Ons sien haar deesdae as die vuurvreter-prokureur wat haar werk bo álles stel. Hy, daarenteen, was haar onseker kunstenaar-minnaar wat tog so gesmag het na net ’n bietjie erkenning en respek. En toe hy dit nie kry nie, verkul hy haar . . .

Maar die skyn kan bedrieg. Want weg van die kameras is Cintaine Schutte (31) en Carel Nel (33) baie anders as Katrien en Sam, hul karakters wie se verhouding in die kykNET-regsreeks Fynskrif onlangs op die rotse beland het.

Trouens, hulle is al jare lank verlief, in ’n verhouding en gelukkig saam. “Ons het respek vir mekaar en mekaar se loopbane,” vertel Carel oor hul verhouding van sewe jaar.

“Ek is Carel se grootste aanhanger en hy myne,” sê Cintaine. Min dinge is vir hulle so lekker soos om ’n dag saam met mekaar en hul kat, Lilly, af te sluit hier in hul gesellige woonstel in Tuine in die Kaapse stadskom.

Van die bekendes in Fynskrif is ­(agter, van links) Chris van ­Niekerk, Beer Adriaanse, Charlton-Lee ­George, Edwin van der Walt, Crystal-Don­na Roberts en (voor) Cin­taine, Kim Cloete, Tinarie van Wyk Loots en Neels van Jaarsveld. Foto: Instagram/@Instagram/@Cintaineschutte

“Ons gesels om te hoor hoe dit met mekaar se werk gaan, asook oor dinge buite die werk,” vertel Cintaine, wat ook Michellay in Die Kasteel op kykNET speel.

Fynskrif is nie die eerste produksie waarin hulle ’n paartjie speel nie. Die twee het mekaar ontmoet toe hulle in 2011 man en vrou in die toneelstuk Dream, Brother gespeel het.

Die stuk is onder meer na die Nasionale Kunstefees op Grahamstad, en tussen die getoer en optredes deur het die liefde geblom. “Ons het eintlik al lank voor Dream, Brother in dieselfde kringe beweeg, maar dit eers later besef,” sê Cintaine en lag.

Die eerste keer was toe sy nog ’n gr. 11- leerder aan die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria was en as deel van die ATKV-tienertoneelfees vir ’n optrede Bloemfontein toe is.

Carel was toe ’n tweedejaardramastudent aan die Universiteit van die Vrystaat en het die toneelstuk se beligting behartig. Eers jare later, met Dream, Brother, was daar op die planke ’n vonk tussen hulle. Dit was wonderlik om saam voor die kameras te speel, vertel hulle. “Dit was ’n heerlike verrassing toe ek uitvind hy het die rol van Sam in Fynskrif gekry,” sê Cintaine.

“Ek kan hom vertrou en hy laat my altyd veilig voel.” Carel geniet dit ewe veel om saam met sy donkerkopmeisie te werk. “Daar is altyd uit die staanspoor ’n gemaklikheid en verbintenis wat dit lekker maak.”

Fynskrif se Katrien is vir Cintaine een van haar lekkerste rolle.

Cintaine as Masja in Die Seemeeu. Foto: Marsche Media

“Omdat sy vir haar werk hard moet wees, is sy nie goed met emosies nie. Sam het haar eintlik gehelp deur haar te los.” Toe Katrien besef hul verhouding is wankelrig, het sy hom gevra om te trou.

Hy het haar aanbod van die hand gewys en gebieg dat hy haar verkul het. “Sam het haar laat besef sy kan nie so selfsugtig wees nie,” vertel Cintaine.

Kykers besef nou “sy het eintlik meer empatie as wat ’n mens eers gedink het”.

Albei se belangstelling in toneelspel het eers later in hul skooljare ontwikkel.

Carel was in gr. 11 aan Grey-kollege in Bloemfontein toe sy Engelsonderwyser ’n toneelkompetisie reël, en “toevallig wen ek toe die prys vir beste akteur”.

Die gogga het gebyt, maar hy het in 2003 in die regte aan Kovsies gaan studeer.

In dieselfde jaar is sy pa, prof. Kerneels Nel, wat in die 1980’s hoof van chirurgie aan Kovsies se mediese fakulteit was, aan ’n hartaanval oorlede.

“Ek en my ma, Delina (’n verpleegster), het gesels en besef die lewe is te kort om iets te doen wat jy nie regtig wil nie.”

In 2004 het hy drama begin studeer. Dit was vir hom nostalgies om verlede jaar as akteur in die operasiesaal te staan as die hartchirurg prof. Christiaan Barnard.

Carel as prof. Chris Barnard in Hartstog. Foto: Instagram/@Carel_Nel

“My pa het altyd gehoop een van ons vyf kinders word ’n dokter, maar nie een het nie,” sê Carel, ’n laatlammetjie met nege jaar.

Hy kon ’n stukkie van sy pa se droom uitleef toe hy met die 50-jaar-herdenking van die eerste suksesvolle hartoorplanting as prof. Barnard te sien was in die dokkiedrama Hartstog.

Die akteur Albert Pretorius was nie net op skool Cintaine se matriekafskeidmetgesel nie; hy het ook ’n invloed gehad op haar pad in die toneelwese.

Hy het in hul hoërskooljare dramaklasse by Shareen Swart in Pretoria geneem en sy het besluit om saam met hom te gaan.

Ná skool wou Cintaine soos baie van haar maats vir ’n brugjaar Londen toe gaan, maar Shareen het haar oorreed om drama te studeer. ’n Dramagraad aan Maties het gevolg, en later ’n honneursgraad in toneelspel aan Ikeys.

Haar ouers, Hesté, ’n praktykbestuurder by narkotiseurs, en Bernhard, ’n sakeman, ondersteun haar. “Hulle ry altyd na die naaste fees om my te sien optree.”

Sy speel juis in Oktober op die Aardklop-kunstefees in Nico Scheepers se drama Huishou teenoor Nadia Valvekens (voorheen Pippa in Binnelanders). Cintaine vervaardig ook die stuk.

Sy en Carel het albei destyds hul loopbaan begin deur by ’n teatergeselskap in die Wes-Kaap aan te sluit: sy by die groep Polony; hy by The Mechanicals. Albei geselskappe het intussen ontbind.

“Omdat ons in dieselfde bedryf werk en ’n mens nogal vasgevang kan word daarin, het ons ’n reël: Wanneer ons ’n dag afsluit, kan ons ’n bietjie oor werk gesels, maar daarna is kantoorure verby.

Cintaine sê wan­neer hulle ’n dag afsluit, kan hulle net hulself wees, sonder toneelspel. Foto: Corrie Hansen

Dan is ons nie bymekaar as aktrise Cintaine of akteur Carel nie,” sê Cintaine. In hul vrye tyd durf hulle graag staproetes aan, fliek of gaan vir ’n naweek saam met vriende weg. Dit werk vir hulle om in dieselfde bedryf te wees, sê Carel, wat in flieks soos The Salvation (2014) en Shepherds and Butchers (2016) gespeel het.

“Jy verstaan as die ander een weke lank oudisies aflê om werk te soek en die emosionele wipwarit wanneer werk skaars is. Jy het ook begrip vir hul vol program en lang ure wanneer die werk wel daar is.”

Nog ’n voordeel is dat hulle saam woorde kan instudeer. Toe Cintaine vroeër vanjaar met haar eerste eenvrouvertoning, Halfleeg, na kunstefeeste landwyd getoer het, het hy “seker 70 keer die storie saam met haar deurgegaan”, vertel Carel.

En toe sy vir ’n rol in die toneelstuk Hond Se Gedagtes moes rolskaats, het hy saam met haar na ’n park naby hul woonstel gegaan sodat sy kon oefen en “om my op te tel as ek dalk val”.

Cintaine is lief vir diere en kinders en het tussen die toneelspeel deur ook al as au pair en hondewandelaar gewerk. “Sy maak vriende oral waar sy gaan,” vertel Carel. “Almal is mal oor haar en sê altyd vir my hoe gelukkig ek is.”

En as jy eers vriende met hom maak, “is hy die lojaalste vriend wat jy sal kry”, koer Cintaine op haar beurt oor Carel.

Ons gesels met Carel en Cintaine aan die vooraand van die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai in die Kaap.

Hulle was in 2016 op die fees teenoor mekaar in die kortprent HUM te sien. Carel is vir sy spel daarin met die prys as beste akteur in ’n kortfliek bekroon.

Albei het ook ’n rol in ’n vollengtefliek waarvan die première op vanjaar se fees van 22 tot 25 Augustus te sien was. In Die Seemeeu (wat op 15 Maart volgende jaar in teaters uitgereik word) speel Cintaine die melodramatiese Masja, waarvoor sy in die gelyknamige verhoogstuk ’n Kanna (2015) en Fleur du Cap-prys (2016) vir beste vroulike byspeler gewen het.

Enkele dae ná ons onderhoud is sy ook op die Silwerskermfees as beste vroulike byspeler bekroon vir haar rol in dié drama. Carel is die hawelose Sparky in Dominee Tienie, gegrond op Dana Snyman se Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade. Dit word in Januarie uitgereik.

Tussen hul druk program en lang dae op die stel deur deel Cintaine en Carel huistake.

“Danksy die skottelgoedwasser wat Carel gekoop het, stry ons nooit oor wie moet opwas nie,” vertel Cintaine. “Ons het ook ’n ooreenkoms: Een oggend bring hy die koffie in die bed; die volgende oggend is dit my beurt.

As ons vergeet wie se beurt dit is, speel ons tjieng-tjong-tja, en dan verloor ek altyd!” Katrien se versoek op die kassie om met Sam te trou was onsuksesvol, maar kan ons dalk binnekort ’n verlowing in die werklike lewe verwag?

Carel lag geheimsinnig. “Dis vir ons om te weet en vir julle om uit te vind.”