“Hulle dink dis uitstekend,” sê Minki oor haar oumas wat straal van trots oor hul beroemde kleindogter. “Hulle sê mos met grysheid kom wysheid; daarom weet hulle seker waarvan hulle praat,” spot sy. En dit is darem nie net haar oumas wat die program geniet nie, vertel sy. “Gelukkig is die terugvoer oor die program tot dusver baie positief en vind mense dit interessant.”

Vier episodes van haar program, Minki, is reeds uitgesaai, en meer as 20 lê nog vir kykers voor.

Minki van der Westhuizen
Saam met Mathys (links) het Susan en Herman Jordaan, ’n blinde ­fisio terapeut van Kleinmond, by Minki kom kuier. Foto: Jacques Stander.

In dié program gesels sy met bekendes of gewone mense met inspirerende stories. Haar eie geselsprogram het Minki, ’n voormalige aanbieder van die maatsoekprogram Boer Soek ’n Vrou, opnuut laat besef “watter voorreg dit is om gesond te wees” en ook “hoeveel behoeftige mense daar is”.

“ ’n Mens kan nie almal help nie, maar bietjies-bietjies kan jy ’n paar mense se lewe verander,” sê sy.

Minki van der Westhuizen
Minki agter die skerms. Foto: Jacques Stander.

Dit verg harde werk om die program aanmekaar te sit, vertel Minki. “Die meeste werk gaan in die navorsing in om die regte gaste vir die program te kry en seker te maak daar is ’n link tussen die gaste."

Om een halfuurepisode van Minki te skiet, neem sowat 60 tot 80 minute, maar “wanneer die kameras begin rol, is die meeste van die harde werk reeds gedoen.” 

Minki van der Westhuizen
Die stilis en grimeerkunstenaar Mari Conradie kry Minki gereed vir die kameras. Foto: Jacques Stander.

Dikwels word tot drie episodes per dag geskiet. “Dit is belangrik dat ek weet wat ons uit elke episode wil kry, want daar is altyd min of meer ’n tema. Kykers moet lief raak vir die gaste, want dan luister hulle as die gaste interessante of tegniese inligting gee.”

Minki word Woensdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.