1. Anders as in die vorige twee seisoene van Kokkedoor, wat in 2013 en 2014 uitgesaai en op Prins Albert in die Klein-Karoo verfilm is, het die reeks nou ’n stadsbaadjie aangetrek en is dit in Kaapstad verfilm. 

2. Die reeks spog met ’n nuwe stel in ’n ou drankwinkel wat vier jaar gelede in ’n TV-ateljee omskep is. “Dit was reeds die tuiste van Kokkedoortjie en Koekedoortjie, maar toe ons in Ja­­nuarie met Kokkedoor daar intrek, het ons dit omskep in ons eie weergawe van art deco wat die platteland ontmoet,” vertel die regisseur, Sanet Olivier.

Die stel het 10 werkstasies wat elk ’n stoof, wasbak, basiese speserye en toerusting bevat sodat die deelnemers kan kos maak dat die biesies bewe. Die ateljee het ook ’n groot spens vol bestanddele, ’n instap­yskas en ’n rits kleiner yskaste om bederfbare produkte koel te hou.

3. Sanet behartig sedert 2013 dié koswerklikheidsreeks se regie. Sy was ook regisseur van die ander reekse in die Kokkedoorstal, Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie.

“Ons het baie gespeel met sterk en skoon lyne om die kombuis ’n meer gesofistikeerde gevoel te gee. Omdat ons die kinderreekse ook hier verfilm het, was baie dinge reeds in plek.”

4. Vir Sanet, wat op Prins Albert grootgeword het, was dit ’n nuwe uitdaging om die stadslewe in die reeks te verweef. Sy het dinge wat stadsjapies daagliks sien, maar nie altyd as nostalgies en mooi beskou nie, as inspirasie gebruik.

“Prins Albert en die Karoo is deel van my wese en DNS. Ek moes nogal ’n kopskuif maak en met nuwe oë deur die strate van Kaapstad stap.”

kombuis,kokkedoor,tv
Die kombuis is ontwerp met sterk, skoon lyne om ’n gesofistikeerde gevoel te gee. Foto: kykNET

5. Die deelnemers gaan soms weg van die ateljee om etes vir groot gehore te berei. Benewens om almal by die regte plek te kry, was dit ook ’n uitdaging om al die kooktoerusting en kos by ’n bestemming weg van die ateljee te kry – en alles boonop vars te hou. 

6. Die vorige twee seisoene is deur die RSG-omroeper Mariëtta Kruger aangebied, maar Kokkedoor 3 het nie ’n aanbieder nie – wel ’n nuwe beoordelaar.

Die bekende sjef en kos­kenner Hetta van Deventer-Terblanche is terug en so ook die sjef Nic van Wyk. Die kosskrywer en -blogger Sam Woulidge sluit as die derde beoordelaar by hulle aan.

7. Sam is ’n bekende  rubriekskrywer vir die kostydskrif Taste en het ’n kookboek, Confessions of a Hungry Woman, agter haar naam.

Die vervaar­digers het haar met Kokkedoor se eerste seisoen genader om as beoordelaar op te tree, maar dit het met haar bedrywige rooster gebots. 

8. Die deelnemers bestaan uit 20 “onthoukokke” met geen profes­sionele opleiding en ervaring nie en 10 “kinkelkokke”, wat sjefsopleiding en ervaring in ’n restaurant of professionele kombuis het. 

9. In die eerste episode is 10 onthoukokke huis toe gestuur. Nou gaan 10 spanne, elk met ’n kinkel- en onthoukok, dit weekliks vir die Kokkedoorkroon uitspook.

10. Die verfilming van Kokkedoor 3 het vyf weke geduur, tussen Ja­­nuarie en Maart. Sommige van die vele uitdagings was so straf dat van die episodes oor meer as een dag verfilm moes word.

Sowat 50 uur se beeld­materiaal is vir elke episode opgeneem, en dít moes dan tot net 48 minute geredigeer word.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.