Kykers sal bly wees om te hoor dat die operasie goed verloop het en Manie hopelik binnekort weer op die kassie te sien sal wees. 

Manie Muis, soos hy bekend is, het Sondagoggend om seweuur begin kla hy het pyn. 

“Die pyn het taamlik vinnig vererger en toe hy opgooi, het ek besef dis as gevolg van die pyn. Ek ken my kind en het besef dat dit nie sommer net ’n gewone maagpyn is nie,” vertel Jana le Roux, sy ma. 

manie le roux,kwarantyn
Manie was Sondag in baie pyn. Foto: kykNET

Nadat die dokter by #SpanLeRoux se Kwarantyn-huis was, is Jana toegelaat om saam met Manie kliniek toe te gaan vir ’n sonar. 

“Ek was baie dankbaar daarvoor. Ons is terug huis toe met die uitslae van die sonar en ’n sak vol medisyne.”

Manie het Sondagaand die Kwarantyn-huis verlaat toe hy steeds nie beter voel nie en is in die hospitaal opgeneem waar hy die operasie ondergaan het. 

braam le roux,kwarantyn
Braam troos sy siek seun. Foto: kykNET

“Die Le Roux-huis is glad nie dieselfde sonder Muis nie. Die oggende is stil en ons mis sy grappies en sy lag,” sê Jana. 

Dit was vir haar moeilik om nie by haar seun in die hospitaal te wees nie.

“Ons het hom oorgegee in die hande van die Vader, want dit is Hy wat die beste na Manie sal en kan omsien.

“Dit gee ons rustigheid, maar dis steeds moeilik om die prentjie uit my kop te kry van my kind alleen in ’n hospitaalbed vol pyn en onsekerheid.”

manie le roux,kwarantyn
Manie verlaat hul Kwarantyn-huis. Foto: kykNET

Jana voel vandag ’n bietjie beter omdat sy weet die probleem nou verwyder is. “Ons kan nie wag om hom hier in die huis te versorg sodat hy gou gesond kan word nie,” sê sy.

#SpanLeRoux is ook oorweldig deur die duisende bemoedigende boodskappe wat hulle van kykers van reg oor die land ontvang het in hierdie moeilike tyd. 

“Ons begryp nog nie die werklikheid van al die duisende boodskappe van ondersteuning vir ons gesin en spesiaal vir Muis nie,” vertel Jana. 

manie le roux,kwarantyn
#SpanLeRoux kan skaars wag dat Manie terugkeer. Foto: kykNET

“Dit maak my nederig om te weet hoeveel mense daar buite vir ons omgee. Manie het lankal sy pelle en almal met wie hy in aanraking kom se hart gesteel, maar ek het nooit kon dink dat die sirkel so groot sou raak nie.

“Ons is nederig en dankbaar vir elke liewe boodskap en gebed,” voeg sy by.