Welkom op die stel

Die 39-jarige aktrise speel die miljardêr-rolprentvervaardiger Andrew Finney (Ian McShane) se dogter, Paige, in die derde seisoen van dié Emmy-benoemde dramareeks wat onlangs op e.tv begin het. Paige is ’n sportagent, is suksesvol uit eie reg en volg haar eie kop.

Ray Donovan (Liev Schreiber), ’n eens genadelose skobbejak, help deesdae die rykes en beroemdes lastige probleme uit die weg ruim.

Paige en haar pa druk juis op Ray se nommer toe sy besef haar broer is ontvoer. Die ontvoerders eis $5 miljoen van dié skatryk gesin, maar Paige meen dis ’n slenter van haar broer.

Dit het omtrent gegons toe Katie by die rolverdeling aansluit. Haar karakter, wat draadjies aan die tande dra, was so ’n groot besprekingspunt onder kykers dat hulle later spottenderwys in die sosiale media van #BracesGate gepraat het.

“Die draadjies verlig haar gedurige migraines,” vertel Katie.

“Ek dink dis beslis om te wys dat Paige tog tekortkominge het, al lyk sy so volmaak.”

Wat wag?

Die reeks is al in sy sesde seisoen, maar die derde een – die eerste sonder die reeks se skepper, Ann Biderman – is nou op gratis TV te sien.

In dié seisoen is Ray vervreem van sy familie, mentor, Ezra (Elliott Gould), en werkers, Avi (Steven Bauer) en Lena (Katherine Moennig).

Hy het boonop familieprobleme, veral met sy pa, Mickey (Jon Voight). Die Finneys kom ook oor sy pad.

“Ray beleef ’n middeljarekrisis,” vertel Liev oor sy karakter.

“Los Angeles is ’n wonderlike plek waar jy onder almal se neus kan wegkruip. En ek dink dit pas Ray ’n ruk lank, maar dan begin hy van die binnekant af verrot.”

Geen terugkeer

Katie het ná haar debuut in die derde seisoen nie teruggekeer vir die vierde nie omdat sy weer die presidentsvrou Jackie Kennedy in die minireeks The Kennedys: After Camelot speel.


Reekse

THE X FACTOR UK

M-NET | VRYDAE 19:00 & SATERDAE 18:00

NUWE GESIGTE

Die Britse talentsoektog keer terug met drie splinternuwe beoordelaars. Louis Tomlinson van One Direction-faam, die sanger Robbie Williams en sy vrou, Ayda Field, sit nou saam met Simon Cowell.

LOUIS DIE SOLOSANGER

Louis se enkelsnit Back to You was in 37 lande ’n no. 1-treffer. Hy het onlangs die iHeartRadio-prys 2018 vir beste nuwe solo-sanger gewen.

TREFFERMASJIEN

Meer as 75 miljoen van Robbie se albums is al wêreldwyd verkoop en hy het 18 Brit-pryse agter sy naam – die meeste van enige sanger. Die oud-Take That-sanger se jongste album, The Heavy Entertainment Show (2016), was sy 12de no. 1-soloalbum.

MAN AGTER DIE STERRE

Simon, die skepper van die reeks en die hoofstigter van die Britse vermaakmaatskappy Syco, is die baasbrein agter van die heel grootste musiekname ter wêreld, onder wie Leona Lewis, One Direction, Little Mix en James Arthur.

MEV. WILLIAMS

Ayda Field, Robbie se vrou van agt jaar, is ’n aktrise en TV-aanbieder en ken die musiekbedryf deur en deur. Dis die eerste keer dat wederhelftes beoordelaars in dié reeks is.

HÚLLE IS TERUG

Die Brit Dermot O’Leary keer terug as die aanbieder van die reeks. Die TV-persoonlikheid Sharon Osbourne wys ook weer gesig – as ’n beoordelaar van die regstreekse optredes.

NOG ’N EERSTE

Louis is die eerste beoordelaar wat ook aan die reeks deelgeneem het. Hy het agt jaar gelede as solokunstenaar ’n oudisie vir die reeks afgelê, maar is in ’n groep geplaas – en dis hoe One Direction gebore is. Hulle het derde geëindig.

HOOGDRAMA

Robbie het al laat val dat hy naar geraak en opgebring het nadat hy lelik met ’n deelnemer was en sy vrou en grimeerkunstenaar hom daaroor uitgetrap het.


DIE WASGOEDLYN

VIA | VRYDAE 21:00

In dié dokumentêre reeks op VIA (DStv-kanaal 147) reis die musiekman Riku Lätti die land plat en besoek minder bekende ?sangers en ook beroemde plaaslike musieksterre om te sien hoe Afrikaans in musiek voortleef.


TV-flieks van 13-19 September


ABOVE ALL THINGS

SABC3
VRYDAG 14 SEPTEMBER 21:30?2018. 90 MIN. O13
Drama.

In dié hoogaangeskrewe fliek sukkel ’n -wewenaar om ná sy vrou se dood met sy lewe aan te gaan. As deel van sy rouproses en om sy vrou se dood te verwerk, span hy uit in hul gesinskothuis langs ’n meer op die platteland van die deelstaat New York.

Maar in ’n lelike nadraai kom spook sy oorlede vrou by hom. Sean Young en Jeff Kober.


PENGUINS OF ?MADAGASCAR

E.TV
SATERDAG 15 SEPTEMBER 19:30?2014. 92 MIN. O
Animasie.

Vier pikkewyne wat ook bobaasspioene is, span kragte saam met ’n geheime organisasie wat as die North Wind bekendstaan. Die taakmag, wat deur ’n arrogante agent gelei word, moet die slinkse dr. Octavius Brine stuit.

Dié boosaard het hom dit voorgeneem om die wêreld te vernietig. Stemme van Tom McGrath, Chris Miller en Benedict Cumberbatch.


LEADING LADY

KYKNET
SATERDAG 15 SEPTEMBER 20:00?2014. 90 MIN. O13
Komedie.

’n Britse aspirantaktrise oortuig ’n hardkoppige boer van Brandfort in die Vrystaat om haar te help voorberei op ’n rol as oorlogsheldin in die fliek wat haar kêrel skiet.

In ruil bied sy aan om die dorp se jaarlikse Kerskonsert te reël. Dan steek die liefde sy kop uit en krap hul lewe omver. Katie McGrath en Bok van Blerk.


FUN MOM DINNER

M-NET
SATERDAG 15 SEPTEMBER 21:00?2017. 81 MIN. 16T
Komedie.

Vier ma’s wie se kinders saam op skool is, besluit om saam uit te gaan vir aandete. Die aand begin as ’n ramp. Die drankies vloei en hul paaie kruis met ’n oulike kroegman s’n, en gou ontaard die uitetery.

Hulle vind boonop uit hulle het meer gemeen as wat hulle gedink het. Katie Aselton, Toni Collette, Bridget Everett en Molly Shannon.


DUNKIRK

M-NET
SONDAG 16 SEPTEMBER 20:05?2017. 106 MIN. O13G
Aksie.

Dié oorlogsdrama deur Christopher Nolan, wat vir Inception verantwoordelik was, beeld die slagting uit in Mei 1940 by Duinkerken-hawe toe ?die Geallieerde Magte van België, Kanada, Brittanje en Frankryk tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s omsingel is.

Die fliek word uit drie verskillende oogpunte en tydlyne vertel. Fionn Whitehead, Tom Hardy en Harry Styles.


THE COUNSELOR

E.TV
SONDAG 16 SEPTEMBER 22:05 & 02:20?2013. 117 MIN. 16GT
Misdaad.

’n Ryk prokureur van Texas staan op trou, maar sy lewe ruk handuit uit toe hy in ’n dwelmkomplot met ’n middelman, ene Westray, betrokke raak.

Die plan het boonop ’n kinkel en hy moet bontstaan om hom en sy verloofde te beskerm toe hul plan uitlek. Michael Fass-bender en Penélope Cruz.

FOTO: GREATSTOCK/SHUTTERSTOCK, SHOWTIME