So het ons dié bekende gesig nog nooit gesien nie – op die landerye, tussen boere en selfs voete in die modder tussen plaasdiere in die kraal . . . Nee, ons praat nie hier van die mooie Minki van der Westhuizen in Boer Soek ’n Vrou nie.

Dis ’n ander TV-ster wat deesdae inloer op plase oor die land heen. Vir RSG-luisteraars was hy die bekende stem van die ontbytnuusprogram Monitor en op SABC2 het hy die gewilde Riaan Cruywagen as Afrikaanse nuusleser opgevolg.

Maar in Julie 2016, ná ses jaar by die nasionale uitsaaier, is Ivor Price summier van die lug gehaal en uit die gebou geskop. Sy sonde was om saam met kollegas standpunt in te neem teen die drakoniese bewind van die destydse SAUK-baas, Hlaudi Motsoeneng.

Dit was enkele dae nadat hy in solidariteit met die SAUK-agt sy bedanking by RSG ingedien het. Die SAUK het agt joernaliste, Busi Ntuli, Foeta Krige, Suna Venter, Jacques Steenkamp, Thandeka Gqubule, Krivani Pillay, Lukhanyo Calata en Vuyo Mvoko, afgedank nadat hulle kritiek gelewer het op Hlaudi se redaksionele beleid.

Hy is toegang tot alle SAUK-geboue belet

Weens die SAUK-drama het hy as RSG-omroeper bedank, maar sou hy as TV-nuusleser aanbly. Toe spreek hy hom egter in die openbaar uit teen Hlaudi – en net ’n dag later is hy toegang tot alle SAUK-geboue belet.

Maar daardie stormagtige tyd is nou agter hom en deesdae werk Ivor aan sy grootste TV-projek nog. Hy is die aanbieder van die nuwe program Landbouweekliks, wat Dinsdae om 19:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word.

In dié reeks van 26 episodes deurkruis Ivor die land en kuier hy by boere om na hul unieke stories te luister en te kyk hoe hulle planne beraam om die eindelose uitdagings in die landbousektor te trotseer. Die ou gesegde is immers waar: ’n Boer maak ’n plan.

Op die stel as aanbieder van die VIA-programreeks Landbouweekliks. Foto: Verskaf

En in die nuwe reeks wys Ivor hoe vindingryk hulle kan wees. Toe hy in 2016 vir die laaste keer uit SABC2 se TV-ateljee stap, wou hy eintlik nooit weer op die kassie verskyn nie, vertel hy in sy huis in Melville, Johannesburg.

“Ek was net moeg daarvoor om gedurig oor die SAUK-woelinge uitgevra te word of herken te word wanneer ek op Beaufort-Wes petrol ingooi of in Johannesburg ’n brood koop.”

Hy het so bekend geword, dit was dikwels sý naam wat op plakkate teen lamppale gepryk het. Ivor het daarna agter die kameras begin woeker, rubrieke geskryf en by Media24 as bestuurder van sake-innovering en spesiale projekte gewerk.

Toe die vervaardigers van Landbouweekliks hom verlede Oktober kontak, kon hy egter nie nee sê nie. “Ek was baie geskok toe hulle my bel,” vertel hy met sy aansteeklike lag.

“Dit was vreemd, want ek is mos nie ’n boerseun nie en dra skinny jeans. Maar toe ek eers hoor waaroor dit gaan, toe weet ek: As joernalis kan ek iets unieks na die program bring.

'Ons vertel die stories van ons boere ... Almal wat nie dink oor waar die kos op hul tafel vandaan kom nie, moet hierna kyk'

“Dis nie ’n konvensionele landbouprogram nie. Ons vertel die stories van ons boere. Hul vrese, hoop en hoe hulle oorleef. Almal wat nie dink oor waar die kos op hul tafel vandaan kom nie, moet hierna kyk.” 

Ivor beskryf homself as ’n “grensgeval tussen ’n introvert en ’n ekstrovert”. Hy het genoeg vrolike selfvertroue om enige geselskap op te helder, maar kan ook diepsinnig raak.

Hoewel TV-kameras vir hom niks vreemds is nie, was dit nogal ’n aanpassing om van nuusleser tot aanbieder van ’n leefstylprogram te skuif, erken hy.

“As aanbieder van ’n program soos Landbouweekliks moet ’n mens ander se stories vertel en jou in hul wêreld inleef. Die aanbiedingstyl is meer ontspanne en vriendelik. Die regisseurs moet my gereeld vra om ’n bietjie meer te glimlag!”

'Wat my as stadsjapie opval, is dat jy in die boeregemeenskap ’n warmte ervaar wat jy nie elders sien nie'

Ná ’n dag se verfilming kuier Ivor en die boere lekker. “Dan drink ons ’n drankie saam, soms ’n hele paar. Wat my as stadsjapie opval, is dat jy in die boeregemeenskap ’n warmte ervaar wat jy nie elders sien nie.”

Hulle gaan op die ou end 26 plase besoek en meer as 40 000 km aflê. Voor hy aan die program begin werk het, het hy nie aldag besef hoeveel boere hul lewe wy aan die opheffing van hul werkersgemeenskappe nie.

Hy is veral geraak deur die MD Foundation, ’n boerderyskema in die Ficksburg-distrik wat uit 10 plase bestaan. Die winste van die skema word gebruik om onder meer mediese sorg, onderwysdienste en kosskemas aan die werkers te verskaf.

“’n Sitrusboer van die Laeveld, Milaan Thalwitzer, het verduidelik boere gaan uit hul pad om vir hul werkers soveel voordele moontlik te verskaf omdat ’n mens nie ’n plaas as ’n suksesvolle besigheid kan bedryf sonder goeie en gelukkige werkers nie.”

Dan kry Ivor ’n stekie in na politici “wat mense met hul wilde uitsprake vervreem. Hulle vertel nie van al die positiewe dinge wat boere (vir hul werkers) doen nie, dit terwyl hulle soms in moeilike omstandighede kos op ons tafels moet sit.”

Droogte is een van die boere se vrese. “Dit is ook sielkundig en emosioneel uitmergelend, want daar kan niks aan gedoen word nie. Ek het stories gehoor van mense wat alles so verloor het, maar dan weer opstaan.”

Tog is daar ook ligte oomblikke. Kykers gaan lekker vir sy blapse lag, belowe Ivor. Op elke plaas word hy ’n taak gegee om uit te voer, iets wat skreeusnaakse gevolge kan hê as dit aan ’n onbeholpe stadsjapie toevertrou word.

'En toe bestorm die kalf se ma my!'

Vir een episode moes hy ’n beeskalf vang. “En toe bestorm die kalf se ma my! Gelukkig kon die werkers my red!” Op nog ’n plaas moes hy kunsmatige inseminasie op ’n koei toepas.

“Ek is nou nog ’n bietjie uitgefreak nadat ek my hand en voorarm diep in haar dinges moes druk . . .”

Ivor het in Kraaifontein in die Kaap grootgeword.

Sy pa, Wilson, was predikant by die African Methodist Episcopal-kerk en sy ma, Arthurine, ’n promosieassistent by ’n groot supermarkgroep. “Hulle het ons vier kinders geleer dat niks vanself kom nie; jy moet daarvoor werk,” onthou hy.

Ivor by sy geliefdes. Agter is van links sy suster Bonita Rosant; Ivor; sy broer en skoonsuster, Arthur en Edwina Price; en sy ander suster en haar man, Yolanda en Lucardo Baad­jies. Voor is Bonita se oudste, Monroe Rosant; Ivor se ouers, Wilson en Arthurine Price; en Monroe se broer, Evan. Arthur se seun, Raiden, sit tussen sy oupa en ouma. Foto: Rowyn Lombard

Hy het in 1997 aan die Hoërskool Eben Dönges gematrikuleer, drie jaar later ’n diploma in taalpraktyk aan die destydse Kaapse Technicon verwerf en in 2000 as joernalis by Die Burger begin werk.

Dit het gevoel soos ’n tuiskoms – sy pad met die joernalistiek het immers al op 14 begin toe hy Die Burger begin aflewer en rubrieke geskryf het vir Jong Burger, ’n bylae van die Kaapse dagblad. Hy het ’n lang pad gestap sedert hy ligdag te voet die koerant afgelewer het.

Koerantplakkate in Ivor se huis in Melville, Johannesburg, vertel die storie van sy dramatiese eindtyd by die SAUK. Foto: Rowyn Lombard

In sy sitkamer staan vandag drie ATKV-mediaveertjie-pryse: twee vir beste aanbieder van ’n radionuusprogram (vir Monitor in 2016 en ’17) en een vir beste rubriekskrywer (vir Netwerk24) in 2017.

Sy besoeke aan ons boere leer hom baie, vertel hy. Maar nee dankie, hy dink nie hy sal ooit sommer self op ’n lappie aarde met groente of vee wil boer nie. “Ek boer net met my talente.” 


‘Boer’ Ivor se gunstelinge

Boerekos: “Groenboontjiekos met lekker skaapvleis. My ma weet al dit moet op die spyskaart wees wanneer ek in die Kaap is.”

Braaivleis: “ ’n Skaaptjoppie. Maar op Arlington in die Vrystaat het ek Woodview se wagju-steaks ontdek. Dis doeksag.”

Drankie: “ ’n Yskoue bier, en die slag wanneer ons groot kuier, beslis ook ’n paar tequilas. My vriende spot altyd dat ek ’n doktorsgraad in tequilakunde het.”

Musiek: “Ek was altyd mal oor oorle oom Ollie Viljoen se vastrapmusiek, maar het nogal ’n wye musieksmaak. Daar is iets van alles op my speellys. Op die oomblik eksperimenteer ek ’n bietjie met Anderson .Paak se Afro- funk-musiek.”