1. JON KRY ’N VUIL KYK BY ’N DRAAK

Daenerys Targaryen, oftewel Khaleesi en moeder van drake, het haar nuwe liefie en die koning van die Noorde, Jon Snow, gevra om op een van haar oorblywende drake se rug te vlieg.

Daenerys het op die ander draak se rug gevlieg en daarna het dié twee die winterkoue met ’n soen of twee verdryf. Die drake het nie juis gelukkig gelyk met hul nuwe vader van drake nie. 

2. CERSEI HET ’N BROERTJIE DOOD AAN DISLOJALITEIT

Koningin Cersei Lannister beweer sy is swanger van haar broer, Jaime Lannister, wat haar aan die einde van seisoen sewe verlaat het om by die troepe in die Noorde aan te sluit om teen die gevaarlike white walkers te gaan veg.

Cersei is glad nie gelukkig hieroor nie, want sy wil nie vir Daenerys of Jon help veg teen die dooies nie. Cersei het intussen liefde oftewel passie by ’n ander man, Euron Greyjoy, gevind.

Wonder wat gaan Jaime hieroor sê. Ook, Cersei het Jaime se jarelange vriend, Bronn, gevra om haar twee broers, Jaime en Tyrion, met dieselfde pyl-en-boog te vermoor wat Tyrion gebruik het om hul pa, Tywin Lannister, mee dood te maak.

3. SAM SE SAGTE HART

Samwell Tarly is nou wel een van minder as ’n hand vol mense wat al ’n white walker doodgemaak het, maar die man het 'n sagte hartjie en sal nie ’n vlieg skade doen nie.

Ons hart het saam met hom gebreek toe hy met sy ontmoeting met Daenerys by Winterfell hoor sy het sy pa en broer in ’n vlammehel – danksy haar drake – laat sterf toe hulle nie die knie voor haar wou buig nie.  

4. JON VIND UIT OOR SY OUERS

Dis goed dat Jon Snow by ’n hegte vriend soos Samwell uitgevind het hy is nie Ned Stark se buite-egtelike kind nie, maar hy die wettige erfgenaam vir die ystertroon – ’n Targaryen, nes Daenerys, wat eintlik sy tante is. En dit maak hom die regmatige troonopvolger van die sewe koninkryke.

Oe, die vonke gaan spat.

5. LIEFDE VIR ARYA?

Is daar dalk ’n nuwe paartjie op die horison vir GOT-kykers? Talle kykers glo dit kan wees nadat Arya Stark en Gendry vir mekaar ogies gemaak het.

Onse Arya verdien so 'n bietjie liefde ná al haar gevegte. Sy het Gendry gevra om haar ’n wapen van Dragonstone te maak sodat sy ook teen die weermag van die dooies (die white walkers) kan baklei.

Hul pa’s het immers in die eerste seisoen gepraat van hul seun en dogter wat moet trou (hoewel Robert Baratheon natuurlik toe van Joffrey en Ned van Sansa gepraat het).

6. DINAMIET IN KLEIN PAKKIE

Lady Lyanna Mormont het vir Jon gesê wat amper almal in die Noorde dink – hy moes nie so gou die knie voor Daenerys as sy koningin gebuig het en sy titel as koning van die Noorde opgegee het nie. So ’n bek moet jêm kry!

7. WAAR IS BRIENNE?

Waar was Brienne van Tarth? Dié indrukwekkende blondine was nêrens te sien in die eerste episode nie, maar gaan hopelik nog ’n paar swierige swaaie met haar swaard maak.

8. THEON WYS SY STAAL

Theon Greyjoy het eindelik gewys waarvan hy gemaak is. Hy het sy suster, Yara, van hul oom, Euron, wat haar ontvoer en hul skepe gevat het, gered.

Yara het hom hiervoor bedank deur sy neus te breek. Giggel-giggel.

9. TYRION EN SANSA

Die ontmoeting tussen Tyrion Lannister en Sansa Stark, eens sy vrou, het effens platgeval. Ons het meer verwag van die twee wat eens onwaarskynlike bondgenote was.

Maar ons kan nie genoeg kry van die hardgebakte Sansa nie – ligjare verwyder van die bakvissie van die eerste seisoen wat net wou trou en mooi aantrek.

10. JAMIE EN BRAN SE TWEEDE ONTMOETING

Jamie wat vir Bran Stark vir die eerste keer weer sien nadat hy hom in die eerste seisoen by ’n toring afgestoot en sy verlamming veroorsaak het nadat Bran hom en Cersei sien saam slaap het, het aan die einde van die eerste episode weer van aangesig tot aangesig gekom.

En dié keer is Bran die een met al die mag; hy is immers deesdae die siener van die verlede, hede en toekoms oftewel die Three Eyed Raven.