AANLYN

CURSED

Fantasiedrama.

Cursed was onlangs een van die reekse op Netflix waarna die meeste gekyk is. Hier is 10 dinge wat jy oor dié reeks moet weet.

1 Katherine Langford, wat in 2017 haar TV-debuut as Hannah Baker in die tienerdramareeks 13 Reasons Why gemaak het, is in die hoofrol te sien as Nimue, ’n meisie met geheimsinnige superkragte wat as buitestander tussen haar mense grootword.

Katherine Langford as ­Nimue in die Netflix-fantas
Katherine Langford as ­Nimue in die Netflix-fantasie­drama Cursed. Foto: Netflix

Toe haar volk deur die Red Paladins afgemaai word, word sy skielik die heldin. Haar sterwende ma het ’n antieke swaard aan haar toevertrou wat sy aan die towenaar Merlin moet gee in ’n tog om haar soort, die Fey, te bevry.

2 Die reeks is gegrond op die grafiese roman deur Tom Wheeler en Frank Miller wat in 2019 uitgereik is. Die storie gee ’n nuwe hoek aan die klassieke legende van koning Arthur.

3 Devon Terrell (27), wat in 2016 ’n jong Barack Obama in die biofliek Barry gespeel het, is in sy eerste groot TV-rol te sien as die swaardswaaiende Arthur wie se pad met dié van Nimue kruis.

Haar mede-­Aussie Devon Terrell speel Arthur. Foto
Haar mede-­Aussie Devon Terrell speel Arthur. Foto: Netflix

Dis die eerste keer dat ’n swart akteur Arthur vertolk.

“Daar is nie baie fantasiekarakters vir jong swart mense – manlik of vroulik – nie. Dit is dus regtig opwindend dat jong mense van enige ras hulself in dié rol kan sien.”

4 Devon is in Long Beach, Kalifornië, gebore en het op vyf jaar oud saam met sy gesin Australië toe verhuis.

Hy praat eintlik met ’n Australiese aksent, maar in Cursed hoor jy ’n Britse een.

5 Lyk Merlin bekend? Hy behoort. Die akteur wat Merlin speel, is Gustaf Skarsgård (39), die broer van die Big Little Lies-ster Alexander Skarsgård en It-akteur Bill Skarsgård. Hul pa, Stellan, is ook ’n bekende akteur.

Gustaf Skarsgård is te sien as die towenaar Merlin
Gustaf Skarsgård is te sien as die towenaar Merlin. Foto: Netflix

6 Die reeks het ’n sterk boodskap van gelykheid en bemagtiging, vertel Katherine (24).

“Ons sien die storie van ’n ware heldin wat die spesifieke struikelblokke raaksien waardeur ’n vrou in die gesig gestaar word. Dis wat ek hoop jong vroue van die reeks wegneem: Jy kan enigiets doen, jy is dapper en jy het die vermoë om ’n koning, koningin of ’n persoon met mag te wees.”

Shalom Brune-­Franklin as Morgana. Foto: Netflix
Shalom Brune-­Franklin as Morgana. Foto: Netflix

7 Devon en Katherine is albei Aussies. Devon het Katherine reeds geken sowat drie jaar voor hy die Cursed-oudisie afgelê het. Hulle is van dieselfde tuisstad, Perth.

8 Daar was baie flaters op die stel, verklap Devon.

“Ek het ’n paar keer van perde af geval. Daar was tonele waar ons op ’n perd moes spring en dit was een skoot. Almal het dit kafgedraf, en ek kon nie op die perd kom nie, want my broek was te styf. Ek dra leer! Wanneer jy sweet, begin dit aan jou kleef.”

9 Dit gons in die kuberruim oor die sexy skurk The Weeping Monk wat vir die Red Paladins werk om die Fey af te maai. Hy word vertolk deur Daniel Sharman, wat al te sien was in Teen Wolf en Fear the Walking Dead.

Die akteur Daniel Sharman vertolk die rol van die sluipmoordenaar The Weeping Monk. Foto: Netflix
Die akteur Daniel Sharman vertolk die rol van die sluipmoordenaar The Weeping Monk. Foto: Netflix

“Hy het tatoes; dis in ’n mate geboortevlekke wat van sy oë af loop soos trane,” vertel Daniel (34), wat onder meer muay thai moes leer vir sy rol.

10 Die 10 episodes is propvol aksie, bloedige geweld en halfkaaltonele. Dis al vergelyk met reekse soos Game of Thrones; tog voel talle die eerste seisoen kon beter gewees het.

  • 1 SEISOEN.
  • 16.
  • NETFLIX.

THE UMBRELLA ACADEMY

Aksie.

Die tweede seisoen van dié reeks, wat op Gerard Way en Gabriel Bá se strokiesprentreeks gegrond is, begin met ’n knal.

Dis 1963 en die Hargreeves-sibbes, wat almal supermagte het, moet wéér die apokalips keer. Aan die einde van die eerste seisoen het hulle teen hul suster Vanya (Ellen Page) te staan gekom.

Ellen Page vertolk die rol van Vanya in The Umbrel
Ellen Page vertolk die rol van Vanya in The Umbrella Academy. Foto: Netflix

Number Five (Aidan Gallagher), wat deur tyd kan reis, het per ongeluk die res van sy broers en susters in verskillende jare van 1960 tot 1963 in Dallas, Texas, laat beland.

Five moet dan seker maak die span kom weer bymekaar uit sodat hulle weer kan keer dat die wêreld eindig.

Ook met Tom Hopper.

Tom Hopper as Luther. Foto: Netflix
Tom Hopper as Luther. Foto: Netflix

  • 2 SEISOENE.
  • 16.
  • NETFLIX.

DWAALSTER

Drama.

As jy nog nie dié reeks gekyk het nie, kan jy nou inhaal. Dit speel af op die Karoodorpie Maanhaardrif. Al die inwoners is behep met die sterre en sterrekyk, terwyl ander “met die maan gepla” is.

Die hoofkarakter, Annabel (Tinarie van Wyk Loots), ’n ondersoekende joernalis, keer na haar tuisdorp terug en krap dinge van die verlede oop.

Terence Bridgett en Neels van Jaarsveld speel die paartjie Ruan en Luan, wat die hotel Die Vlieënde Piering besit.

Terence Bridgett en Neels van Jaarsveld. Foto: Sho
Terence Bridgett en Neels van Jaarsveld. Foto: Showmax

1 SEISOEN. 13T. SHOWMAX.

PEARSON

Drama.

Mis jy Suits? Dan sal jy nie dié splinterreeks van die gewilde regsdramareeks wil misloop nie.

Gina Torres hervat haar rol as die magtige prokureur Jessica Pearson.

Gina Torres as Jessica Pearson. Foto: Showmax
Gina Torres as Jessica Pearson. Foto: Showmax

Jessica verlaat New York en trek na Chicago toe om die vuil politiek in dié Amerikaanse stad te takel. Sy word aangestel as die regterhand van die stad se burgemeester, Bobby Novak (die Homeland-ster Morgan Spector). In die proses word sy blootgestel aan ’n korrupte, gevaarlike nuwe wêreld waar elke optrede verreikende gevolge het.

1 SEISOEN. 16GT. SHOWMAX.

TELEVISIE

AANSIT

Kookreeks.

In dié splinternuwe kosprogram op die kassie kyk die bekende plaaslike sjef Reuben Riffel of tuiskokke maaltye kan oplewer wat van restaurantgehalte is.

Reuben Riffel. Foto: VIA
Reuben Riffel. Foto: VIA

’n Groot prys is op die spel.

Die kosfoendi’s neem in groepe van drie deel en die wenner stap weg met ’n prys ter waarde van R150 000.

VRYDAE om 18:00 OP VIA.

PERRY MASON

Drama.

Jy ken Perry Mason dalk uit die TV-flieks uit die 1980’s met Raymond Burr of selfs die TV-reeks uit die 1950’s. Dié nuwe reeks is ook gegrond op die skrywer Erle Stanley Gardner se 82 speurverhale.

Dit speel in 1932 in Los Angeles af en vertel Perry se oorsprongverhaal. Die privaat ondersoeker Perry (The Americans se Matthew Rhys) is ’n Eerste Wêreldoorlogveteraan wat sukkel met posttraumatiese stres en sy egskeiding. Hy word dan gehuur om ’n skokkende saak te ondersoek van ’n baba wat ontvoer is.

Matthew Rhys. Foto: CBS
Matthew Rhys. Foto: CBS

DINSDAE om 22:00 OP M-NET. OOK OP DSTV CATCHUP.

BRONNE: COMICBOOK.COM, POPBUZZ.COM, HARPERSBAZAAR.COM, CBR.COM