1. Van boek tot reeks

Dit gons oor dié reeks van die Amerikaanse kabelnetwerk HBO, wat ook die bekroonde trefferreeks Game of Thrones gemaak het. Die Britse fan­tasieavontuur-reeks wat uit agt episodes bestaan, is op die tri­logie-boekreeks deur die Britse skrywer Philip Pullman gegrond.

Dit gaan oor pa­rallelle wêrelde en pratende diere en bevat sterk vroue­karakters. En dit was voor dit op die kassie was al so ’n gunsteling onder kritici dat dit toe reeds vir ’n tweede seisoen hernu is.

2. Waaroor gaan dit?

Die reeks speel in ’n alternatiewe wêreld af en gaan oor die 11-jarige weeskind Lyra, gespeel deur Dafne Keen (14), wat in 2017 as Wolverine se mutantdogter in die fliek Logan te sien was.

Haar nuwe karakter, Lyra, is ’n skynbaar normale, dapper meisie wat op ’n soektog gaan om haar ontvoerde beste pel op te spoor.

Sy vlek dan ’n onheilspellende komplot oop waarby ontvoerde kinders betrek word. Dit word later ’n soektog om ’n geheimsinnige verskynsel genaamd Dust te probeer verstaan. In haar soeke na haar vriend kruis haar pad met buitengewone wesens en gevaarlike geheime.

Clarke Peters
Clarke Peters vertolk die rol van dr. Carne, hoof van Jordan College, in die reeks. Foto: HBO & SHOWMAX

3. Boekmanie

Meer as 18 miljoen eksemplare van die boekreeks waarop die reeks gegrond is, is sedert 1995 verkoop. Volgens die vervaardigers gaan aanhangers van die boekreeks – Northern Lights (1995), The Subtle Knife (1997) en The Amber Spyglass (2000) – beslis nie teleur­gestel wees nie. “Philip Pullman was ons gids,” sê Jane Tranter, die vervaardiger.

“Hy het kinders nooit onderskat as sy held, heldin of leser nie,” sê sy.

Die akteurs James McAvoy en Lin-­Manuel Miranda, wat in die reeks te sien is, is ook groot aanhangers van die boeke. James was in sy noppies om die rol van Asriel te kry.

“Philip het menslikheid gevier. Deel van wat hy as die belangrikste kenmerk van die mensdom sien, is rasionele, kreatiewe en verbeeldingryke denke.” 

4. Pratende diere 

In die reeks beweeg pratende diere, wat dæmons heet, saam met die mens­like karakters rond. Die dæmons is dieremetgeselle wat ’n mens se siel verteenwoordig. Hulle het interaksie met hul mens en dien as hul gewete.

“Hulle is die sinvoller, verantwoordelike deel van jou,” sê die jong Dafne, wat half-Brits, half-Spaans is en in Madrid woon.

“Lyra se verhouding met Pan (haar dæmon) wys hoeveel Lyra van haarself hou, en jy kan die verhoudings van ­ander karakters met hulself deur hul dæmons sien,” sê sy.

Lyra se oom Asriel se dieremetgesel is ’n sneeuluiperd.

Lorek
Joe Tandberg is die stem van die pratende ysbeer, Iorek Byrnison, in die reeks His Dark Materials. Foto: HBO & SHOWMAX

5. Die sterre

Dafne is nie al bekende gesig in die nuwe reeks nie.

James McAvoy (40), wat in die flieks Split, Glass en die X-Men-flieks te sien was, speel Lyra se oom lord Asriel, ’n magtige verkenner en aristokraat.

McAvoy
James McAvoy Foto: HBO & SHOWMAX

Lin-Manuel Miranda (39), die Tony-bekroonde skepper van die gewilde teaterproduksie Hamilton, is as die avonturier Lee Scoresby in die reeks te sien.

Lin Manuel Miranda
Lin-Manuel Miranda Foto: HBO & SHOWMAX

Ruth Wilson (37), wat met ’n Golden Globe vir beste aktrise bekroon is vir haar rol as Alison in die dramareeks The Affair, vertolk die rol van die gevaarlike sosiale vlinder Mrs Coulter. 

Ruth Wilson
Ruth Wilson Foto: HBO & SHOWMAX

6. Fliek misluk

Dit is nie die eerste keer dat Philip se boeke vir die skerm aangepas is nie. In 2007 is die fliek The Golden Compass, wat op die eerste boek, Northern Lights, gegrond is, uitgereik.

Nicole Kidman het Mrs Coulter in die fliek gespeel en Daniel Craig het die rol van lord Asriel vertolk. Dakota Blue Richards was as Lyra te sien.

Die fliek het egter swak gevaar by die loket en het net R1 miljard verdien – en dit terwyl dit R2,7 miljard gekos het om te vervaardig. 

  • His Dark Materials is op Showmax te sien. Nuwe episodes word elke Dinsdag bygevoeg.
BRONNE: HBO, SHOWMAX, IMDB.COM