Danni, wat deur die aktrise Vashti Prins vertolk word, het vroeër oënskynlik haar eie lewe geneem toe sy in die see gestap het.

Terwyl die mense van Ruiterbosch nog rou oor haar sogenaamde dood, daag haar kêrel Tim (Marco Spaumer) by die sluwe sakeman Ian October (Abduraghmaan Adams) se strandhuis op en kykers sien dan dat Danni leef. En daar is ’n kinkel. Sy wil die ware moordenaar ontbloot.

Danni het vroeër op ’n woordewisseling tussen Ian se nuwe werknemer, Izette, en haar kêrel, Rudolf (Chris van Rensburg), in die parkeerarea by die Suidooster-sentrum afgekom. Sy sien dan hoe Rudolf vir Izette met ’n pyp oor die kop slaan. 

Danni hol weg en stel die polisie in kennis van die moord wat sy aanskou het. Maar daar is later geen tekens van wat sy beweer in die parkeerarea afgespeel het nie.

Die polisie kry dan ’n lyk en Danni raak ’n verdagte nadat Rudolf ’n bebloede hemp onder haar bed versteek het. Dit blyk nou Rudolf het uitgevind sy meisie Izette verneuk hom met Tim en toe besluit hy om wraak te neem en Tim se meisie, Danni, vir die moord te blameer.

"Dinge gaan dalk nie so maklik vir Danni, Tim en Ian October wees om Izette se regte moordenaar, Rudolf, aan die pen te laat ry nie,” vertel Wilmer Muller, die publisiteitsbestuurder van Suidooster, aan Huisgenoot. 

aktrise,akteur
Tim (Marco Spaumer) en Danni (Vashti Prins). Foto: Verskaf

"Rudolf is ’n uitgeslape man en is dalk eintlik vir Danni-hulle een voor. Haar lewe is steeds in groot gevaar," waarsku hy. 

Vashti is oorweldig deur al die boodskappe wat sy in die sosiale media ontvang het na dit geblyk het haar karakter, Danni, is dood.

"Daar is duidelik baie groot verligting by Suidooster se aanhangers dat Danni toe nie dood is nie!" vertel sy aan Huisgenoot.

"Talle was woedend en hartseer oor hulle gedink het ek verlaat die sepie, maar natuurlik moes ek tjoepstil bly oor wat eintlik agter Danni se kamma-dood skuil. Dis ongelooflik om te sien hoe diep mens in die publiek se harte kruip en hoe jy vir hulle eintlik deel is van hul alledaagse lewe."

Vir Vashti, wat vir die afgelope twee jaar die rol van Danni vertolk, is dit "heerlik" om ’n karakter te vertolk wat altyd die regte ding wil doen. 

"Danni het ongelooflik ontwikkel van ’n skaam meisie wat in Suidooster Eiendomme se kantoor begin het. Sy is vandag iemand met ’n sterk persoonlikheid wat vir haarself opstaan." 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!