Waar sy met haar lang grysblonde hare en op en wakker blou oë in ’n koffiekroeg in die Kaapse middestad sit, sal selfs die getrouste TV-kyker haar nie herken nie – tog ken álmal haar werk.

Want as jy al daardie bekende pikkewyntjie gewaar het wat aan die einde van baie TV-programme verskyn en dan nies, het jy jou al in die kykstof van haar produksiemaatskappy verlustig.

Jy kan maar sê Roberta Durrant is die ma van daardie pikkewyntjie.

En ná byna vier dekades agter die skerms by Penguin Films en met ’n rits gewilde reekse – van Sara se geheim tot Arendsvlei – agter haar naam, oorweeg dié vervaardiger dit nie eens om uit te tree nie.

Jy kan maar sê Roberta Durrant is die ma van daard
Jy kan maar sê Roberta Durrant is die ma van daardie pikkewyntjie. Foto: Verskaf

“Ek dink nie ek sal ooit kan aftree nie. Maar my dogter is nou swanger en ek gaan ouma word, so ek gaan moet tyd maak vir die baba,” sê Roberta (69) en glimlag vir haar oudste dogter, Julia Jansch (36), wat uit New York hier kuier.

Julia en haar man, Ryan Rockefeller (31), ’n entrepreneur en kunstenaar, verwag hul eersteling teen einde Maart. Sy staan in haar eie skoene en maak – nes haar ma destyds – self flink opgang in die vermaakbedryf.

Sy besit haar eie internasionale produksiemaatskappy, Point Pictures, en haar eerste kortfilm, Far from the Castle, is verlede jaar by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad vertoon.

Haar ouers is haar rolmodelle, sê Julia oor ma Roberta en pa Uwe Jansch (73), wat Penguin Films in 1983 saam gestig het.

Roberta en haar man, Uwe Jansch. Hulle het Penguin
Roberta en haar man, Uwe Jansch. Hulle het Penguin Films in 1987 saam gestig. Foto: Verskaf

“Wanneer my ma op die stel is, kan jy agterkom mense sit hul beste voetjie voor en hulle is beslis bewus van haar teenwoordigheid,” gesels Julia oor Roberta se sukses as vervaardiger en skeppende regisseur.

Op die stel van Krotoa saam met Crystal-Donna Robe
Op die stel van Krotoa saam met Crystal-Donna Roberts en Armand Aucamp. Foto: Verskaf
 Roberta op die stel van Going Up saam met (van li
Roberta op die stel van Going Up saam met (van links) wyle Rex Garner, wyle Joe Mafela, wyle Siegfried Mynhardt, André Odendaal en June van Merch. Foto: Verskaf

In die 1990’s het Roberta ons laat lag met trefferkomediereekse soos Madam & Eve, S.O.S, Scoop Schoombie en Fishy Fêshuns. Deesdae is drie van haar reekse, Arendsvlei, Sara se geheim en Projek Dina, op kykNET se kanale te sien.

Van haar reekse, soos Stokvel, Madam & Eve en Home Affairs, is al vir internasionale Emmy-televisiepryse benoem, en haar produksiemaatskappy is vanjaar vir 10 plaaslike Suid-Afrikaanse Rolprent-en-televisie-pryse (Saftas) benoem – nege vir Arendsvlei, en nog een as beste kinderprogram vir die reeks Disney Cookabout.

Op die stel van Krotoa saam met Crystal-Donna Robe
Op die stel van Krotoa saam met Crystal-Donna Roberts en Armand Aucamp. Foto: Verskaf

Maar al is Roberta vandag ook ’n mentor vir talle jong akteurs en “ ’n matriarg”, soos Julia haar beskryf, moet jy jou nie deur die televisieveteraan se vriendelike glimlag laat flous nie. Sy duld nie nonsens nie.

“As iemand nie dit doen wat hulle moet doen nie, gaan ek nie my woorde tel nie,” sê sy ferm.

“Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die uitsaaier en ons kykers.”

Roberta se ma, Diana, was 18 toe sy tydens die Tweede Wêreldoorlog uit die Nazi-besette Frankryk op ’n boot na Suid-Afrika gevlug het. Sy het Julia se pa, die politikus Robert Durrant, hier ontmoet.

Al het Roberta een van die vermaakwêreld se voorste vorstinne geword, was haar familie een van politici.

“My pa was destyds ’n liberale parlementslid van die Verenigde Party en ons moes as gesin rondreis waar hy nodig was,” onthou die gebore Pretorianer.

Teen die tyd dat sy 11 geword het, was sy al in nege verskillende skole, maar sy beskou dié ontwrigting as ’n voorsprong.

“Dit het my geleer hoe om aan te pas en my aan verskillende soorte gemeenskappe en kulture blootgestel.”

Roberta se twee ouer susters het albei in hul pa se politieke voetspore gevolg: Sheila Camerer (78) is ’n voormalige ANC-parlementslid, en Patricia Lion-Cachet (76) ’n voormalige lid van die Gautengse wetgewer, eers vir die NNP en later vir die destydse DP.

Maar anders as haar pa en susters het Roberta se kop van jongs af verhoog toe gestaan.

Ná matriek aan Pretoria Girls’ High School is sy na die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1972 ’n dramagraad behaal het.

Haar moedertaal is Engels, maar as Matie het sy vlot leer Afrikaans praat, vertel dié skepper van talle Afrikaanse reekse. Die talentvolle Roberta het gou verhoogrolle losgeslaan.

“Al het ek toe in die teaterbedryf floreer, het my pa gesê dit is nie regtig ’n loopbaan nie,” onthou sy. Hy het gereken dis te onbestendig.

In 1976 het sy gespeel in die teaterproduksie Bed before Breakfast, wat ook in die destydse Rhodesië (nou Zimbabwe) opgevoer is.

“Dis toe dat ek op ’n blind date my Duitse man ontmoet het wat ’n dokumentêr daar geskiet het,” vertel sy oor haar wederhelf met wie sy al 43 jaar getroud is.

Ses maande later is sy en Uwe in Johannesburg getroud. Hulle het daarna in Engeland gaan woon.

“Dis waar ek tydens my verhoogproduksies meer in regie begin belangstel het.”

Maar die verlange na Suid-Afrika het te groot geword en in 1983 het die paar teruggekeer.

“Daardie jaar het ons met Penguin Films begin, en Julia is gebore.”

Hulle het ook ’n jonger dogter, Rebecca Gillespie (33), ’n Kaapse prokureur.

Roberta en haar twee dogters, Rebecca Gillespie en
Roberta en haar twee dogters, Rebecca Gillespie en Julia. Foto: Verskaf

Vir Julia was dit “ongelooflik” om as’t ware op stel groot te word.

“Ander kinders se ouers het hulle by die skool kom haal, maar dan kom die produksievoertuig ons oplaai en neem ons na ’n stel toe. Ek het altyd die kostuums aangepas en op die stel rondgehardloop. Dit was wonderlik om die grootbaas se dogter te wees.”

‘Sy ryg die idees net so uit. My proses vat effens langer!’

Tog wou sy haar eie sukses behaal.

“My ouers se werketiek het my geïnspireer om altyd beter te vaar en harder te werk. Ek het portrette in my huis in New York van hulle waar hulle agter die kameras besig is,” vertel Julia.

Sy is in 2007 na die Groot Appel toe om aan die New Yorkse Rolprentakademie te studeer.

Later het sy betrokke geraak by Ted Talks, die bekende reeks aanlyn toesprake, en by die produksiehuis Fremantle gewerk.

Julia het Ryan in 2015 deur haar werk in die vermaakbedryf ontmoet. Hy was onder meer medestigter van ’n musiek- en-videostromingsdiens.

Toe die twee in 2018 op ’n plaas in Wyoming getroud is, het die musiekgroep Ladysmith Black Mambazo uit die bruid se geboorteland daar opgetree.

Want Julia se hart klop steeds Suid-Afrikaans.

“Die mense hier en hul stories inspireer my,” sê sy.

Ma en dogter werk nou vir die eerste keer saam aan ’n internasionale vollengtefliek waaraan hulle volgende jaar wil begin skiet. Penguin Films begin ook vanjaar aan ’n nuwe reeks werk. Haar ma is soos ’n worsmasjien wanneer dit by nuwe idees vir reekse kom, sê Julia.

“Sy ryg dit net so uit. My proses vat ’n bietjie langer!”

’n Gewone werkdag vir Roberta strek van seweuur soggens tot saans ná 11.

“Ek is baie betrokke by die produksies,” verduidelik sy en erken sy wil “elke ding” sien voor dit na die uitsaaier gaan. Wanneer sy ’n vry tydjie het, doen sy graag oefening by die huis.

“En ek is gaande daaroor om in die see te gaan swem,” vertel Roberta, wat saam met haar man in Kampsbaai woon.

“Maar sy het nie vriende nie,” terg Julia.

“TV is haar lewe . . .”

’n Klein pienkvoet gaan alles egter nou kom verander.

“Dis ’n nuwe era vir ons familie en ek sien uit na my nuwe rol as ouma,” sê Roberta. “Ek sal meer moet begin delegeer by die werk. Gelukkig het ek ’n baie talentvolle en goeie span.”

Sal Julia eendag die leisels by haar ma kom oorneem?

“Ons gaan dit sonder twyfel in die familie hou. Dis ’n nalatenskapmaatskappy en ons wil dit sien groei,” sê sy.

“Niks kom sonder harde werk nie,” verduidelik Roberta.

“Jy moet jou 100 000 uur insit – en ek het beslis . . .” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.