En vanaand (Woensdag 4 April) is dit tyd vir die werklikheidsreeks Koekedoortjie, waar tien talentvolle jong bakkers met versiersuiker, botter en koekmeel gaan toor.

Die deelnemers gaan hulself in die magiese Koekerdoortjie-stoor moet bewys – en maklik gaan dit beslis nie wees nie.

Hier is 14 dinge wat jy van die nuwe reeks moet weet.

1. Toe verlede jaar se Kokkedoortjies die kompetisie moes verlaat, het hul elkeen ’n sleutel wat om hul nek gehang het, teruggegee. Vanjaar verteenwoordig ’n “wenssteel” elke deelnemer. Wanneer die deelnemers vanjaar die program verlaat, moet hulle die wenssteel, wat deel van ’n wensblom is, teruggee.

2. Nic van Wyk en Mari-Louis Guy is weer vanjaar die beoordelaars van die kompetisie.

3. Sanet Olivier is die regisseur van die reeks. Vanjaar se tema in die “towerstoor” is ’n winterwonderwêreld, en die reeks het ’n magiese gevoel met klassieke musiek, mooi dekor en selfs ’n spierwit uil wat met die kenwysie oor jou skerm gaan verbyswiep.

4. Volgens die vervaardigers het meer meisies ingeskryf vir Koekedoortjie, terwyl die inskrywings vir Kokkedoortjie weer grotendeels uit seuntjies bestaan het.

5. Daar is twee seuntjies wat hul bakvernuf in die Koekedoortjie-stoor gaan wys.

Die Koekedoortjie-deelnemers met hul wensstele.

6. Die jongste deelnemer is die 10-jarige Tanique van der Walt van Hermanus.

7. Evan Maritz van Pretoria en Carla Botha van De Hoop is die oudste – hulle is albei 13.

8. 300 kinders het eindelik oudisies vir die reeks afgelê. Hulle moes onder meer ’n koek met ’n lentetema na die oudisie saamneem. Die jong bakkers wat na die volgende ronde deurgedring het, moes daar en dan plaatkoekies bak sodat die vervaardigers kon vasstel of hulle tuis is in ’n kombuis.

9. Die reeks is oor ’n tydperk van sowat twee weke in Milnerton, Kaapstad, verfilm. Een episode is per dag verfilm.

10. Die deelnemers het tydens verfilming elkeen saam met hul ma of pa in Century City, naby die Canal Walk-winkelsentrum net om die draai van die ateljee, tuis gegaan.

Die Koekedoortjie-deelnemers bak en brou dat die versiersuiker en eiergele sommer spat.

11. Tussen 50 en 60 uur se kamera-inhoud moes eindelik verwerk en verminder word tot ’n halfuur lange episode.

12. Daar is 13 episodes in die reeks.

13. Die Koekedoortjie-resepte word vooraf vyf tot ses keer getoets, selfs ook twee keer in die Koekedoortjie-stoor, om seker te maak dit werk.

14. Die sneeumasjien wat die sneeu vir die openingstonele van Koekedoortjie gemaak het, is soortgelyk aan die masjien wat sneeu vir die fantasiereeks Game of Thrones gemaak het.

Koekedoortjie is Woensdae om 20:00 op kykNET (kanaal 144).