SEPIESTER

Die akteur Deànré Reiners (23) maak omtrent naam op die kassie. 

Sy debuutrol was as die tiener Emil in die hospitaaldramareeks Binnelanders (2013 tot ’15). 

Deesdae is hy veral bekend vir sy rol as Zandré in die gewilde sepie Isidingo op SABC3. 

“Zandré is ’n ongelooflik regverdige mens wat altyd ander belangriker as homself ag. Hy is ’n fiksheidsfanatikus en die persoonlike afrigter van Horizon Deep,” sê Deànré, wat in Kempton Park grootgeword het, maar tans in Pretoria woon.

Hy onthou as jong seun was Isidingo die sepie wat sy oorlede ouma aan moederskant, Netta Wessels, nooit misgeloop het nie. 

lee visagie,elma postma,akteurs,isidingo
In ’n toneel saam met sy TV-ma, Elma Postma, en suster, Lee Visagie, in dié sepie. Foto: Instagram/@isidingo

Nou is hy self ’n ster in die reeks en die oud-Laner Elma Postma speel boonop sy ma.

Toe hy sewe jaar gelede sy televisie­debuut in Binnelanders gemaak het, was dit vir hom ’n “groot eer en voorreg”. 

In 2016 het hy geskuif na Getroud met rugby, waarin hy tot verlede jaar die rol van Ruan vertolk het. 

“Ruan was die rugbykaptein van die skool se eerste span.”

TUIS OP DIE VERHOOG

Hy was net vier jaar oud toe hy die eerste keer op die verhoog klim tydens ’n eisteddfod by sy kleuterskool in Kempton Park, Peuter Kleuter. 

“Ek het tuis gevoel en geweet dís wat ek vir die res van my lewe gaan doen. Op die verhoog was ek kalm, my passie om vreemde en ander mense te wees het gegroei, en ek het my tuiste gevind.”

Hy’t al saam met groot sterre in die bedryf gewerk soos toe hy in 2016 in die fliek Dis koue kos, skat gespeel het. 

deànré reiners,akteur
Deànré op die stel van die sepie Isidingo. Foto: @deanre_reiners

“Anna-Mart van der Merwe het my oor geduld geleer, Elzabé Zietsman om ‘nie twak te vat nie’ en Frank Opperman oor nederigheid.”

En om die afgelope twee jaar teenoor Elma te kon speel was ook ’n groot leerskool. 

“Elma se hele wese is uit vriendelikheid aanmekaargeweef. Sy is een van die opregste en eerlikste mense met wie ek al te doen gekry het. Haar liefde en passie vir haar werk en medemens en haar sagte woorde van bemoediging het my al deur slegte dae gekry.”

BEKROONDE JONG MAN

Deànré blink al sedert hy agt was uit in die vermaakbedryf.

Hy het onder meer in 2004 op agtjarige ouderdom die Grand Champion-wêreldkunstenaarprys gewen. 

“Dis in Los Angeles, Amerika, aan my toegeken toe ek aan die Wêreldkampioen­skapsbyeenkoms vir Uitvoerende Kunste deelgeneem het.

In 2014 het hy sy eerste kyk­NET Silwerskermfeesprys vir beste akteur in ’n hoofrol gewen vir sy vertolking van die kwadrupleeg Paul in die drama Seun.

“Dis lekker om die erkenning te kry waarvoor ’n mens ongelooflik hard werk. ’n Paar van die pryse wat ek gewen het, is op internasionale fliekfeeste toegeken, en dis heerlik om te weet die wêreld waardeer wat jy doen.”

FIKS EN VIETS

Weg van Isidingo se stel bring hy, nes sy karakter, baie tyd in die gimnasium deur. 

deànré reiners,akteur
Deànré bring baie tyd in die gimna­sium deur. Sy gesondheid is vir hom “ongelooflik belangrik”. Foto: Instagram/@deanre_reiners

“Vandat ek kan onthou, is my gesondheid vir my ongelooflik belangrik. Deur te oefen hou ek myself nie net fisiek gesond nie; ek hou my ook emosioneel gesond.”

Op skool het hy rugby gespeel en selfs bergfiets gery. Hy het ook as ’n vierjarige tjokker joejitsoe beoefen. 

“Ek het ’n belangstelling in dié gevegkuns ontwikkel nadat ek na ’n Bruce Lee-fliek gekyk het. En ek is ewig dankbaar dat ek dit toe self kon beoefen.” 

Hy het ongelukkig deesdae nie meer baie tyd vir sport nie, sê hy. Maar in sy vrye tyd hou hy van oefen, lees en leer. 

“En om af en toe ietsie spesiaals saam met my meisie te doen en dan natuurlik om saam met vriende en familie te braai.” 

TROTSE FAMILIE

Sy familie is ongelooflik trots op sy suksesse in die vermaakbedryf. 

“My pa, Dean (51), ’n NG predikant, spog gereeld daaroor in die kerk.” 

deanre reiners,akteur
Die akteur by sy ouers, Tryna en Dean. Foto: Verskaf

Sy ma, Tryna (52), is ’n tuisteskepper. Hy het twee jonger broers: Henco (21), wat regte studeer aan die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-universiteit, en Ricardo (18), ’n matrikulant aan die Helpmekaar-kollege in Johannesburg.

“Maar die een wat die opgewondenste raak, is my meisie, Marulet Venter (24). Sy’s ’n modeontwerper wat haar eie swemklerereeks, Maru, besit. Kyk, sy kan behoorlik tekere gaan. Ons is nou drie jaar saam.”

deànré reiners,akteur
Deànré en sy meisie van drie jaar, Marulet Venter. Foto: Marijke Bezuidenhout

SLIMKOP

Deànré het van sy beste vriende op die hoërskoolbanke ontmoet. 

“Ek het op skool geleer nie almal wat jy glo jou vriende is, sal altyd saam met jou oor jou suksesse opgewonde raak nie; die paar wat wel het, is tot vandag toe my beste vriende,” sê dié oudstudent van die Helpmekaar-kollege. 

Hy het ’n groot deel van sy matriekjaar in 2014 misgeloop vanweë die verfilming aan Binnelanders, maar dié slimkop het steeds met vier A-simbole gematrikuleer. 

“Ek was gelukkig genoeg dat die onderwysers en die skool my ongelooflik bygestaan het en ek het ekstra klasse ontvang.”

Hy is tans deeltyds besig met die finale jaar van sy graad in kommunikasiewetenskappe aan Unisa.

“Ek wil my graad behaal en dan met ’n honneurs in sielkunde begin.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.