Die prokureur Hamilton Wolfe (Kevin Smith) was onlangs verstom toe sy eksvrou, Olivia, in Arendsvlei opdaag. Dit nadat hy voorheen vir almal gesê het hy het sy vrou en dogter vroeër in ’n motorongeluk verloor. 

Sy verloofde, Beatrice Abrahams (Jolene Martin), kon haar oë nie glo nie en het baie vrae gehad oor hoekom Hamilton oor sy eks gelieg het. Beatrice het toe die verlowing verbreek, maar die twee is weer herenig en het intussen ook vrede gemaak met Olivia. 

Olivia, ’n sjef wat aanvanklik net in Arendsvlei was om haar oorlede dogter, Julia, se graf te kom besoek, is nou op die punt om haar resepteboek bekend te stel en Beatrice en Hamilton is ook na die bekendstelling genooi. 

View this post on Instagram

Olivia Wolfe...in lewende lywe #Arendsvlei??

A post shared by ARENDSVLEI (@arendsvlei) on

Kim, wat in Johannesburg woon, het reeds in November en Desember na Kaapstad gereis om haar tonele te verfilm. 

Die aktrise meen dis nie Olivia se doel om Beatrice en Hamilton se lewe te kom omverwerp nie. “Ek dink haar bedoeling was om vrede te maak vir haarself en miskien om dit vir Hamilton te gee, want hulle het in moeilike tye uitmekaar gegaan.” 

Maar of haar karakter enige drama in die komende weke gaan veroorsaak, wil sy nie verklap nie.

View this post on Instagram

No words... #Arendsvlei??

A post shared by ARENDSVLEI (@arendsvlei) on

Kim het dit geniet om op die Arendsvlei-stel te wees. “Dit was vir my regtig ’n groot plesier. Ek en Kevin stap nou al ’n lang pad saam; dus was dit baie nice om weer met hom saam te werk. In 2008 het ons saam aan die fliek Crime geskiet en ons het Isidingo saam gedoen.” 

“Dit was vir my ’n regte Kaapse ervaring op ’n stel wat ’n mens maar min kry,” sê sy.

Sy het dit geniet om met Jolene en weer met Melanie du Bois (Ronel Foster) saam te werk. “Ek en Melanie is al byna 20 jaar pelle en kom van die begin van 7de Laan-dae af saam. Die res van die cast en crew is almal mense wat ek ken en ons kry nie altyd die geleentheid om saam te werk nie; dus was dit lekker om met hulle ’n vloer te deel.”

Volgens die aktrise word sy steeds op straat herken as Bianca Booysen in Isidingo en vir haar rol as Bronwyn Abrahams in die hospitaaldramareeks Binnelanders waarin sy tot 2018 te sien was. Sy is ook bekend as Fynskrif se Anne Matthews.

Kim sê al woon sy in Johannesburg is haar maatskappy in die Kaap; dus reis sy meeste van die tyd tussen die stede. “My huis, man en honde is in Johannesburg, maar my ma, broer en die res van my familie is in die Kaap.”

kim cloete,aktrise
Kim Cloete en haar gesin. Foto: Verskaf

Behalwe dat sy nou in Arendsvlei te sien is, is die aktrise ook besig om saam met die regisseur André Odendaal aan die tweede seisoen van die SABC2-komediereeks Vlieënde Springbokkie te werk. 

“Ons was veronderstel om al aan die produksie te werk, maar toe gebeur COVID-19. Ons het nou al met die werksessies begin en behoort teen die einde van die maand op die stel te wees. Ek werk ook aan ’n nuwe dramareeks, Bewolkte Hart, wat ook uitgestel is weens COVID-19,” vertel sy.