar dae in die Laan onthou. Die ander gevangenes, Vivian (Vinette Ebrahim), Amanda (Carina Nel), Natalie (Daniella Deysel) en Mariaan (Deirdre Wolhuter), het haar nooit as die geliefde Emma leer ken nie. Hulle ken haar net as Miems, wat dit regkry om dinge in die tronk te laat gebeur. Selfs die tronkbewaarder Liefie (Martelize Kolver) is aan die ontvangkant van haar genadelose optrede.

Dit was vir Bertha ’n groot hoogtepunt om weer haar 7de Laan-familie te sien. 

“Dis veral lekker met Quinne Brown (Connie) wat terug is. Hoewel ons nie tonele saam gehad het nie, het ek haar op die stel gesien. Ek het dit geniet om weer teenoor Hildegardt en Vinette te speel en saam met al die tegniese mense te werk. Daar is ook baie nuwe mense en dit was lekker om hulle te leer ken.”

Kykers gaan haar sowat drie weke op die kassie sien. Die dramatiese tronkstorielyn speel oor 12 episodes af en is binne ’n week verfilm. Nuwe stelle is vir die verfilming hiervan gebou.

Bertha sê sy was soggens vroeg op die stel en het eers saans tuisgekom. “Dit was harde werk, maar ek het dit baie geniet. “

Sal ons haar ooit weer permanent in die Laan sien? 

Never say never,” sê Bertha, die ma van twee dogters, Kiana (10) en Brioné (7). “7de Laan is my familie, maar ek het dit ook geniet om die afgelope paar jaar my vlerke te sprei en uiteenlopende rolle te vertolk.”

Sy het in 2016 die hoofrol vertolk in die rolprent O Vet!, wat nog uitgereik moet word. In dieselfde jaar het sy swierige danspassies in die VIA-werklikheidprogram Nou of Nooit geleer.

Elke Donderdagoggend skuif sy agter die mikrofoon in by Radiokansel as aanbieder van die program Vreugde & Joy. Tussendeur lewer sy motiveringspraatjies by skole en kerke. 

Boonop is sy later vanjaar op die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom by die intieme teater-ervaring DEURnis se toneelstuk, Rou, betrokke.