Kykers het verlede week gesien hoe die donkerkop Jana Snyman (22), ’n bemarker van Stellenbosch, saam met drie moontlike pasmaats op drie verskillende virtuele afsprake gaan. Jana het tydens dié episode vir ene Simon, Cobus en Rudolf van nader leer ken. 

Die drie mans het elkeen ’n lyfkamera gedra en Jana kon glad nie sien hoe een van hulle lyk nie.

Sy kon wel hoor hoe hulle klink, sien waar hulle hulself bevind en selfs ’n paar van hul vriende beter leer ken. Die mans kon ook nie vir Jana sien nie, maar kon met behulp van ’n gehoorstuk hoor hoe Jana klink en heerlik met haar en die program se aanbieder, Vanes-Mari du Toit, gesels. 

Jana het eerste met die avontuurlustige Simon kennisgemaak en dit het aanvanklik gelyk asof hulle twee sommer dadelik gekliek het. Kort daarna het Jana tyd saam met Cobus, ’n pa van twee klein dogtertjies, deurgebring. Jana se laaste afspraak was met die rustige Rudolf.

Eindelik ná ’n lang dag van virtuele afsprake het Jana die drie mans vir die eerste keer van aangesig tot aangesig ontmoet en gesien hoe hulle lyk. En aan die einde van die aand het Vanes-Mari onthul dat dit Cobus was wat Jana se hartsnare geroer het. 

“Dit was vir my ’n baie interessante ervaring, en eintlik so ’n bietjie van ’n sosiale eksperiment,” vertel Jana. 

Voor die eerste afspraak met Simon het die senuwees begin knaag, verklap sy. “Maar toe het ons so lekker gesels en daarna was die ander afsprake ook gemaklik.”

Volgens Jana was dit vir haar moeilik om tussen die drie manne te kies. 

“Daar was ’n baie obvious keuse vir my, wat seker Simon was, maar toe kom ons agter ons is in dieselfde vriendekring. Ek het besef ’n mens neem ook deel aan so ’n program om iemand te ontmoet wat jy juis nie in jou gewone gemaksone sal ontmoet nie.

“En toe op my laaste afspraak saam met Cobus het iets wat sy vriende gesê het my laat besef hy het ’n goeie hart,” vertel Jana.

“Sy vriende het gesê hy voel soos huis. En dit het net my hart gesmelt en my laat besef hy moet regtig ’n goeie dude wees.”

Jana het daarom besluit om Cobus, wat veel ouer as sy is, ’n kans te gee. Maar kritici in die sosiale media was glad nie tevrede met Jana se keuse nie en het gemeen sy doen dan nou presies wat sy gesê het sy nié gaan doen nie!

“Ek het aan die begin van die episode gesê ek is nie weer opsoek na iemand wat baie ouer is as ek nie en dat ek iemand soek wat saam met my kan kuier,” vertel Jana, wat voorheen in ’n ernstige verhouding was met ’n man wat sowat 10 jaar ouer as sy was. 

“Maar ek het deur die loop van die virtuele afsprake ook besef dat dit nie oor ouderdom gaan nie. Dit gaan daaroor om ’n nice persoon te ontmoet. So op grond van wat ek aan die begin gesê het, moes ek seker vir Simon gekies het. Maar ek het op daardie oomblik gedoen wat vir my reg gevoel het,” verduidelik sy haar besluit. 

Hoewel Jana en Cobus daardie aand gesels en nommers uitgeruil het, het hulle nie weer op ’n afspraak gegaan nie.

Hulle het mekaar darem weer intussen gesien toe hul groep deelnemers die episode saamgekyk het. Boonop het sy en Simon mekaar ook toe wel by ’n gemeenskaplike vriend se verjaardagpartytjie raakgeloop. 

“Maar nee, ek het nie liefde gevind nie,” sug sy speels. “Ek het darem twee goeie vriende gemaak,” sê sy. 

Cobus sê hoewel hy en Jana nou net vriende is, het hy die ervaring net soveel geniet en baie oor homself geleer. 

“Ek het ’n positiewe ervaring gehad en sal dit beslis vir enigiemand aanbeveel,” sê hy. "'n Mens moet so half jou innerlike verkoop, en dit laat jou ook dieper oor jouself dink."

  • Hoor my, sien my, soen my word op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.