Jaz vertolk die rol van Sabrina se boesem­vriendin Rosalind Walker
View this post on Instagram

Somebody get this girl a dog!! It's urgent.

A post shared by Jaz (@jaz_sinclair) on

Was jy destyds ’n aanhanger van Sabrina the Teenage Witch?

Ek was ’n aanhanger toe ek jonger was, maar ek het dit baie lank laas gekyk. Ek onthou dat ek dit baie geniet het; ek was nog altyd dol oor hekse.

Wat kan aanhangers van die nuwe weergawe verwag?

Die reeks bevat baie verskillende elemente. Dis snaaks, romanties, skrikwekkend en soveel meer. Jy sal op die karakters verlief raak en tegelyk bang wees.

Hoe het jy gevoel toe jy van die nuwe reeks hoor?

Ek was ongelooflik opgewonde! Ons weer­gawe is baie anders as die oorspronklike een. Ek was dadelik verlief op die draaiboek toe ek dit lees.

Vertel ons meer oor jou ­karakter.

Ek is dol oor my karakter. Rosalind is ver­skriklik sterk, lojaal en passievol. Dit bied my die geleentheid om baie pretdinge in die reeks te doen.

Enige snaakse oomblikke op die stel?

Daar is te veel om van te kies! Ons het baie pret op die stel. Ons lag altyd, maak ’n miljoen grappies, en soms maak ons ook sommer musiek tussen tonele.

Wat het jy by Rosalind geleer?

Ek het geleer om in die goeie dinge te glo en daarvoor te baklei.

Sabrina fokus op vroueregte in die reeks. Is jy ook passievol hieroor?

Dis een van die dinge waaroor ek die passievolste is. Vroue is wonderlike, sterk, pragtige en delikate wesens. Dis opwindend dat ons stemme nou gehoor word. My karakter se feminisagtergrond is een van die hoof­redes hoekom ek deel van die projek geword het.

Hoe was jy op hoërskool?

Ek het eers in die koor gesing en toe word ek ’n rasieleier. Maar toe ek ’n dramafoendi word, het ek nooit weer teruggekyk nie. Die teater was soveel pret en ek het ’n cool groep vriende gehad. Ons het baie tyd saam deurgebring en daarvan gehou om weird te wees.

Wat kyk jy tans op Netflix?

Ek het The Office begin kyk. Ek het nou die dag vier seisoene gekyk en net alleen in my kamer gelag.

Ross vertolk die rol van Sabrina se kêrel, Harvey Kinkle

Was jy destyds ’n aanhanger van Sabrina the Teenage Witch?

Ek was bewus van die strokiesprent deur ­Archie Comics, maar was nie juis ’n aan­hanger nie. Dit was ’n bietjie voor my tyd. Maar toe ek die rol kry, is ek weer aan die reeks bekendgestel.

Wat kan aanhangers van die nuwe reeks verwag?

Dis beslis donkerder as die oorspronklike reeks (1996 se Sabrina the Teenage Witch). Ek dink nie jy kan die twee vergelyk nie. Ons het dieselfde vervaardigers as die televisiereeks Riverdale, wat beslis ’n rol speel in die gevoel van die reeks. Ons s’n is ’n mengsel van ’n komedie, romanse en riller.

Hoe het jy gevoel toe jy van die nuwe Sabrinareeks hoor?

Ek het nie die oorspronklike reeks gekyk nie, maar het geweet die nuwe weergawe van enige reeks is nooit dieselfde as die oorspronklike een nie. Ons het dieselfde karakters, maar dis nie dieselfde ding nie. Die skrywers en vervaardigers het regtig uit­stekende werk gedoen.

Hoe het jy vir jou rol as Harvey voorberei?

Harvey is onbewus van wat om hom aangaan, so daar was nie eintlik enige navorsing om te doen nie. Hy is Sabrina se eerste liefde en net ’n gewone hoërskoolseun. Ek het my bes gedoen om net getrou te wees aan my karakter en het probeer onthou hoe dit gevoel het toe ek die eerste keer verlief was.

Vertel ons meer oor jou ­karakter.

Hy is eintlik ’n groot rede hoekom dit moeilik is vir Sabrina om ’n heks te word. Maar hy is baie aangenaam.

Hoe was jy op hoërskool?

Ek het nooit die geleentheid gehad om hoër­skool by te woon nie; ek was besig om Austin & Ally (’n Disneyreeks) te skiet en moes my skoolwerk op die stel doen. Ek dink nie ek het enigiets misgeloop nie. Ek is tevrede met hoe dinge uitgewerk het.

Sabrina het Harvey in die reeks gevra watter spesiale magte hy graag sal wil hê. Wat sal jou antwoord hierop wees?

Ek sal wil vlieg. Eintlik sal ek enige spesiale mag kies – gee dit vir my en ek sal die beste daarvan maak!

Hoe was dit op die stel van Sabrina in Kanada?

Die mense op die stel is wonderlik. Ek het soveel pret gehad al het ons eers tweeuur snags klaar verfilm.

Kiernan Shipka is allergies vir katte en in die reeks het sy ’n kat, Salem. Ly jy aan enige aller­gieë?

Ek was eens op ’n tyd allergies vir katte, maar het geen probleme met die katte op die stel nie.

Waarna kyk jy tans op Netflix?

Ek is op die oomblik besig om Friends te kyk, en dis uitstekend! My hele familie het dit al gekyk, maar ek het nog nie. 

Chilling Adven­tures of Sabrina

Die reeks handel oor Sabrina (Kiernan Shipka) wat op haar 16de verjaardag moet kies tussen die heksewêreld en haar familie, vriende en kêrel in die mensewêreld en is van 26 Oktober op Netflix beskikbaar.

View this post on Instagram

blueberry eyes...12 days until #caos

A post shared by Kiernan Shipka (@kiernanshipka) on

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM/@ROSS_LYNCH, NETFLIX