Noot vir Noot se geliefde aanbieder, Johan Stemmet (66), wat amper drie dekades lank diep spore in menige Suid-Afrikaanse musiekliefhebber se harte getrap het, sal vanaand vir oulaas sy verskyning in dié gewilde musiekprogram maak.

Die televisieaanbieder groet ná 29 jaar, 43 reekse en byna 700 episodes. Johan het in kykers se hart gekruip met sy vrolike persoonlikheid en eiesoortige sêgoed soos "’n Vyftigrandjie vir jou!" en "Kyk hoe kyk sy vir my!". En dan is daar natuurlik die flambojante onderbaadjies.

Johan se laaste verskyning sal vanaand om 19:00 op SABC2 uitgesaai word.

"In die 28 jaar wat ons geloop het, voel ek in my hart dat dit een van die opwindendste finale episodes ooit is. Hierdie een moet jy verseker nie misloop nie. Dis ’n regte “hoë noot” om op af te sluit,” skryf Johan op Facebook.

Johan het onlangs ’n foto van hom en die musikant Johan van Rensburg op Facebook gedeel. Hierby skryf hy: "Ek en my ou vriend Johan van Rensburg het 30 jaar lank saamgewerk en ook saam die land platgetoer en musiek gemaak. Check die outfits!" 

Johan Stemmet
Foto: Johan saam met vriend en kollega, Johan van Rensburg het 30 jaar saamgewerk. Foto: Facebook/Johan Stemmet

Kykers was dol oor sy Johanismes. Maar van sy kenmerkende sêgoed het hy te gereeld gebruik, het Johan in 2014 aan Huisgenoot vertel. “Soos: Vat die geld; steek dit in jou sak.”

“Mense het later wanneer hulle my sien hul duime in die lug gehou en gesê: ‘Hei!’” sê hy.

stemmet
Johan spog met een van sy kleurvolle onderbaadjies Foto: Misha Jordaan

“’n Man het geskryf ek moet ophou sê dit maak nie saak wanneer iemand ’n vraag verkeerd beantwoord nie, want dit maak saak. ’n Ma het geskryf haar vierjarige dogter het voor die TV bly sit oor ek gesê het sy moenie roer nie. Tot sy begin huil het; sy wou badkamer toe gaan!”

stemmet
Johan op die stel van Noot vir noot. Foto: Verskaf

Nes sy program wil hy homself gedurig vernuwe, het hy destyds vertel. “Ek hou van uitdagings; daar is altyd nuwes. As jy ophou nuwe dinge doen, hou jy op leef.”

Johan Stemmet
In die begin van Noot vir Noot was al die speletjies en vrae op die bord met projektors vertoon. Foto: Facebook/Johan Stemmet

Johan het onder meer op Facebook vertel hoe hulle aan die begin van die musiekprogram al die speletjies en vrae op die bord met truprojektors vertoon het.

"Dit was voor tegnologie so verander het dat ons rekenaarprogramme en digitale projeksie kon begin gebruik om die speletjies te speel. Daar was geen selfone of internet toe nie. Faksmasjiene het net begin inkom!"

Hoewel hy nie meer voor die kassie sal wees nie, sal hy steeds aktief met produksie agter die skerms betrokke wees. Aanhangers sal ook moet afskeid neem van die Musiekfabriek namate Noot vir Noot van formaat skuif en ’n nuwe baadjie kry.

Johan Stemmet
Foto: Facebook/Johan Stemmet
Johan Stemmet
Foto: Facebook/Johan Stemmet

Die Noot vir Noot-reeks, soos kykers dit ken, sal volgende Donderdag (24 Januarie) vir die laaste keer uitgesaai word met ’n liefdadigheidsprogram.

Die eerste episode van dié gewilde musiekprogram is op 27 Julie 1991 uitgesaai wat dit die langste speletjiesprogram in die Suid-Afrikaanse geskiedenis maak.