En dit is geen wonder nie, want die aap is uit die mou: Die kykNET-regsdrama Fynskrif keer terug vir ’n tweede seisoen!

Die eerste seisoen het omtrent dramaties geëindig. Hans van Wyk (Chris van Niekerk) het erken hy het ’n buite-egtelike kind in ’n tref-en-trap-ongeluk verloor en het as grootbaas van die regsfirma Van Wyk & Vennote bedank. Sy dogter, Lara (Tinarie van Wyk Loots), het die praktyk, waarvan die toekoms aan 'n draadjie hang, by hom oorgeneem.

Die prokureur Anne Matthews, wat deur Kim Cloete gespeel word, het tydens haar swangerskap bloeding ervaar wat dalk op komplikasies dui.

En die onwelkome Kobus (Waldemar Schultz) het weer sy opwagting by Van Wyk & Vennote gemaak, dié keer met die nuus dat hy ’n moord gepleeg het. Hy het daarop aangedring, of hulle eintlik gedreig, om hom uit sy penarie te red. 

Fynskrif, wat op die regswêreld fokus, se draaiboek is deur Louis Pretorius en Albert Snyman geskryf. Hulle het ook TV-reekse soos Die Boekklub en Die Boland Moorde geskep. 

"Ek en Albert was oorweldig deur die reaksie op die reeks en dit is vir ons ’n voorreg om voort te gaan met die stories van al die prokureurs by Van Wyk & Vennote,” vertel Louis. "In die tweede seisoen hang die praktyk se toekoms aan ’n draadjie en word almal onder geweldige druk geplaas. Daar is ook baie om na uit te sien oor hoe die verskillende verhoudings ontwikkel en soos altyd ’n paar interessante sake.” 

Aanhangers sal nog ’n hele ruk moet wag vir die tweede seisoen, maar intussen is die eerste seisoen op die stroomdiens Showmax beskikbaar vir dié wat dit misgeloop het of wat dit graag weer wil kyk.