“Ek is baie gelukkig om weer op die kassie te wees. Ek dink met die lockdown-situasie wat ons het, is ek gelukkig om weer werk te hê,” vertel Chantal. 

Die aktrise, wat beter bekend is vir haar rol as Cecile Whittaker in 7de Laan, vertel sy het al vantevore oudisies vir ’n rol in Binnelanders afgelê, maar dit net nooit gekry nie. 

“Ek het in 2012 Johannesburg toe getrek en seker 10 keer ’n oudisie vir Binnelanders afgelê. So dis cool om eindelik ’n Binnelanders-karakter te kry. Ek sien daarna uit om te sien hoe die gehoor op haar sal reageer.” 

Chantal het reeds op 15 Mei haar eerste tonele begin skiet, en sy sê dis vreemd om nou met die streng inperkingregulasies tydens die covid-19-pandemie die nuweling op die stel te wees. 

“Dit is moeilik, want jy probeer sin maak van hoe dinge op hierdie stel is, want elke stel is anders. Ek moes ’n bietjie leer hoe hierdie stel dinge doen.” 

“Met lockdown kan jy nie met die akteurs sit en gesels en mense beter leer ken nie. In ’n nuwe omgewing met nuwe mense wil jy ook almal onthou, want jy gaan elke dag saam met hulle werk. Nou kan jy nie onthou wie hulle is nie, want net ’n derde van hul gesig steek uit onder die masker.” 

Volgens Chantal was al die ekstras in die tonele lede van die produksiespan. 

“As jy ’n fyn oog het, en al op die Binnelanders-stel gewerk het, sou jy van die hare- en grimeringmense herken het. Een van die vloerbestuurders was ’n verpleegster in ’n toneel so dit was cool.” 

chantal stanfield,binnelanders
Bradley Olivier, Chantal Stanfield en Lindsey Abrahams in 'n toneel uit die kykNET-sepie Binnelanders. Foto: kykNET

“Ons het ook eers ons maskers afgehaal wanneer ons begin skiet het. Sodra jy klaar geskiet het, sit jy die masker op voor jy die vloer verlaat,” vertel sy. 

Deesdae moet jy ook etenstyd op die stel alleen by ’n klein tafel sit en eet terwyl net drie mense by ’n lang tafel kan sit.

“Tydens middagete socialise mense gewoonlik; dit was dus vreemd om die nuweling te wees en middagete alleen te eet. Dis dan moeilik om mense te leer ken. Dit was ’n vreemde shift van hoe ons gewoonlik op die stelle operate,” sê die aktrise. 

Sedert kykers haar laas as Lindy Davids in Getroud met rugby gesien het, het die aktrise ook verlede jaar vir die eerste keer ma geword. 

Sy en haar musikant-man, RJ Benjamin, verwys na hul eenjarige as #BabaBenjafield in die sosiale media. 

“Dit is ’n kombinasie van my en my man se van. Dit is nie ons kind se regte naam nie,” sê die aktrise wat verkies om nie hul dogtertjie se naam te verklap nie. 

“Dit is nogal ’n groot aanpassing om ’n kind te hê. Gelukkig is my man baie ondersteunend wat my loopbaan betref, hy was nog altyd. Hy is so goed met die baba en baie betrokke, soos dit moet wees. Dit laat my steeds toe om my drome en loopbaan te volg.” 

“My man was eintlik baie opgewonde toe ek die Binnelanders-oproep kry. Hy het net gesê: 'Ja vat dit, moenie eers twee keer dink nie, ons sal om dit werk',” vertel sy opgewonde. 

Al is albei in die kreatiewe bedryf kan hulle nou tydens die inperking as ’n gesin gehaltetyd saam deurbring.