Mariaan Welman (vertolk deur Deirdre Wolhuter) is bekend daarvoor dat sy met haar slinkse planne in die Laan wegkom. 

Dié ma van drie het onder meer haar man, Chris (David Rees) verneuk, Lesedi (KB Motsilanyane) blind gemaak en haar katelknaap Ben (Louis Auret) se dood veroorsaak. 

Maar het haar streke haar nou eindelik ingehaal?

In die episode op Donderdag, 14 Maart, is Mariaan deur Lesedi se ma en huishulp, Rosie (Tina Jaxa) vergiftig. 

Vandag het 7de Laan hul kykers behoorlik laat kopkrap toe hulle op hul amptelike Instagramblad foto’s van ’n bejaarde Mariaan en haar man, Chris, gedeel het.

Op die foto pryk Mariaan met plooie en grys hare.

"Sal Mariaan die dag sien wat sy oud en grys is . . . en dit saam met Chris? Jy wil nie vanaand 7de Laan se episode om sesuur misloop nie," word daar geskryf .

So wat presies gaan aan met Mariaan en Chris?

"Sy is vergiftig en dit lyk asof sy dit nie gaan maak nie," verduidelik Kayleen Bessit, 7de Laan se publisiteitsbeampte. 

"Mariaan kry nou ’n visioen van haar ideale toekoms namate sy die lig sien."

Kykers het in Oktober laas Chris op die kassie gesien, maar luidens die Instagraminskrywing lyk dit of hy vanaand weer vlugtig sy verskyning gaan maak.

Die Welman-gesin het in 2016 ná jare in die buiteland na Hillside teruggekeer. Op die oog af was Chris, sy vrou, Mariaan, en hul drie kinders, Rikus (André Lötter), Alexa (Carina Nel) en Amorey (Kristen Raath), die perfekte gesin. Maar hulle was alsbehalwe dit.

Deur die jare het daar talle geraamtes uit hul kas geval. En in Oktober, ná vele intrige en dramas, het Chris die Laan verlaat om by sy tweede gesin oorsee te gaan woon. 

Kyk saam 7de Laan om 18:00 op SABC2 om te sien wat verder gebeur . . .