En nou vertolk sy die rol van dr. Lakey, ’n dokter besig met kankernavorsing, wat vir die slinkse Rian Malherbe werk in die kykNET-sepie Binnelanders

“My karakter is ’n gedetermineerde vrou wat meer as enigiets die persoon wil wees wat kanker genees,” vertel Ashley Hayden, wat in Februarie en Maart op stel was vir dié rol. 

“Ek was mal daaroor om saam met die Binnelanders-span te werk. Hulle was ongelooflik gaaf, ondersteunend en professioneel. Hulle het my so gemaklik laat voel,” vertel die aktrise. “En hulle is vinnig! Hulle is baie goed daarmee om ’n toneel vinnig af te handel.”

Sy meen die druk om elke dag ’n episode te verfilm beteken dat niemand kan slaplê nie. “Jy moet jou woorde baie goed ken as jy daar aankom en gereed wees om jou beste te gee,” sê sy. 

Ashley Hayden as dr. Lakey, 'n kankernavorser in B
Ashley Hayden as dr. Lakey, 'n kankernavorser in Binnelanders. Foto: Verskaf

Ashley, wat al vir ongeveer 32 jaar in Johannesburg woon, het die ontbytprogram The Complimentary Breakfast saam met Rian van Heerden, Dianne Broodryk en Robbie Kruse op Jacaranda FM aangebied, maar die radiostasie in 2013 verlaat om meer tyd saam met haar gesin deur te bring. 

Sy was sedertdien te sien in die e-tv-telenovela Ashes to Ashes asook ’n dramareeks Ambitions op dieselfde kanaal. “Toe het ek die rol van ’n sarkastiese koerantredakteur vertolk. Dit was baie pret, want ek is eintlik ’n opgewekte, vrolike mens,” vertel sy. 

Sy gebruik ook die afgelope paar jaar haar 30 jaar se ondervinding in die vermaakbedryf om vir groot korporatiewe ondernemings opleidingsessies aan te bied. Sy bied onder meer kursusse in mediaopleiding, aanbieding en kommunikasie aan, en sy help ook mense om vir werksonderhoude voor te berei.

“So dit hou my ook besig,” vertel sy. 

Sy meen COVID-19 bied vir haar ook nuwe uitdagings omdat sy dit wat sy gewoonlik van aangesig-tot-aangesig aangebied het, aanlyn moet doen. “Maar dit is darem nie te moeilik nie aangesien ek ook al kliënte in die VSA en Engeland aanlyn moes oplei.”

Sy is doen ook stemwerk vir die N3 Radio-app, ’n app wat mense wat op die N3 tussen Johannesburg en Durban ry kan aflaai. Die app laat jou toe om na enige radiostasie te luister en wanneer jy verby merkwaardige plekke ry, deel die app interessante feite, brokkies en nuttige inligting soos verkeersverslae met die luisteraars.

 “Ek is mal daaroor dat dit vir mense die kans gee om oor ons land en kultuur te leer,” sê Ashley. 

Tog sal sy altyd lief bly vir toneelspel. 

“Ek dink van al die werk wat ek doen, geniet ek toneelspel die meeste. Dit is wonderlik om te gaan en iemand anders te wees vir die dag. Dit is nogal bevrydend. En dan kan jy weer terug kom en jouself wees. Dit is ook lekker om deel van ’n geheel te wees wat ’n gesamentlike doel wil bereik,” sê Ashley. 

Ashley vertel dat sy net soos baie ander mense, die inperkingstyd gebruik het om te bak. 

“Ek en my dogter het met suurdeeg gebak, wat op sigself ’n hele gekompliseerde, magiese proses is. Ons het ook gemmerbier en kombucha gemaak. Ek het ook uiteindelik probeer om beskuit te maak,” vertel sy.

Sy het haar ook besig gehou met joga, kosmaak en huisskoonmaak. Tussendeur het sy ook gehelp met haar kinders se tuisonderrig.

“Ek het ook ’n ‘Deepak Chopra 21 dae van oorvloed’-kursus gedoen, wat lieflik was.”

Boonop het Ashley, wat ’n groot hart het, hand bygesit om met liefdadigheidswerk te help. Sy het onder meer gehelp om kospakkies te pak en klere ingesamel. Daar is ook dae wat sy mismoedig voel, sê Ashley.

“Ek kry ook bedrukte dae, net soos die res van ons. Maar meeste van die tyd dink ek dit is regtig wys om dit net een dag op ’n slag te vat. En as dit nie ’n lekker dag is nie, gaan slaap mens en sê vir jouself dat môre weer beter sal wees. Dit is gewoonlik.”

Sy meen sy bly positief deur te fokus op dinge wat haar opbeur. “ ’n Mens kan baie vind om oor bly te wees. Van ’n primula wat blom tot die sonskyn op jou gesig. Selfs net ’n lekker koppie koffie.”

Sy was ook in die wolke toe die inperking effens verlig is en ’n mens die huis kon verlaat om buite te oefen.

“Ek was so in my skik! Die inperking het my geleer hoe baie dinge ek as vanselfsprekend aanvaar het en hoe geseënd ek is.”