Die bekroonde aktrise Ilse Klink is deesdae te si
Die bekroonde aktrise Ilse Klink is deesdae te sien as Dorothy Galant in die kykNET & kie-telenovelle Arendsvlei. Foto: Lubabalo Lesolle

ARENDSVLEI SE ‘EIE OPRAH’

Ons het Ilse Klink destyds as Vanessa Booysens in die sepie Isidingo op SABC3 leer ken. Sedertdien is sy ’n bekende gesig op die kassie en het sy al onder meer in 7de Laan en die dramareeks Roer jou voete ’n draai gemaak. Deesdae laat die bekroonde aktrise mense regop sit as Dorothy Galant, ma van die skurk Bompie (Jarrid Geduld), in Arendsvlei.

Ilse en Jarrid Geduld, wat haar TV-seun speel. Fot
Ilse en Jarrid Geduld, wat haar TV-seun speel. Foto: Instagram (@kyknetkie)

Dorothy, wat al in die reeks as Arendsvlei se “eie Oprah” beskryf is, is ’n gerespekteerde en sagmoedige vrou – of so lyk dit. Is sy net so boos soos haar man, Desmond, die gevaarlikste misdadiger in Arendsvlei?

“Dorothy is soos geen ander karakter wat ek al gespeel het nie. Sy is ’n goeie én slegte mens, en daardie tweeledigheid is vir my baie aantreklik,” sê Ilse (48). Dorothy doen alles om geld te maak. Tog is dit nie maklik om ’n vrou in die onderwêreld te wees nie.

“Sy is ook betrokke by die kerk en is daarop ingestel om die gemeenskap te help. Interessant genoeg maak sy seker dat sy die kerk- en misdaadwêreld uitmekaar hou.”

UITERS BEDRYWIG

Die nuweling Chelsea Thomas speel Ilse se dogter,
Die nuweling Chelsea Thomas speel Ilse se dogter, Angelique. Foto: kykNET

Ilse woon in Johannesburg. Sy vlieg gereeld Kaapstad toe, waar Arendsvlei verfilm word en afspeel. “Ek dink ek is ’n ereburger van Kaapstad omdat ek so baie soontoe vlieg,” spot sy.

Ilse werk ook tans aan nog ’n Kaapse reeks – die sterbelaaide neo-noir-moordraaisel Skemerdans, wat in ’n jazzklub op die Kaapse Vlakte afspeel. Die reeks, wat in April sy debuut op Showmax maak, gaan oor die magstryd tussen twee broers.

Die bloed vloei nadat Glenn Fortune (Kevin Smith), eienaar van ’n legendariese dansklub, vermoor is. Ilse speel Glenn se weduwee, Shireen, en Vinette Ebrahim die Fortune-matriarg.

 Sel­fietyd! Alistair Izobell, Carmen Maarman, ­Vi
Sel­fietyd! Alistair Izobell, Carmen Maarman, ­Vinette Ebrahim en Ilse glimlag vir ’n selfie op die stel van die reeks Skemerdans. Foto: Instagram (@ms_klink)

GEDUGTE DUO

Ilse geniet dit om teenoor haar TV-seun, Jarrid Geduld, in Arendsvlei te speel. “Hy is ’n wonderlike akteur wat jou by sy karakter intrek. Die manier waarop hy speel, is vir my ongelooflik en uniek,” sê Ilse.

Sy en Jarrid was albei in die rolprent Ellen: Die Ellen Pakkies-storie te sien waarvoor hy ’n Safta vir beste rolprentakteur gewen het. “Hy is talentvol en nederig. Elke toneel met hom is lekker, want hy gee jou soveel om mee te werk. Ons maak ’n lekker aflosspan.”

KAAPSE WORTELS

Ilse het in Athlone en Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte grootgeword. Sy was 15 toe haar gesin na Eersterust in Pretoria verhuis het. Dié trek het sy al as ’n kultuurskok beskryf.

Ilse het reeds kleintyd mense nageboots en het altyd geweet sy wil eendag in die teaterbedryf wees. Toe sy in 1992 haar dramagraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, was sy die eerste swart student wat aan die dramadepartement gegradueer het – en dit in Afrikaans, haar tweede taal.

Sy het daarna by die destydse Streeksraad vir die Uitvoerende Kunste in die Vrystaat begin werk.

“Ek het twee jaar in Bloemfontein gewerk en het die teaterproduksie Blomtyd is bloeityd gedoen saam met die regisseur Gerrit Schoonhoven, wat onlangs oorlede is. Hy is een van die eerste professionele regisseurs met wie ek saamgewerk het. Dit was ’n wonderlike bekendstelling.”

VELE TALENTE

Sy was in die jare wat gevolg het in talle teaterproduksies. In 2004 het sy die rol van Mama Morton in die musiekspel Chicago losgeslaan. Ilse is ook ’n sangeres; sy was die hoofsanger van die rockgroep Ekstra Dik. Maar dis veral haar toneelspel wat haar landgenote laat regop sit en die pryse laat inrol. Sy is verlede jaar met ’n Safta vir beste vroulike byspeler in ’n fliek vereer vir haar rol as die loopbaangedrewe prokureur Diona in Stroomop.

OOR OUERSKAP EN DIE LIEFDE

Sy is die ma van ’n dogter, Tyler (27), en seun, Joshua (14). “Wat ek die meeste van ma-wees geniet, is hoeveel hulle my leer,” sê Ilse. “Ek is veronderstel om die ouer te wees en hulle die kinders, maar hulle leer my so baie oor myself en die lewe.”

Tuis by haar dogter, Tyler, en seun, Joshua. Foto:
Tuis by haar dogter, Tyler, en seun, Joshua. Foto: Verskaf

Sy’s steeds ongetroud en vertel: “Ek dink net dapper mense trou, en ek respekteer dit, want ek kan dink dit is harde werk.”

5 Kitsfeite oor Ilse

1. Wat is jou gunstelingfliek?

  • Bullets over Broadway. Dit speel af in die 1920’s en gaan oor mense in die teater en die verskillende karakters wat hulle speel. ’n Mens kan die karakters eintlik identifiseer in die regte wêreld waarin ons leef.

2. Watter plaaslike of internasionale akteur inspireer jou?

  • Dit verander oor die jare, maar op die oomblik is dit die Amerikaanse aktrise Viola Davis. Sy is indrukwekkend, eg en kan enige karakter speel.

3. Wat is die beste raad wat jy al gekry het?

  • Gebruik die manier hoe jy op die oomblik voel, of dit hartseer of gelukkig is, as deel van jou karakter vir daardie dag.

4. Wat sal kykers verbaas wees om van jou te weet?

  • Ek is goed in ysskaats.

5. Watter raad het jy vir opkomende akteurs?

  • Wees altyd professioneel en stiptelik en doen jou bes. 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe