Die 33-jarige aktrise het ­onlangs onthul sy het by die dood omgedraai terwyl sy in 2011 aan die eerste seisoen ­gewerk het.

In ’n essay wat sy vir The New Yorker geskryf het, beskryf sy hoe dit tydens ’n oefensessie in ’n Londense gim vir haar gevoel het of ’n rekkie haar brein saampers.

Sy is inderhaas hospitaal toe geneem waar ’n MRB gewys het sy het subaragnoïdale bloeding – ’n soort beroerte wat bloeding op die oppervlak van die brein veroorsaak.

Ná ’n noodoperasie kon Emilia (32) dae lank nie haar naam onthou nie.

'Laat my sterf'

“Op my slegste oomblikke wou ek tou opgooi. Ek het die mediese personeel gevra om my te laat sterf. My werk, my hele droom oor hoe my lewe moet wees, het om taal, om kommunikasie, gedraai. Daarsonder was ek verlore.”

Al het sy taamlik gou van die eerste operasie herstel, het ’n tweede aneurisme aan die ander kant van haar brein haar twee jaar later weer onder die mes laat beland.

“Ek het gelyk asof ek ’n nog grusamer oorlog deurgemaak het as enigiets wat Daenerys al beleef het,” vertel sy. Dele van haar skedel moes daarna met titaan vervang word.

Jare ná haar tweede operasie in 2013 sê sy nou sy “het bo my onwaarskynlikste hoop” herstel.

Emilia het pas ’n liefdadigheidsorganisasie, Same You, bekendgestel om mense te steun wat met breinbeserings worstel of daarvan herstel.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.