Die liedjieskrywer Deon Meiring het onlangs ’n kor
Die liedjieskrywer Deon Meiring het onlangs ’n kortspeler, Grensbewoner, uitgereik. Foto: Etienne Swanepoel

SOLOPROJEK

Dié liedjieskrywer, kitaarspeler en sanger van die groep Glaskas en duo Dans Dans Lisa het in Januarie 2018 met ’n interessante soloprojek vorendag gekom.

Deon het teen die einde van elke maand ’n akoestiese en onverwerkte opname van ’n liedjie wat hy in die bepaalde maand geskryf het op sy YouTube-kanaal met sy ondersteuners gedeel en dit die Maandeindeprojek gedoop.

“Tydens die inperking het ek, nes baie ander mense, besef ek het tyd; kom ek begin daardie liedjies opneem,” sê Deon, wat deesdae op Wellington in die Wes-Kaap woon. “Ek wou graag hê die liedjies moet herleef omdat dit nooit in ’n ateljee opgeneem en amptelik uitgereik is nie.”

Deon was nog in die vroeë stadium van die inperking besig om die eerste liedjie, “As jy my oopskeur”, op te neem toe die draaiboekskrywer Louis Pretorius hom kontak. Louis, die man agter reekse soos Fynskrif en Die boekklub, wou dié Maandeinde-liedjies in sy nuwe kykNET-reeks, Kompleks, gebruik.

“Dit was vir my so cool om te sien dat hierdie liedjies deel word van iemand anders se verbeelding en kreatiewe proses,” vertel Deon. “Die hele wêreld wat vir Kompleks geskep is, is nou ook daardie liedjies se leefruimte.”

‘Dit was vir my so cool om te sien dat hierdie liedjies deel word van iemand anders se verbeelding en kreatiewe proses’

DIE KORTSPELER

Deon se kortspeler Grensbewoner bevat ses liedjies in die kontemporêre akoestiese folk-genre wat deel van die Kompleks-klankbaan uitmaak.

­Kykers van Kompleks sal die liedjies uit dié kykN
­Kykers van Kompleks sal die liedjies uit dié kykNET-reeks herken.

“Baiekeer is ’n liedjie net ’n agtergrondelement in ’n fliek of ’n TV-reeks, maar hier het Louis die musiek lekker prominent gemaak, en die lirieke speel ’n groot rol,” vertel Deon.

“Dít was vir my opwindend en ’n groot voorreg.” Met die opname van die kortspeler het Deon nie veel verander aan die oorspronklike weergawes nie.

“Louis het van die oorspronklike rou weergawes gehou; so dit het beslis ’n rol gespeel in my benadering toe ek dit wou opneem,” verduidelik Deon.

Hy het die titelsnit, “Grensbewoner”, geskryf toe hy terugverlang het na ’n Desembervakansie. Maar hy moes die eerste vers se lirieke ’n bietjie verwerk om by Kompleks te pas, wat hoofsaaklik in die winter afspeel.

KOOS KOMBUIS-TREFFER

Net twee van die liedjies op die kortspeler is nie Maandeinde-liedjies nie: die nuwe liedjie, “Soos ’n spinnerak”, en ’n nuwe weergawe van die Koos Kombuis-gunsteling “Bicycle sonder ’n slot”.

Deon is “al jare” ’n groot aanhanger van Koos Kombuis se werk as skrywer en musikant en was in verwondering om dié treffer as ’n duet saam met hom op te neem.

“Dis een van my gunstelingliedjies, al van my skooldae af,” vertel hy.

“Trouens, dit is een van die liedjies wat ’n groot rol in my en my vrou, Zinelda, se verhouding gespeel het,” vertel Deon. Hulle is in 2015 getroud.

“In ’n stadium toe ek op hoërskool op Zinelda verlief was, het ek vir haar ’n klein speelgoedfietsie gegee wat nie ’n slot aangehad het nie met die lirieke van dié liedjie in ’n brief,” vertel hy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe