Die Laan se kykers is in vir ’n paar skokke met die nuwe vegklubstorielyn op 7de Laan. Dié gewaagde een kom ná die gewilde tronknarratief, wat die sepie onlangs gehad het.

Die nuwe storielyn gaan oor 'n ondergrondse vegklub waarby Justin (Dann-Jaques Mouton), Rickus (Andre Lotter) en Willem (Markus Haywood) betrokke raak.

Willem plaas ’n weddenskap op die vegters om geld te wen, maar het geen idee dat Rickus een van die mense agter die masker is nie.

Rickus word 'n vegter in die klub en raak behep met die sport. Justin werf vegters en beleggers vir die klub. Hy verdien geld vir die mense wat hy betrokke maak by die klub.

Rosa-Mari Erasmus, 7de Laan se publisiteitsbeampte, sê ’n choreograaf is ingekry om die akteurs te leer hoe om op ’n veilige manier die gevegstonele te doen.

“Sodat niemand tydens verfilming beseer word nie. Ons maak seker dat dit ’n baie veilige omgewing is en dat almal reg opgelei word voor verfilm word,” sê sy. 

Kykers het gemengde reaksie oor die vegklub-storielyn. 

Een kyker in die sosiale media skryf: “Hierdie Willem-ding is dalk ’n bietjie te rof vir 7de Laan en kinders wat 7de Laan altyd geniet het. Eers die tronk en nou die?” 

’n Ander kyker skryf: “Goeie episode, 7de Laan, baie geluk!” 

“7de Laan is vir die eerste keer ooit onvoorspelbaar en ek kan dit nie een aand misloop nie,” skryf ’n ander kyker op Instagram.

“Die storielyn maak van ons kykers baie opgewonde en ander voel dit is te dramaties en onrealisties,” sê Rosa-Mari.

“Ons doel is om die kykers vasgenael te hou voor die kassie, en dit is presies wat hierdie storielyn sal doen.”

Agter die skerms tydens verfilming van die vegklub-tonele. Foto: 7de Laan

7de Laan het hierop besluit nadat Rickus se lewe onverwagse uitdagings gebied het, sê Jo-Ann Scholtz, 7de Laan se storielynredigeerder. “Ná sy kanker en probleme in sy verhouding met Olivia, het hy na ’n uitlaatklep gesoek. Dis nie ongewoon vir ’n sportiewe man om fisieke ontlading te soek nie,” sê sy.

“Ongelukkig het Rickus die omvang van die vegklub onderskat en dit het hom verder in ’n deurmekaarspul gedompel,” sê Jo-Ann. 

Sy sê dié vegklubstorielyn is nog ’n voorbeeld van watter groot rol geweld in ons samelewing speel.

“Die uitwerking is enorm en die gevolge verreikend. Daar is ander maniere om met die lewe se opdraande om te gaan,” sê Jo-Ann. 

Rosa-Mari wil nie te veel verklap oor wat in komende episodes sal gebeur nie, maar beloof dat baie drama nog voorlê.

“Rickus raak behep met die nuwe sport, Willem dobbel miljoene op sy gunstelingvegter en Justin steek ’n groot geheim weg. Moenie dit misloop nie!”

  • 7de Laan is vanjaar vir een Tempo-toekenning benoem. Stem nou vir jou gunsteling-sterre en jy staan 'n kans om 'n vet kontantprys, twee
    vakansies en 'n R3 500-koopbewys te wen.