Talle Suid-Afrikaanse aanhangers van dié reeks kruip seker vroeg in om die laaste episode van die agtste en finale seisoen van dié Emmy-bekroonde reeks Maandagoggend om drieuur saam met die res van die wêreld op M-Net te kyk. 

Dit gons omtrent in die kuberruim oor wie op die Iron Throne gaan sit. Indien jy nog nie die jongste episodes gesien het nie, wees gewaarsku: Hier volg bederfbrokkies.

Hier is van die moontlike kandidate wat die septer kan swaai en oor die Seven Kingdoms kan regeer. 

Wie gaan op die Iron Throne sit?

DIE TARGARYENS

Daenerys Targaryen

Die tonge klap nou omtrent oor Daenerys, oftewel Khaleesi. Daar was selfs ’n aanlyn petisie deur honderdduisende Game of Thrones-aanhangers wat wil hê die finale seisoen moet oorgeskryf word omdat Daenerys, wat deur die Britse aktrise Emilia Clarke (32) gespeel word, in die voorlaaste episode in ’n booswig verander het.

In ’n skoktoneel het die Mother of Dragons op haar laaste lewende draak, Drogon, geklim en dié aangehits om byna die hele King's Landing - en derduisende onskuldige mense - met vuur uit te wis.

Sal die "Mad Queen", soos nou na haar verwys word, nog die Iron Throne waardig wees nadat sy soveel verwoesting gesaai en Kings Landing in puin gelê het?

Daenerys het heeltyd geglo sy is die wettige erfgenaam van die ystertroon tot daar onlangs ’n kinkel gekom het. Sy het uitgevind die liefde in haar lewe, Jon Snow, is ook ’n Targaryen. Jon is dus eintlik die wettige erfgenaam.

Jon Snow 

Jon is eintlik gebore Aegon Targaryen. Hoewel hy die wettige erfgenaam en opvolger vir die Targaryens is, wil Jon nie dié troon hê nie.

Jon, wat deur die 32-jarige hartebreker Kit Harington gespeel word, het kykers immers in byna elke episode van die laaste seisoen herinner dat Khaleesi sy koningin is en dat sy op die troon hoort.

Jon moes hulpeloos toekyk toe sy koningin in die voorlaaste episode duisende onskuldige mans, vroue en kinders in King's Landing in ’n vuurdood vermoor.

Gaan hy twee keer dink om aan te hou om die knie te buig voor Daenerys en die Iron Throne syne maak? Aanhangers van hom hoop wel so. 

DIE STARKS

Sansa Stark

Die oudste dogter van Ned en Catelyn Stark sal ook as koningin op die Iron Throne pas. Die rooikop, wat deur die Britse aktrise Sophie Turner (23) gespeel word, is een van die karakters wat die afgelope paar seisoene die meeste groei getoon het.

Maar dit wil voorkom of sy meer bekommerd is oor haar tuiste, Winterfell, as die res van die koninkryke, en eerder daar sal wil bly. Met haar kleinsus, die formidabele Arya, aan haar sy, sal sy ’n goeie leier van die Seven Kingdoms kan wees. 

Arya Stark

Die jongste Stark-dogter se naam is deesdae op almal se lippe nadat sy die gevreesde Night King onlangs met een steek van haar Valyrian-staalwapen doodgesteek en sy weermag van die dood tot ’n val gebring het.

Die 22-jarige Maisie Williams se karakter, Arya, herinner ons gereeld dat sy "nie ’n dame is nie" en dat sy nie op die ystertroon wil sit nie. Maar die gewilde Game of Thrones-karakter se passie vir regverdigheid en haar uitnemende vegtalent sal haar ’n yster op die troon maak.

Sedert haar pa, Ned, (letterlik) sy kop in King's Landing verloor het, het sy beloof om wraak te neem. En toe maak sy boonop die gevreesde Night King dood. Dit maak haar beslis ’n voorloper vir die Iron Throne. 

Bran Stark

Dié siener het kykers onlangs herinner dat hy die Three-Eyed Raven is wat in die verlede en toekoms kan sien, en sal dus nie die koning kan wees nie.

Dié jonger broer van Sansa en Arya (die 20-jarige Isaac Hempstead Wright) is immers die laaste manlike, volbloed Stark en in dié reeks se wêreld beteken dit dat hy die wettige opvolger vir die Stark-huis as koning of leier moet wees.

Die laaste Lannister?

Tyrion Lannister 

Tensy die slotepisode ’n groot kinkel bevat en die tweeling, Cersei (Lena Headey) en Jaime (Nikolaj Coster-Waldau), uit die dood herrys, is Tyrion (Peter Dinklage) die laaste lewende Lannister.

Dit is juis in die Lannisters se koninkryk waar die Iron Throne is. Dit sal wel ’n groot verrassing wees as Tyrion op die ystertroon beland, maar dit is Game of Thrones en in dié reeks is daar altyd hope kinkels.