1. Die nuwe kykNET-reeks gaan oor die regsfirma en familieonderneming Van Wyk & Vennote in Kaapstad.

Die Van Wyk-familie word deur talle bekende akteurs gespeel.

Chris van Niekerk, beter bekend as 7de Laan se oom Francois, speel die patriarg, Hans van Wyk. Susanne Beyers speel sy vrou, René, en die rolle van hul tweelingkinders, Ben en Lara Kruger, word deur Neels van Jaarsveld en Tinarie van Wyk Loots vertolk.

2. Die reeks het hope drama. Een van Hans se vennote tree af en een van die firma se prokureurs kry die geleentheid om bevorder te word.

Gaan Hans sy regterhand, sy dogter, Lara, kies? Of gaan ’n ander prokureur, soos Corné Hanekom (Beer Adriaanse van Hotel-faam), binnekort ’n vennoot wees?

3. Neels se karakter, Ben, keer ná sewe jaar in Kenia sak en pak saam met sy twee kinders na sy ouerhuis terug. Maar dis nie ’n warm reünie nie.

Almal wonder: Hoekom is Ben terug? En gaan dié briljante prokureur weer by sy pa se praktyk aansluit en almal se ambisieuse planne in die wiele ry?

4. Die reeks kom uit die pen van Louis Pretorius en Albert Snyman, die mans agter die gewilde kykNET-reekse Die Boekklub en Die Boland Moorde. Dit is in vier maande en in noue samewerking met die regskonsultant Johann Viljoen geskryf.

Crystal vertolk die rol van ’n jong klerk. Foto: KykNET

5. Die reeks is in Kaapstad, in die Strand en op Somerset-Wes buite die Moederstad verfilm. ’n Leë kantoorruimte in Kaapstad is in die regsfirma se kantore omskep.

6. Die boekrakke in die reeks sal dalk vir kykNET-kykers bekend lyk; dis immers die einste rakke wat in die dramareeks Die Boekklub te sien was. Die kunsdepartement het dit net opgeknap.

Daarby is altesaam 1 100 boeke as dekor in die reeks gebruik.

7. Altesaam 86 akteurs wys gesig in Fynskrif. Benewens die hoofakteurs kan kykers uitsien na gasrolle deur bekende akteurs soos Paul du Toit, Chanelle de Jager en Roeline Daneel van Die Boekklub-faam en Milan Murray, wat onlangs in die dramareeks Waterfront te sien was.

Neels en Tinarie speel ’n tweeling. Foto: KykNET

8. Die Phil 101-aktrise Cintaine Schutte vertolk die rol van die ambisieuse Katrien Nienaber, die broodwinner in haar verhouding. Cintaine se kunstenaarkêrel word deur haar kêrel in regte lewe, die akteur Carel Nel, gespeel.

9. Edwin van der Walt, Gerhard in Sara Se Geheim, en Crystal-Donna Roberts, wat tans in die kykNET-komedie Mense Mense te sien is, vertolk die rolle van die twee jong klerke wat hulself in dié mededingende regswêreld moet bewys.

10. Kim Cloete, wat onlangs haar rol as Bronwyn Abrahams in die hospitaaldrama Binnelanders verlaat het, is in die rol van Anne Matthews te sien.

Haar passie vir familiereg en om mense te help deur buite die hof te skik lei gereeld tot konflik tussen haar en Hans. S B Fynskrif begin op Dinsdag 10 Julie om 20:00 op kykNET.