Nes Tom Hanks moes ek ook ’n bittere oorlewingstryd op ’n afgesonderde eiland voer waar jy moet staatmaak op jou oer-instinkte om te oorleef.

Dink ’n mens aan die Filippyne, dink jy aan prentjies wat op poskaarte kan verskyn: wuiwende palmbome, lakenwit strande, drankies uit kokosneute en soel blou waters waarop die son pêrelagtig weerkaats. 


Toe M-Net my nooi vir ’n besoek aan El Nido in die Filippyne waar die sesde seisoen van Survivor verfilm is, was ek gereed om weer my bleekwit lyfie ’n olyfbruin te brand op die eksotiese eiland in Suidoos-Asië. 

Maar helaas was dit nie die geval nie. Net soos in die ware Jakob, moes ek en 11 ander joernaliste spook om skuiling te bou, ’n vuur aan die gang te kry en onsself bekommer oor gediertes soos Satan se kind wat hier neffens jou in die water verbyseil. 

Dis geen gewone eilandvakansie nie, en voor ons vertrek sou ek myself nooit in hierdie dreigende omstandighede kon verbeel nie. 

Tog het ons uitgesien na ’n wegbreek terwyl ons met Cathay Pacific via Hongkong tot in die Filippyne vlieg. 

Ons kom 28 uur later by ons blyplek in El Nido aan, slaap een aand in gerief en die oggend vyfuur is ons uit die vere – gereed om te oorleef. 

Ons word gestroop van ons selfone, sonbrille, horlosies, en enigiets wat nie op die lys van goedgekeurde items is nie. Die klere aan ons lyf, chroniese medikasie en ’n warm kledingstuk is items wat saam mag gaan.

Ons word nie so deeglik soos die regte Survivors deursoek nie en van die rokers slaag daarin om sigarette in hul sokkies in te smokkel. 

Ons loop sowat 80 m tot by ’n boot wat in die see dobber en van daar word ons vervoer op blougroen water, verby spierwit strande, palmbome en lowergroen rotswande. Dis die einste tropiese paradys wat in 2012 in die spanningsfliek The Bourne Legacy te sien was. 

Praat is nou taboe omdat enigiets wat op die boot gebeur, nie op kamera vasgevang word nie. Ons bereik ’n verlate eiland, waar een stam Survivors voor vanjaar se samesmelting, regtig kamp opgeslaan het. Vir hoe lank dit nou ons tuiste is, weet niemand . . .

Toe al die reëls uitgestippel is en die kameras rol, begin die stryd om oorlewing. 

Sommer dadelik is dit duidelik ’n paar divas wil die kitaar slaan, terwyl ’n luie of twee in die bondel lyf wegsteek en ander presies weet hoe om mekaar om te krap. 

Ons moet in die water spring en binne vier minute ’n paar basiese behoeftes (rys, ’n pot, hout, vrugte, ’n panga, tou en flint) van ’n drywende stuk skuimplastiek byt, op ’n bamboesvlot laai en binne vier minute tot op ons eiland kry. En dis ver! 

In ons groep is daar boonop ’n paar wat nie kan swem nie en saam op die vlot vervoer moet word. Van spanwerk is daar nie veel sprake nie. Ons beweeg eers glad nie, want die vlot is nog met toue aan rotse onder die water vasgebind . . .

Ons is skaars op die eiland en klaar is ’n paar deelnemers uitasem. Een kla oor ’n skrapie wat sy teen die koraalrif opgedoen het. 

Gelukkig is daar, nes in die regte Survivor, ’n mediese span wat die spel van ver af dophou en nader staan as beserings behandel moet word – maar gewoonlik net as dit ernstig is. 

Gewoonlik word die deelnemers in stamme verdeel, maar ons vorm almal een groot stam. Ons het ook anders as die regte deelnemers mekaar reeds op pad na ons avontuur op die lughawe ontmoet. Daar was ook nie chaperones wat toegesien het dat ons nie met mekaar gesels nie. 

Ons kry ’n kopdoek met ons span se naam: Araw. En die kompetisie begin vanaf ons eerste oomblik op die eiland. 

Onweerswolke is op pad en ons eerste taak is om ’n kamp in te rig, ’n skuiling te bou en ’n vuur aan die gang te kry (ons het anders as die regte deelnemers gelukkig vuursteen gekry om hiermee te help). 

Gou begin die joernaliste koppe stamp en die bou van die skuiling wil eenvoudig nie op dreef kom nie. 

Een besluit om die leiding te oorheers, maar sonder enige uitvoering van idees. As iemand anders ’n inset wil lewer, spring sy gou op haar perdjie en dring aan op haar idees.

Daar is veral twee deelnemers wat nie om dieselfde vuur sit nie. Hulle is heeltyd agteraf doenig om ook ander deelnemers teen mekaar op te sweep.

Een kant besluit twee deelnemers om die drama te ontwyk en liefs met die vuur te stoei. En duskant ’n boom sit ’n ander een en doen absoluut niks. 

Marisa Fockema neem deel aan die verskeidenheid hindernisse.
Marisa neem deel aan die verskeidenheid hindernisse.

Die produksiespan roep kort-kort iemand eenkant toe om te hoor wat hulle op die hart het. 

Klein groepies word gevorm en daar word gekonkel oor wie vir wie gaan stem. En as iemand nie met jou gesels nie, dink jy sommer jy is dalk die een wat geteiken word. Die spel speel met jou kop!

Ons is pas ’n paar uur op die eiland en reeds begin die gekla oor grimering wat afgewas het, die gemis van sosiale media, die hitte, die insekte wat oral krioel, die ongemak om ’n bossie of die see as toilet te gebruik en die hongerpyne wat knaag. 

Ons het gelukkig basiese behoeftes gekry – die Survivors wat aan die reeks deelneem, ly regtig honger en kry niks as hulle nie daarin slaag om ’n beloningsuitdaging te wen of iets te vang nie.  

Daar is skaars vordering met ons skuiling gemaak, toe ’n boot ons ’n paar uur later kom oplaai vir ons eerste beloningsuitdaging.

Gedurende die bootrit is praat weer taboe. Soos wat die boot stilhou, sien ons in die verte hoe ’n uitgeteerde, maer groepie pas die uitdaging voltooi het. 

Dis die regte Survivors wat aan vanjaar se werklikheidsreeks deelneem. Ons word versoek om weg te kyk, maar almal loer onderlangs.

Ek tel ses van vanjaar se 18 deelnemers is nog oor.

Nadat hulle die eiland verlaat het, moet ons 12 joernaliste gereed staan om aan presies dieselfde uitdaging deel te neem. Ons word in twee spanne van ses verdeel, met mikrofone gebind en deur ’n see televisiekameras dopgehou.

Dis balansering oor ’n wipplank-hindernis, ’n modderput en nog ’n paar hindernisse, memoriseer en legkaart bou terwyl die Survivor-aanbieder Nico Panagio van die kant af op almal se spel kommentaar lewer en toesien dat ons die reëls gehoorsaam. 

Saam met die die Survivor-aanbieder Nico Panagio.

Die wenners uit elke groep kry ’n simbool wat hulle teen die uitstemmery beskerm. 

Papnat gesweet en uitasem word ons weer in stilte op die boot gelaai tot by nog ’n eiland waar die regte stamberaadsessies vanjaar plaasvind. Ons elkeen kry ’n brandende fakkel – die vuur verteenwoordig ons lewe in die spel. 

Nico is presies ingelig oor wie wat in die kamp gedoen het en druk al die regte knoppies om die drama aan te vuur. 

Gou word openlik gesels oor wie mekaar die harnas ingejaag het. Met al die kameras op jou, kan jy nie help om eerlik te antwoord nie – ongeag wat jou spanmaats van jou dink. 

Boonop word dinge lelik omgekrap toe een van die deelnemers wat die simbool by die beloningsuitdaging gewen het, besluit om dit te oorhandig aan die persoon wat die meeste mense wil uitstem. Een van die ander deelnemers het hom ná die spel ’n pizza beloof om sake so om te krap. Hoe sal ons nou stem? Rugsteker! Hy moet gaan! 

Die stemme se uitkoms is gelykop verdeel tussen twee joernaliste. Anders as die regte spel – waar net een deelnemer sonder enigiets die eiland verlaat – word twee joernaliste se vlam geblus. 

Dis laatmiddag en almal is honger, bedremmeld en moeg. Moet ons nou terugkeer na die eiland waar ons patetiese skuiling sonder enige afdak wag?

Marisa Fockema.

Ons word gelukkig gered deur sagte misreën wat begin neersif oor die eilande waar die werklikeheidsreeks verfilm word. 

Vir die volgende twee dae word ’n tropiese sikloon voorspel en kan die kalm see verander in siedende massas water wat bootbeweging kan staak.

Uit vrees dat ons dalk weens die natuur se drama uitgelewer sal word aan ’n tropiese storm en langer as een nag op ’n verlate eiland vasgekeer kan wees, besluit die produksiespan dat ons spel verby is. Gered deur die weer? 

Ons het skaars begin. Die regte Survivors wat dit vanjaar tot die einde kan uithou, neem 39 dae lank deel. In ons stam het sommiges reeds besluit hulle sal in elk geval handdoek ingooi. 

Die bootrit terug na die hoofeiland is nogal ongemaklik – daar is baie oor mekaar gesê en agteraf gepraat. Vir ons mediastam was dit skaars ’n dag, maar dit het al ons vaardighede geverg om te oorleef. Fisiek en geestelik. 

Nou is daar gelukkig tyd om die son in te drink, die wit strande te verken, in die turkoois water te swem en mengeldrankies onder wuiwende palmbome te geniet. Vanaand se hotelbed is ver verwyderd van ’n bed van bamboesriet op ’n verlate eiland. Lanklaas het ek so sag geslaap.

Klik hier om die 18 deelnemers te ontmoet.

• Die sesde seisoen van Survivor SA begin op 3 Mei 19:00 begin op 3 Mei 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101).