Hier is hulle: die 16 jong vroue wat vanjaar meeding om die Mej. Suid-Afrika-kroon – asook die leeueaandeel van pryse ter waarde van ’n allemintige R3 miljoen, ’n rekord in die wedstryd se geskiedenis.

Beulah Baduza (23), Hatfield, Pretoria

Sy studeer LL.B. aan die Universiteit van Pretoria en hou van oefen, sing, reis, fietsry, Netflix kyk en lees. Sy sou graag haar ma, Naomi Campbell, Michelle Obama, Beyoncé, Winnie Madikizela-Mandela en Serena Williams vir ete nooi.

 Beulah Baduza
Beulah Baduza Foto: Ingrid Alice

Chuma Matsaluka (21), Nyanga, Kaapstad

Sy is in haar derde B.A.-jaar aan die Universiteit van Kaapstad met hoofvakke antropologie, bedryfsosiologie en politieke studie. Chuma geniet stap, koffieafsprake met haarself, lees en tyd saam met familie en vriende.

 Chuma Matsaluka
Chuma Matsaluka Foto: Ingrid Alice

Eloïse van der Westhuizen (24), Panorama, Kaapstad

Sy het ’n B.Com.-honneursgraad van die Universiteit Stellenbosch en werk as ’n koopwarebeplanner. Eloïse bewonder Tamaryn Green, Mej. SA 2018, en sê dié se TB-veldtog het haar openlik help wees oor haar eie TB-stryd.

 Eloïse van der Westhuizen
Eloïse van der Westhuizen Foto: Ingrid Alice

Keabetswe Kanyane (25), Montana, Pretoria

Sy werk as ontleder en projekkoördineerder terwyl sy B.Com.-honneurs aan die Universiteit van Johannesburg studeer. Keabetswe hou van gim, kook en onthaal, The Walking Dead kyk, gospelmusiek en afval.

 Keabetswe Kanyane
Keabetswe Kanyane Foto: Ingrid Alice

Danielle Wallace (26), Kaapstad

Danielle het ’n B.Sc.-graad en was ’n handelsmerkbestuurder in die bemarkingsbedryf voor sy besluit het om net op modelwerk te fokus. Sy hou van draf, stap en buite wees – en soms om heeldag in haar pajamas Netflix te kyk.

 Danielle Wallace
Danielle Wallace Foto: Ingrid Alice

Errin Brits (22), Randparkrif, Johannesburg

Dié LL.B.-student aan Wits se rolmodelle sluit in Thuli Madonsela, die vorige openbare beskermer, en Peggy-Sue Khumalo, ’n oud-Mej. SA. Errin luister na hip-hop en Ed Sheeran en is gek oor sjokolade en om grimering te beproef.

 Errin Brits
Errin Brits Foto: Ingrid Alice

Kgothatso Dithebe (24), Centurion, Pretoria

As sy die titel wen, wil sy hoop bring aan dié wat “mishandel, misplaas en misverstaan” voel. Kgothatso, wat deur Unisa LL.B. studeer, het ’n geboortevlek aan haar gesig, en sê sy wil wys dat andersheid ’n seëning kan wees.

Lisa Stoffela (26), Morningside, Johannesburg

Dié B.Com.-gegradueerde besit ’n klein pizza-wegneemonderneming en is ’n deeltydse model. Lisa sê sy is gedrewe, meelewend en veerkragtig. Haar gunstelingtydverdryf is om saam met familie en vriende te kuier.

 Lisa Stoffela
Lisa Stoffela Foto: Ingrid Alice

Nompumelelo Maduna (24), Rockville, Soweto

Dié privaat bankier wil Mej. SA word om ander te inspireer en bemagtig deur te wys harde werk maak enigiets moontlik. Sy het ’n bemarkingsbestuursgraad van die Universiteit van Johannesburg en speel netbal en gholf.

 Nompumelelo Maduna
Nompumelelo Maduna Foto: Ingrid Alice

Xia Narain (23), Chatsworth, Durban

Xia doen modelwerk in Suid-Afrika en Turkye en rig ook loopplankstap, etiket en selfbeeldontwikkeling by ’n modelskool af. Sy het ’n B.A.-graad en wil volgende jaar haar honneurs in kliniese sielkunde doen.

 Xia Narain
Xia Narain Foto: Ingrid Alice

Loren Leigh Jenneker (24), Centurion, Pretoria

Sy droom van forensiese rekenmeester word en studeer vir ’n B.Com.-graad in finansies aan die Universiteit van Johannesburg. Sy doen ook modelwerk, versamel boeke en help kinders wat sukkel om te lees.

 Loren Leigh Jenneker
Loren Leigh Jenneker Foto: Ingrid Alice

Sasha-Lee Olivier (26), Alberton, Johannesburg

Sasha-Lee is ’n entrepreneur, model en Wits-student met bemarking en sielkunde as hoofvakke. Sy geniet visvang, is ’n kunsliefhebber en ’n groot aanhanger van Beyoncé, Coldplay en die TV-program The Big Bang Theory.

 Sasha-Lee Olivier
Sasha-Lee Olivier Foto: Ingrid Alice

Zanele Phakathi (20), Soweto, Johannesburg

Die jongste deelnemer studeer sake-inligtingstelsels aan die Universiteit van Johannesburg en spog met meer as 70 skoonheidstitels. Zanele is ná ’n motorongeluk verlede jaar die gehoor in haar linkeroor kwyt.

 Zanele Phakathi
Zanele Phakathi Foto: Ingrid Alice

Noluthando Bennett (24), Kagiso, Krugersdorp

Sy is ’n klankingenieur met ’n nagraadse kwalifikasie in multimedia en webontwerp. Jacqui Mofokeng (Mej. SA 1993) en die Amerikaanse rolprentmaker Ava DuVernay inspireer haar. Sy hou van lees en modelwerk.

 Noluthando Bennett
Noluthando Bennett Foto: Ingrid Alice

Sibabalwe Gcilitshana (24), Bellville, Kaapstad

Siba, ’n parlementêre beampte en navorser vir Equal Education, se inspirasie is Cynthia Shange, Mej. Swart SA in 1972. Sy hou van sing, mediteer, stap en kyk graag die TV- programme Breaking Bad en Killing Eve.

 Sibabalwe Gcilitshana
Sibabalwe Gcilitshana Foto: Ingrid Alice

Zozibini Tunzi (25), Kaapstad

Zozibini is besig om haar B.Tech. as skakelbeampte aan die Kaapse Skiereiland-universiteit van Tegnologie te voltooi. Haar rolmodel- le is haar ouers, en sy wil graag haar ander groot rolmodel, Caster Semenya, ontmoet. 

 Zozibini Tunzi
Zozibini Tunzi Foto: Ingrid Alice
  • Die wenner, wat op 9 Augustus by die Sun Arena by Time Square in Pretoria aangekondig sal word, ontvang onder meer R1 miljoen kontant en die naaswenner R250 000. Die res van die top-16 sal elk R25 000 huis toe vat.