Sewentien seisoene, bykans 400 episodes, te veel noodoperasies om te tel, byna elke seldsame toestand, verskeie verbysterende gebeure – en honderde bokse snesies vir miljoene kykers oor die wêreld heen.

Grey's Anatomy staan nou op sy sewentiende seisoen
Grey's Anatomy staan nou op sy sewentiende seisoen. Foto: Getty Images/Gallo Images

Dít, in ’n neutedop, is die nalatenskap van Grey’s Anatomy – die langdurendste mediese drama op televisie; ’n reeks wat die wêreld aan McDreamy en McSteamy voorgestel en van ’n generasie aanhangers leunstoeldokters gemaak het.

Nou is die reeks terug – en net toe jy gedink het jy het reeds alles gesien, stel die supervervaardiger Shonda Rhimes en haar span skrywers die peil weer hoër.

Twee karakters wat lankal dood is, keer terug, die coronavirus het Grey Sloan-gedenkhospitaal onder beleg en Meredith is – weer – op die rand van die dood: Sy was al in ’n vliegongeluk, het amper verdrink, is deur ’n waansinnige pasiënt aangeval, het ’n bom in ’n pasiënt se lyf vasgehou en ’n keisersnee te midde van ’n kragonderbreking gehad.

Maar sy het oorleef om vir almal te sê om hulle litte te roer en daardie skewe glimlag van haar weer te flits.

Geen ‘Grey’s’ sonder Grey

Voorprente vir seisoen 17 het gerugte laat ontstaan dat Meredith (gespeel deur Ellen Pompeo) dalk dié keer aan haar einde sal kom en dat sy ná 16 jaar in die rol gereed was om haar stetoskoop op te hang.

Boonop het dit aan die lig gekom haar kontrak eindig met hierdie seisoen.

Ellen Pompeo speel al vir nagenoeg 16 jaar die rol
Ellen Pompeo speel al vir nagenoeg 16 jaar die rol van dr Meredith Grey. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maar ontspan, getroue Grey’s-kykers!

Die program sal op die lug wees vir so lank as wat Shonda en Ellen dit aan die gang wil hou, sê Karey Burke, vermaakvoorsitter van ABC Signature, wat die reeks vervaardig. En die 51-jarige Ellen gaan nêrens heen nie.

Sy is een van die bes betaalde televisieakteurs ter wêreld. Sy verdien ’n allemintige R290 miljoen per seisoen.

“Ek het ’n besluit geneem om geld te maak en nie kreatiewe akteursrolle na te jaag nie,” erken sy.

“Dit is wie ek is. Ek het my besluite geneem, en ek is tevrede daarmee.”

Fokus op covid

Grey’s het al dikwels aktuele kwessies aangepak; daarom is dit nie verbasend dat die pandemie uitgebeeld sou word nie, al kla party aanhangers dit is te naby aan die regte lewe.

“Dit is te vars, te eietyds en te traumaties,” het ’n kyker getwiet nadat die seisoen in Amerika begin het.

Die Covid-19-pandemie het 'n groot impak op seison
Die Covid-19-pandemie het 'n groot impak op seison 17 se storielyn. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maar Krista Vernoff, Grey’s se uitvoerende vervaardiger, sê hulle kon dit nie ignoreer nie.

“Dit kan glad nie ’n langdurende mediese program wees en nie die mediese storie van ons leeftyd behandel nie.

“Die program behou sy kenmerkende humor en romanse terwyl ons hierdie werklik pynlike stories vertel.”

McDreamy is terug

Die ander groot nuus dié seisoen is dat Patrick Dempsey as dr. Derek “McDreamy” Shepherd terugkeer – al is dit in Meredith se covid-19-koorsdrome.

Sy word ook herenig met ’n ander karakter wat lankal dood is, dr. George O’Malley (TR Knight) – en in haar drome is hy weer die oulike George en nie vermink deur die bus wat sy dood veroorsaak het nie.

Dis vir aanhangers wonderlik dat McDreamy terugkeer, want die dood van Derek was net te neerdrukkend.

Patrick Dempsey keer terug as dr. Derek “McDreamy”
Patrick Dempsey keer terug as dr. Derek “McDreamy” Shepherd. Foto: Getty Images/Gallo Images

Heng, dit het kykers dan reeds ’n ewigheid gevat om die dood van McSteamy (Eric Dane) in daardie grusame vliegongeluk te verwerk!

Maar nou is Derek soort van terug en dit was alles Ellen se idee. Die akteurs, wat in Malibu, Kalifornië, naby mekaar woon, het saam gestap toe Ellen vir Patrick vra of hy dit sou oorweeg om na die program terug te keer.

“Ons het geweet dat ons karakters se bymekaarkoms ’n ligstraaltjie sou wees in ’n donker tyd,” het Ellen aan Deadline.com gesê.

HET JY GEWEET?
  • Al Grey’s se episodes se titels is ook die name van liedjies, buiten die seisoen 14- episode “1-800-799-7233” – die foonnommer vir die Amerikaanse landwye blitslyn vir gesinsgeweld.
  • Die episode het oor geslagsgeweld gegaan.

“Ons albei wou mense graag help en hulle laat glimlag. En ons het dit gate uit geniet om dit te verfilm.”

Patrick erken hy wou graag iets doen om tydens die pandemie te help.

“Ek wou ’n mate van vertroosting in hierdie tyd van onsekerheid gee, en dit is hoe dit begin het. En dit was regtig ’n wonderlike ervaring om terug te gaan.”

Die mediese taal

Die mediese terme wat ons op Grey’s geleer het:

10 BLADE ’n Skalpel wat gebruik word om klein insnydings in vel en spierweefsel te maak.

15 BLADE Die een wat jy gebruik om ’n borskas oop te breek.

BOVIE ’n Instrument wat elektrisiteit gebruik om wonde toe te skroei.

ECHO ’n Hartsonogram.

CODE BLUE ’n Mediese noodgeval.

CODE BLACK Daar’s ’n bom hier binne!

Voortdurende suksesverhaal

Deur die jare het Grey’s vele aktuele stories vertel, die wêreld aan talle inspirerende mediese studente voorgestel, vroue en swart mense bemagtig en die kollig op die LGBTQ-gemeenskap laat skyn.

En dit het die program boeiende kykstof in ’n immer veranderende wêreld gemaak.

Dit het ook goedhartigheid en deernis aan die kern – dokters word geleer pasiënte se gevoelens is net so belangrik soos hul koors, en mediese studente word geleer om mekaar te ondersteun, selfs al gryp hulle mekaar soms aan die keel.

“Oral waar ek gaan, hoor ek: ‘My dogter is ’n chirurg danksy jou,’ ” het Ellen eenkeer gesê.

Om nie te praat van die feit dat daar baie tussen die lakens baljaar word en die liefde net soveel aandag kry soos die liggaam nie. 

Die lewe ná ‘Grey’s’

Patrick Dempsey (Derek)

Patrick Dempsey het die rol van Derek vertolk. Fo
Patrick Dempsey het die rol van Derek vertolk. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hy speel ’n hoofrol in die reeks Devils (op Showmax), wat vir ’n tweede seisoen hernu is.

Sandra Oh (Christina)

Sandra Oh het die rol van Christina vertolk. Foto:
Sandra Oh het die rol van Christina vertolk. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sy oes lof en pryse in vir haar rol in die donkerkomiese spioenasiereeks Killing Eve.

Katherine Heigl (Izzie)

Katherine Heigl het die rol van Izzie vertolk. Fot
Katherine Heigl het die rol van Izzie vertolk. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sy het in Suits verskyn en is nou in die reeks Firefly Lane (Netflix).

Jeffrey Dean Morgan (Denny)

Jeffrey Dean Morgan het die rol van Denny vertolk
Jeffrey Dean Morgan het die rol van Denny vertolk. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hy speel die geliefde, onlangs bevryde skurk in The Walking Dead (Showmax).

Eric Dane (Mark)

Eric Dane het die rol van Mark vertolk. Foto: Gett
Eric Dane het die rol van Mark vertolk. Foto: Getty Images/Gallo Images

McSteamy het The Last Ship gaan aanvoer en toe in seisoen 1 van Euphoria (Showmax) ’n hoofrol gespeel.

TR Knight (George)

TR Knight het die rol van Georger vertolk. Foto: G
TR Knight het die rol van George vertolk. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hy het in die minireekse The Comey Rule (Showmax) en The Flight Attendant verskyn.

Isaiah Washington (Burke)

Isaiah Washington vertolk die rol van Burke. Foto:
Isaiah Washington vertolk die rol van Burke. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hy het in The 100 (Netflix) ’n hoofrol gespeel en onlangs in die 2020-dramareeks P-Valley verskyn.

BRONNE: EW.COM, PEOPLE.COM, NYTIMES.COM, SCREENRANT.COM, DEADLINE.COM

  • Grey’s Anatomy begin om 20:30 op 22 Februarie op M-Net (DStv-kanaal 101)
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe