Die 41-jarige Lyntjie is ’n gebore Namakwalander en woon deesdae in die noordelike voorstede van Kaapstad. Ons leer haar beter ken. 

Lyntjie Jaars
Lyntjie Jaars. Foto: Willem Botha

1. Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy’s 'OppieStoep' se nuwe medeaanbieder?

Ek was absoluut oorstelp, daai gevoel van jou verjaardag en Kersfees op dieselfde dag. Ken julle daai gevoel? 

2. Wat geniet jy die meeste as medeaanbieder? 

Om na die storievertellers te luister en ook daardeur te leer. Dit is vir my vervullend om op ’n komiese manier te kan help juis wanneer ons land ’n moeilike tyd deurmaak. 

3. Hoe is dit om saam met Pietman te werk?

Pietman is ’n storieverteller van formaat; ek kan ure lank net na hom luister en by hom leer. Hy maak my rustig, want hier op ’n kol wou die senuwees die oorhand kry. 

Lyntjie Jaars en Pietman Geldenhuys is die aanbied
Lyntjie Jaars en Pietman Geldenhuys is die aanbieders van OppieStoep. Foto: Willem Botha

4. Waar kom jou liefde vir stories vertel vandaan?

Ek is ’n gebore Namakwalander, en ek dink dis in ’n groot mate waar storievertelling vandaan kom. Die Namakwalanders se besonderse manier van praat en raak beskrywings het gemaak dat ek juis net met die grootmense wou sit en xhorro (gesels). 

5. Waarna kan kykers uitsien in hierdie seisoen? 

Ons het ’n nuwe stel en daar is ook nuwe storievertellers. Gaste soos Johan Stemmet, Naas Botha, ds. André Boesak en Valiant Swart kom maak ook ’n draai. 

6. Waar kom jou liefde vir radio vandaan? 

Ek was nog altyd ’n praat mens. Ek het in 2009 begin met oggend- en aandoordenkings op RSG en doen dit nog steeds wanneer daarna gevra word. 

Ek het in 2010 my eerste vollengte radioprogram, Familiefokus, op Sondaeaande op Radio NFM uitgesaai en dit was ’n wegholsukses.  

Lyntjie, Pieter Koen, Gerrie Pretorius, Margit Me
Lyntjie, Pieter Koen, Gerrie Pretorius, Margit Meyer-Rödenbeck en Pietman Geldenhuys op die stel van OppieStoep. Foto: Verskaf

7. Jy kuier ook gereeld op die kassie as Klop!-veldaanbieder. Wat onthou jy van jou eerste insetsel vir die program? 

Ek is die Noord-Kaapse veldaanbieder vir Klop! waar ons unieke stories gaan haal en met wonderlike mense kennis maak. 

My eerste insetsel was geskiet op Woensdag 3 Julie 2019 in Okiep by Garage, ’n dansskool van hoogstaande gehalte. Ek het gesels met Alfred Hinkel en John Linden wat hulle alles gee om ’n verskil te maak deur hierdie kunsvorm. 

8. Watter vyf dinge oor jou sal mense verbaas wees om uit te vind? 

Ek is eintlik ’n skaam mens, maar niemand glo my nie omdat ek baie praat. Ek kan ’n staanvuur maak, skryf gedigte in my vrye tyd, is versot op brille, en my vriende het my een jaar uitgedaag om die Leeuloop vir ’n Idols-oudisie te doen. Toe aanvaar ek dit.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.