Ons eie Zozibini Tunzi (27), Mej. Heelal van 2019, sal haar opvolger tydens dié drie uur lange geleentheid kroon. Die kompetisie, wat Sondag 16 Mei by die Seminole Hard Rock Hotel & Casino in Hollywood plaasvind, word Maandag in die vroeë oggendure regstreeks hier in Suid-Afrika uitgesaai.  

Die kompetisie sal na verwagting regstreeks van 02:00 tot 05:00 op 1Magic (DStv-kanaal 103) uitgesaai word.

Dit sal ook op die Mej. Heelal-organisasie se YouTube-kanaal uitgesaai word. 

Die Amerikaanse akteur en TV-aanbieder Mario Lopez en Olivia Culpo, wat in 2012 as Mej. Heelal gekroon is, gaan die skoonheidskompetisie aanbied. Ons voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh Tebow sal ook na verwagting 'n verskyning maak as ’n kenner-ontleder. 

Die Amerikaanse rapper en treffermasjien Pitbull gaan ook by die geleentheid optree. 

Volgens die modenuuswebtuiste Angelopedia het die deelnemers op 6 en 7 Mei in Amerika aangekom. Die foto- en aanpassessies het toe die naweek daarna plaasgevind.

Repetisies en choreografie het op 10 Mei begin, en die kompetisie vir die nasionale kostuums is op Donderdag 13 Mei gehou. 

Die deelnemers het in aanleiding tot die kompetisie onderhoude gedoen en op kamera geoefen. 

Natasha Joubert van Centurion in Gauteng, wat in Oktober die derde plek in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie behaal het, verteenwoordig die land by die kompetisie. Sy het by die nasionale kostuums-kompetisie geskitter in ’n uitrusting deur Gert-Johan Coetzee wat hulde bring aan die kinders van Suid-Afrika. 

"Natasha dra die kinders van Suid-Afrika saam met haar terwyl sy in haar nasionale kostuum op die internasionale verhoog stap.

"Die vlerke van haar unieke toga is gedruk met tekeninge gemaak deur jong kinders uit Suid-Afrika," het die Mej. Suid-Afrika-organisasie op Twitter geskryf. 

Die kunswerk vertel die verhaal van voorskoolse kinders se baie persoonlike ervarings van die inperking en hoe die covid-19-pandemie hul jong lewens ontwrig het, het die organisasie verder in die sosiale media geskryf. 

Sedert Suid-Afrika aangekondig het dat Natasha Suid-Afrika by Mej. Heelal sal verteenwoordig, het sy vinnig ’n gunsteling geword. Sy het immers deel gevorm van die webtuiste Missosology se topvyfgunstelinge om die kompetisie te wen.

"Die Mej Suid-Afrika-organisasie het met reg Natasha na Mej. Heelal gestuur, want dit is die kompetisie waar alles van haar waardeer sal word: haar skoonheid, persoonlikheid en kennis," het die webtuiste berig. 

"Die voormalige Mej. Suid-Afrika Tamaryn Green het in 2018 amper ’n agtereenvolgende wen vir Suid-Afrika verseker, en ons glo dat Natasha oor die vermoë beskik om dié droom te bewaarheid," het hulle verder berig.