Wendy Newman in Arendsvlei

Rehane Abrahams as Wendy Newman
Rehane Abrahams as Wendy Newman

Rehane Abrahams, die vrou agter die superfeeks Wendy Newman in die telenovelle Arendsvlei, het vanjaar kykers rooi laat sien. 

Nie net het Wendy om elke hoek en draai die skoolhoof Beatrice (Jolene Martin) se lewe hel gemaak nie; wie kan daai stomende video vergeet wat sy van Bea en haar skelmpie, Christopher (Ernest St. Clair), by die matriekafskeid voor die geskokte leerders en hul ouers gespeel het! 

Sy het boonop als in haar vermoë gedoen om Beatrice en haar nuwe liefie, Hamilton (Kevin Smith), se liefdesbootjie te laat sink.

Sy’s ook nog nooit vasgetrek vir die moord op Beatrice se vervreemde man, David (Oscar Petersen), nie. Sy’t sy lyk uit sy graf gesteel, verbrand, toe sy tande gehou en sowaar onlangs daarmee skaak gespeel!

“Wendy is nog lank nie klaar met haar geite nie,” sê Tarryn Josephs, die publisiteitsbestuurder van kykNET & kie. 

“In 2020 is sy volstoom besig om nie net Beatrice se lewe hel te maak nie; groot drama tussen haar en haar dogter, Debra (Kay Smith), vind ook plaas. Kykers moet maar hul sitplekgordels aansit en gereed maak vir ’n emosioneel belaaide wipwaprit.”

Dr. Annelize Roux in Binnelanders

Cindy Swanepoel as haar karakter, Dr. Annelize Rou
Cindy Swanepoel as haar karakter, Dr. Annelize Roux

As daar een mens is aan wie se verkeerde kant ons nooit wil kom nie, is dit dr. Annelize Roux s’n. 

Cindy Swanepoel se karakter het vanjaar groot moles in die hospitaaldramareeks veroorsaak en die lewe van haar baas by Binneland Kliniek, At Koster (Hans Strydom), hel gemaak. 

Toe At per ongeluk Renier (Eduard Horn), ’n broer van een van sy vriende, op sy plaas doodgery het, het Annelize die blaam gevat en toe At afgepers om met haar te trou. 

En toe knyp sy en haar kollega dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) boonop die kat in die donker.

Die ander skok? 

Annelize moes die oorblywende embrio’s met die DNS van haar en At se seun, Conrad (Hykie Berg), vernietig nadat hulle vroeër vanjaar een in 'n baanbrekersoperasie gebruik het om At se lewe ná ’n beroerte te red.

Maar sy’t 'n embrio gehou en dit het op die ou end onlangs Conrad se lewe gered. “In 2020 gaan Annelize mooi moet dink oor wat sy gaan doen, want At se eks Ingrid Jordaan (Michelle Botes) is weer van Januarie af in haar visier – en sy ontdek iets oor Ingrid wat sy kan gebruik om haar eie agenda te bevorder,” vertel Ernst Swart, 'n publisiteitsbestuurder vir Binnelanders.

“Groot drama wag ook wanneer At se aartsvyand, Rian Malherbe (Erik Holm), na Pretoria terugkeer – en Annelize sal moet keer dat sy nie self in haar eie ambisies geskaakmat word nie.”

Mariaan Welman in 7de Laan

Deirdre Wolhuter as Mariaan Welman
Deirdre Wolhuter as Mariaan Welman

Deirdre Wolhuter se Laan-karakter, Mariaan Welman, ken van konkel en met haar bose planne wegkom. Sy’t haar man Chris (David Rees) verneuk, die prokureur Lesedi (KB Motsilanyane) verblind en haar katelknaap, die Beleef-kelner Ben (Louis Auret), van haar huis se trap af gestamp en sy dood veroorsaak. 

Mariaan het tydens die hofsaak volgehou sy’s onskuldig en die vinger na haar man se susterskind, Willem (Markus Haywood), gewys en dié so amper vir haar gruweldaad laat boet. Maar dit het nie gewerk nie. Nou sit sy Kersfees agter tralies. 

Mariaan gaan in 2020 kykers op hul tone hou, sê Kayleen Bessit, 7de Laan se publisiteitsbeampte. “Net wanneer jy dink jy’t haar uitgepluis, gaan sy jou onkant betrap. Dis steeds vir haar belangrik om familiebande te herbou. Kykers sal moet wag en sien of haar tyd in die tronk haar minder boos gaan maak.”

Kristien du Toit-Smith in Getroud met rugby

Marlee van der Merwe as Kristien du Toit-Smith
Marlee van der Merwe as Kristien du Toit-Smith

Die Stryders-beeldpoetser Kristien (Marlee van der Merwe) se bose wraakplan teen Anna (Kate Roothman) het sy heeltemal te ver gevat! Anna het Kristien se verkragting jare gelede as konsepartikel gebruik om by ’n aanlyn publikasie werk te kry. Toe publiseer hulle dit sonder haar toestemming. 

Kristien het as deel van haar wraakplan die hygromanskrywer Jacques (Armand Aucamp) gevra om Anna te verlei en 'n wig tussen haar en Reitz (Sean van Noordwyk) te dryf. Toe verkrag Jacques vir Anna. 

Dit het in sy moord geëindig. “Kristien is tans besig om Bart (Pierre Breytenbach) te ontbloot en dit vloei oor na 2020,” sê die sepie se woordvoerder, Rudo van Heerden.

“In 2020 sal mense 'n ander kant van Kristien sien en begin beleef hoe sy met 'n paar drastiese stappe weer beheer oor haar lewe terugneem.”

  • Foto's: Getroud met rugby, 7de Laan, kykNET & kie, Sean Brand
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.