STAR TREK: PICARD

Die legendariese Britse akteur Patrick Stewart is terug as Jean-Luc ­Picard.

Hy is een van die geliefste karakters in die Star Trek: The Next Generation-franchise. Nou kry die leier, kapt. Jean-Luc Picard, sy eie reeks.

Hier is vyf dinge wat jy moet weet oor dié reeks:

  • Die legendariese Britse akteur Patrick Stewart is terug as die gewilde Starfleet-kaptein en admiraal Jean-Luc Picard, wat oorspronklik van 1987 tot 1994 in die TV-reeks Star Trek: The Next Generation gesig gewys het en laas in 2002 in die fliek Star Trek: Nemesis te sien was.
  • Die reeks het 10 episodes. Twintig jaar het verloop sedert die gebeure in Nemesis toe die robot Data (Brent Spiner) homself opgeoffer het om die res van die Enterprise-span te red. Picard het uit die Starfleet bedank oor ’n ernstige grief (wat stadigaan onthul word) en leef deesdae vreedsaam op ’n wynplaas in Frankryk saam met sy hond, Number One. Dan daag ’n geheimsinnige jong vrou, Dahj (Isa Briones), met geheueverlies op en klop by hom aan vir hulp. Picard word dan uit aftrede gedwing om weer die heelal te red.
  • Daar is ’n rits nuwelinge in die reeks. Onder hulle is die voormalige intelligensieoffisier en Picard se vervreemde kollega, Raffi Musiker (Michelle Hurd), die vlieënier Cristóbal “Chris” Rios (Santiago Cabrera), die wetenskaplike dr. Agnes Jurati (Alison Pill) en die Romulan-vegter Elnor (Evan Evagora).
Dominic Burgess (Mr Vup, links) en Santiago Cabrera (Cristóbal Rios) in Star Trek: Picard. Dié reeks met Patrick is ’n gunsteling onder resensente.
  • Seven of Nine (Jeri Ryan) maak ook haar terugkeer na die franchise.
Jeri Ryan is terug as Seven of Nine.
Jeri Ryan is terug as Seven of Nine.
  • Kritici is gaande oor die reeks. Dit het tot dusver 89% op die resensiewebtuiste rottentomatoes.com. Dis reeds vir ’n tweede seisoen hernu.

2020.
18

BESKIKBAAR OP AMAZON PRIME

QUEEN SONO

kykstof
kykstof

Dié aksiebelaaide reeks is die stroomdiens Netflix se eerste oorspronklike reeks vir en deur Suid-Afrikaners.

Dit volg Queen Sono, ’n hoogs opgeleide topspioen vir ’n geheime Suid-Afrikaanse staatsorganisasie wat gestig word om die lewe van mense in Afrika te verbeter.

Sy pak egter haar gevaarlikste sending nóg aan toe sy agter die waarheid wil kom van haar vryheidsvegter-ma se dood.

Die titelrol word vertolk deur die plaaslike aktrise Pearl Thusi, wat al onder meer te sien was in die Amerikaanse televisiereeks Quantico en die fliek The Scorpion King: Book of Souls (2018).

Frank Opperman en Rob van Vuuren van Corné & Twakkie-faam is ook in die rolverdeling.

2020.
16

BESKIKBAAR OP NETFLIX

WESTWORLD

Dié wetenskapsfiksiereeks gaan oor Westworld, ’n futuristiese speelterrein waar mense wat dit kan bekostig ’n kaartjie kan koop wat geen perke ken nie.

Hier is lewensgroot robotte geskep wat nes regte mense lyk. Die reeks wemel van bekendes soos Thandie Newton en Anthony Hopkins.

Breaking Bad se Aaron Paul maak ook sy debuut in die derde seisoen.

MAANDAE 22:00 OP M-NET SEISOEN 1 TOT 3 IS OOK OP SHOWMAX

DIE SEEMEEU

kykstof
kykstof

Dramafliek.

Christiaan Olwagen omskep Anton Tsjekof se klassieke teaterstuk The Seagull en laat dit afspeel in Suid-Afrika in die 1990’s, amper 100 jaar nadat dit geskryf is.

Die karakters in dié sterbelaaide fliek sukkel almal met hul eie vrese en twyfel.

Onder hulle is die teaterdiva Irene (Sandra Prinsloo), wat sukkel met die gedagte dat kunstefeeste nou haar voorland is, haar sieklike ouer broer, Piet (Marius Weyers), wat wens hy’t meer kanse in die lewe gevat, en die naïewe, inspirerende aktrise Nina (Rolanda Marais), wat wil ontsnap uit haar ouers se kloue en die klein dorpie waar sy woon.

2018.
127 MIN.
16TSDG

BESKIKBAAR OP SHOWMAX

SCHALK BEZUIDENHOUT: SCHALKIE

Lus vir iets om die lagspiere te kielie?

Die krulkopkomediant met sy kenmerkende truitjies en skerp tong wat Danny in die komediereeks Hotel speel, se derde Engelse eenmanvertoning sal jou laat skater.

Schalk skeer die gek met homself met staaltjies uit sy lewe.

2019.
89 MIN.
16T

BESKIKBAAR OP SHOWMAX

21 BRIDGES

Die Black Panther-ster Chadwick Boseman vertolk die hoofrol in dié boeiende misdaaddramafliek. Chadwick speel ’n New Yorkse speurder wat op soek is na twee mans wat polisiemanne doodgemaak het.

Hy sluit dan die 21 brûe om Manhattan om hulle vas te trek, maar besef ook gou als is nie soos dit lyk nie.

2019.
120 MIN.
16GT

OP DSTV BOX OFFICE

KORTFLIEKS

VAN NASIONALE BELANG

Stefan Naudé is ’n geheime agent wat vir Nasionale Intelligensie werk. Dis sy werk om oproepe van Suid-Afrikaners te monitor om vas te stel of daar moontlike bedreigings vir nasionale sekuriteit is.

Tydens ’n gesprek wat hy tussen ’n sluipmoordenaar en sy skelmpie afluister, ontdek hy ’n minister se lewe is in gevaar.

  • Met Tiaan Rautenbach, Zak Hendrikz en die Binnelanders-aktrise Je-ani Swiegelaar.

SATERDAG 11 APRIL 21:30 OP KYKNET

DIE BEGRAFNIS

kykstof
kykstof

In dié sterbelaaide kortfliek moet ’n begrafnis haastig gereël word toe Mathilda haar geliefde man, Hendrik Exodus Gert Thys, aan die dood afstaan.

Die familie wil haar ondersteun, maar elkeen het eintlik hul eie agenda.

  • Met Laetitia Solomons, Lee-Ann van Rooi, Roxanne Blaise en Ann Juries-May.

WOENSDAG 15 APRIL 15:00 OP KYKNET

VIR DIE KLEINSPAN

FROZEN II

kykstof
kykstof

Anna, Kristoff, Olaf en Sven is terug! In die opvolg van die trefferfliek Frozen staan die sneeukoningin, Elsa, voor ’n kruispad. Maak nie saak hoe gelukkig sy is om omring te wees deur die mense van Arendelle nie, iets is net nie pluis vir Elsa nie. Sy sit af op ’n avontuur wat gou ontaard in ’n reis van selfontdekking.

  • Met Kristen Bell.

120 MIN.
O13G

OP DSTV BOX OFFICE

TOY STORY 4

In die vierde aflewering van die Toy Story-fliekreeks sit Woody (Tom Hanks), Buzz Lightyear (Tim Allen) en die res van die kliek af op ’n reis saam met Bonnie (Madeleine McGraw) en ’n nuwe “speelding”, Forky (Tony Hale). Die avontuur neem ’n onverwagte wending in toe Woody se pad met dié van sy langverlore vriend Bo Peep kruis.

  • Tom Hanks.

2019.
96 MIN.
A

OP DSTV CATCHUP

BOSS BABY: BACK IN BUSINESS

kykstof
kykstof

Dié animasiereeks is gegrond op die gewilde 2017-trefferfliek Boss Baby. In dié drie seisoene van die animasiereeks bring Boss Baby sy ouboet, Tim, na die kantoor om hom die kuns van sake doen te leer. JP Karliak vervang Alec Baldwin as die stem van die titelkarakter.

BESKIKBAAR OP NETFLIX

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, KYKNET, HBO, NETFLIX, DISNEY