“Aanvanklik het die senuwees hoog geloop, want dit is nie net nog 'n gewone storielyn nie. Dit is nie iets wat ligtelik opgeneem word nie. Vroue gaan elke dag deur dié soort trauma,” verduidelik Kate ernstig.

Sy sê die akteurs en produksiespan was heeltyd daarvan bewus dat verkragting ’n werklikheid is, maar dat dit ’n sensitiewe onderwerp bly om in ’n storielyn aan te pak.

“Ons weet nie watter trauma slagoffers deurmaak of dalk nog sal moet aanpak nie. Dit was ’n baie sensitiewe aanslag van die skrywers om nie die verkragting self te wys nie, maar wel lig te werp op die nagevolge daarvan,” vertel Kate.

“Ons sien Anna voor en ná die daad, en ek is tevrede dat dit met uiterste sensitiwiteit uitgebeeld is,” het Deon Opperman, hoofskrywer van die sepie, aan Netwerk24 gesê.

Getroud met Rugby
Anna en Jacques in een van die tonele. Foto: Verskaf.

Kate vertel die regisseur het haar en Armand eenkant toe geroep en hulle stap vir stap deur die toneel gepraat. Die steun het haar veilig en rustig laat voel.

“Ek en Armand het albei van die begin af geweet wat die uiteinde van die storielyn gaan wees; dit speel so vinnig af.”

Hoewel albei rustig was, was Armand uiters professioneel, verduidelik Kate. “Hy was besorg voor en nadat die toneel geskiet is. Alles is met grasie, integriteit en respek behandel.”

Nie alle kykers het vir dié storielyn skiet gegee nie, en talle mense was bekommerd omdat hul kinders ook in Getroud met Rugby se sesuur-tydgleuf voor die kassie sit.

“Ek dink regtig nie dit moet sesuur uitgesaai word nie. Dit is die tyd wanneer kinders van alle ouderdomme nog TV kyk. Kinders het regtig nie die blootstelling aan sulke tonele nodig nie,” het een kyker op Facebook laat hoor.

Hoewel baie mense beswaar aangeteken het oor die tyd wat die sepie uitgesaai word, het sommige aanhangers ook Getroud met Rugby geloof vir dié storielyn wat dapper is en 'n werklike uitdaging uitbeeld.

Getroud met Rugby
Foto: Verskaf.

“Dankie dat julle die werklikheid uitbeeld. Dit gebeur so gou, voor jy jou oë uitvee, is jy as vrou vas en kan jy nie uit daardie greep kom nie,” skryf een kyker op Facebook.

“Fokus, mense. Hulle beeld iets uit wat dalk moeilik is om te kyk, maar dit gebeur baie meer as wat ons wil erken,” raai nog 'n aanhanger haar medekykers aan.

Aan vroue wat in die regte lewe deur dié trauma moes worstel, is Kate se boodskap: “Dankie dat julle so ongelooflik sterk is, al is dit ontsettend moeilik.

“Dankie dat julle nie tou opgooi nie, dankie dat julle steeds bereid is om te veg. Ek is jammer dat jou ‘nee’ op dowe ore geval het en jou menslikheid van jou weggevat is. Dit is nie jou skuld nie.”

Dit is dan wanneer die gesegde wat haar oupa en ouma altyd gesê het, by haar opkom: As die nag op sy donkerste is, is die oggendson baie naby.

“Jou oggendson wag vir jou,” sê Kate.