Die man trek die stoel vir my uit, gee my ’n spyskaart en bestel vir my ’n glas vonkelwyn. Ja, die kêrel wat ek vir middagete ontmoet, weet hoe om ’n vrou op die hande te dra. 

En dis seker g’n wonder nie, want dié hartebreker is die ou om wie se aandag 24 vroue meeding in die eerste Suid- Afrikaanse weergawe van die trefferreeks The Bachelor.

Hy staan ’n hele 1,9 m in sy sokkies, en sy smeulende voorkoms, gebeitelde maagspiere en bultende armspiere sorg vir ’n sexy prentjie. 

Maar Lee Thompson (30) is veel meer as net iets vir die oog; hy is ’n ware heer, galant, gaaf en sorgsaam.

Maar hoekom is ’n man soos Lee dan nog ’n enkelloper? Daar was tog sekerlik al ’n rits vroue wat gretig was vir ’n meer permanente verhouding? 

Toe nie. Lee sê hy was al dikwels die vyfde wiel aan die wa tussen sy vriende. 

Lee was die vanselfsprekende keuse vir die reeks.
Lee was die vanselfsprekende keuse vir die reeks. Foto: Facebook/@LeeThompsonSA

“Ek was te gefokus op sake en het my liefdeslewe heeltemal afgeskeep. My beste vriend is getroud en het ’n kind, en my broer ook.

Baie van my vriende is verloof of het meisies. Dis moeilik wanneer hulle my by sosiale geleenthede wil insluit.”

“Ek soek ook iemand om my lewe mee te deel.”

Tydens die verfilming van die werklikheidsreeks het hy gewoond geraak aan vroue trakteer; dus is ek in goeie hande tydens ons middagetekuier by die Michelangelo- hotel in Sandton, Johannesburg. Hy weet nét hoe; hy is ingeoefen. 

Lee het tydens verfilming, wat langer as ses weke geduur het, in een van die luukse suites hier in die hotel gebly, en die kandidate het in die nabygeleë Sandhurst in ’n herehuis gewoon. 

“Dit was betowerend,” sê Lee met ’n breë glimlag wat sy volmaakte wit tande beklemtoon. 

“Ek soek ook iemand om my lewe mee te deel.”

“Daar was beslis ’n paar stomende tonele. En daar was ’n vonk tussen my en ’n hele paar van die uitsonderlike vroue; dit was onvermydelik dat dinge sou gebeur.” 

Dit was vir M-Net en die produksiemaatskappy Rapid Blue Productions ’n maklike taak om Lee as The Bachelor South Africa te kies.

“Ons eerste Bachelor is ’n ware droomman – een uit ’n miljoen,” sê Lani Lombard, M-Net se publisiteitshoof. 

“As jy dit kan regkry om verby daardie sexy blokkiesmaag en smeulende glimlag te kyk, sal jy ’n opregte siel met hope seunsagtige sjarme ontdek. ’n Ou op wie ons kykers, en beslis elke deelnemer, ongetwyfeld smoorverlief gaan raak.” 

Lee hoop sy verskyning in die reeks sal lei tot iets wat hy nog altyd wou hê: ’n groot gesin. Hy en sy broer, Ross (29), is deur hul enkelma, Desiree (55), in Port Elizabeth grootgemaak en het Pretoria toe getrek toe Lee 13 was. 

“My pa het my, my ma en broer gelos toe ek jonk was, en daar was moei- like tye. Dit was net ons drie. My ma was nog altyd daar vir ons,” sê hy. 

Die spiertier was ook al ’n paar keer op die voorb
Die spiertier was ook al ’n paar keer op die voorblad van die tyd­skrif Men’s Health.

“Ek wil ’n gesin hê; dis hoekom die reeks vir my so ’n prioriteitsaak is. Dis ’n belangrike deel van waar ek my nou in my lewe bevind.” 

Lee moes daaraan gewoond raak om daagliks ure lank voor die kameras te wees. Voor die reeks was sy televisieverskynings beperk tot rugby: Hy het in die o.19-span vir die Blou Bulle (uitnodigingspankaptein) gespeel voor hy KwaZulu-Natal toe is, waar hy vir die Sharks se o.21-span uitgedraf het. 

“Ek het daarna nog twee jaar vir die Sharks gespeel,” sê hy. 

Hy het in 2012 teruggekeer na Pretoria, waar hy vir die Universiteit van Pretoria se span uitgedraf het voor hy sy rugbystewels weggepak het om onder meer modelwerk te doen. Boss Models SA het Lee raakgesien en hy het kort voor lank op die voorblaaie van plaaslike tydskrifte gepryk. 

Maar modelwees was nie genoeg nie. Lee is vol ondernemingsgees en het in 2014 ’n gimnasium in die Kaapse spogbuurt Kampsbaai geopen. Die gim is intussen gesluit, maar hy hoop om dit die een of ander tyd te heropen. 

The Bachelor
Hy is ’n model en sakeman. Foto: Lubabalo Lesolle

Hy het ook ’n welsynorganisasie, #LiveHopeLoveSA, wat gereeld met plaaslike glansmense saamspan om ’n boodskap van hoop aan behoeftiges te versprei. 

Lee besit ’n skoonmaakmaatskappy, bestuur ’n webontwikkelingsdiens en het pas sy eie reeks weerstandsoefenapparate bekendgestel. Maar vir eers is sy prioriteit bloot om liefde te vind. 

Lee het aanvanklik gedink The Bachelor sou ’n eenvoudige proses wees. Hoe moeilik kan dit dan nou wees om een spesiale mens uit ’n groep van 24 vroue te vind? 

Maar tot sy verbasing was hy aangetrokke tot talle van die deelnemers, en die weeklikse roosseremonies (sien kassie onder) het bittersoet geleenthede geword waar hy elke keer traag die deelnemers moes groet wat hy leer ken en van wie hy begin hou het. 

“Ons het regtig aan mekaar geheg geraak,” sê hy. “Daar was tye dat ek eerlikwaar nie wou groet nie.”

Lee het aanvanklik gedink The Bachelor sou ’n eenvoudige proses wees.

Het Lee dus die vrou van sy drome gevind? Ons sal voor die kassie moet inskuif om uit te vind,” sê hy. 

Maar hy laat wel val watter soort troue hy graag wil hê indien dié dag aanbreek. 

“Dit sal iets intiems wees, met baie hegte vriende en familie, op die strand met ’n pragtige sonsondergang en die see op die agtergrond.

“Maar,” sê hy dan ewe galant, “my maat sal besluit. Ek sal saamspeel met wat sy ook al wil hê. ’n Gelukkige vrou beteken immers ’n gelukkige lewe.” 

  • The Bachelor South Africa word Donderdae om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.
So werk die reeks
The Bachelor South Africa, wat op Valentynsdag begin het, is ’n reeks wat uit 13 episodes bestaan waarin Lee Thompson 24 deelnemers sal ontmoet. 

As een sy belangstelling prikkel, sal hy haar kies vir ’n afspraak op hul eie, maar hy het ook die opsie van ’n groepafspraak waar hy hoop om tyd saam met elke vrou deur te bring. 

Aan die einde van elke episode het die Bachelor ’n bos rose, en hy gee een aan elkeen van die vroue wat hy in die reeks wil hou. Vroue wat nie ’n roos kry nie, word uitgeskakel. 

Net twee vroue sal die laaste ronde haal. Die een wat die laaste roos kry, sal sy nuwe meisie wees en hy kan net daar die jawoord vra as hy wil. 

Maar hy kan ook besluit om nie vir een van die twee ’n roos te gee nie.

Ná die roos

In die 22 seisoene van The Bachelor in Amerika was daar talle verhoudings en verlowings, maar min paartjies het bymekaar gebly. Die verhoudings wat wel die toets van die tyd deurstaan het, sluit in: 

  • Jason Mesnick van seisoen 13 het vir Melissa Rycroft gevra om te trou, maar dit het nie gehou nie. Hy het toe die naaswenner, Molly Malaney, ’n tweede kans gevra; hulle is nou getroud en het ’n vyfjarige dogter, Riley. 
Jason Mesnick en Molly Malaney.
Jason Mesnick en Molly Malaney. Foto: Instagram/@mollymesnick

  • Seisoen 17 se Sean Lowe en Catherine Giudici is The Bachelor se suksesvolste paartjie. Sean het in die slotepisode vir Catherine die jawoord gevra, en hulle is in 2014 getroud. Hulle woon in Dallas saam met hul seuns, Samuel (1) en Isaiah (9 maande). 
Catherine Giudici en Sean Lowe.
Catherine Giudici en Sean Lowe. Foto: Instagram/@catherinegiudici

  • Arie Luyendyk jr. het in die 22ste seisoen vir Becca Kufrin gevra om te trou. Toe los hy haar vir die naaswenner, Lauren Burnham. Arie en Lauren het verlede jaar aangekondig hulle verwag ’n babadogter en is vanjaar getroud.
Arie Luyendyk jr en Lauren Burnham
Arie Luyendyk jr en Lauren Burnham. Foto: Instagram/@ariejr