Hierdie rol het op die perfekte tyd gekom nadat die jong akteur baie werk verloor het toe feeste soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op sy tuisdorp, Oudtshoorn, gekanselleer is weens die COVID-19-pandemie. 

“Ek het op 18 Maart, my verjaardag, vir ’n oudisie (by Suidooster) gegaan en die eerste week van die lockdown gehoor ek het die rol gekry,” vertel Marlo. 

Hy was in Oudtshoorn en het vroeg teruggekeer Kaap toe en alreeds op 15 Mei aan sy eerste tonele begin skiet.  

marlo minnaar,theresa sedras
Imraan is verlangs familie van Mrs J. Foto: kykNET/Suidooster

Sedert sy rol as die tronkbewaarder-skurk Tony in die sepie 7de Laan, was die akteur nog nie weer in ’n sepie te sien nie. Dus erken hy dat die eerste paar dae op die Suidooster-stel bietjie van ’n uitdaging was. 

“Die anxiety en stresvlakke het maar die beter van ’n man gekry, maar ek moet sê die produksiespan het my tou wys gemaak en gehelp in settle.” 

Marlo se karakter Imraan, ’n jong Moslem-man wat oorspronklik van Beaufort-Wes is, gaan vir ’n bietjie meer as twee maande in Ruiterbosch te sien wees. 

marlo minnaar,suidooster
Marlo is vir meer as twee maande in Suidooster te sien. Foto: kykNET/Suidooster

“Imraan se ma en Mrs J is niggies wat oor die jare kontak behou het. Hy kom dan Ruiterbosch toe op soek na ’n werksgeleentheid,” vertel Marlo. 

Hy kry eindelik die werk as die nuwe aptekersassistent by AB Samsodien (Cedwyn Joel) se Aalwyn Apteek. 

Daar is ook ’n onverwagse romanse wat vinnig kop uitsteek wanneer Imraan ogies begin maak vir Kaashifa (Jawaahier Petersen). Kykers moet maar wag en sien of dit gaan uitwerk tussen die twee.  

Volgens Marlo was hy nog altyd ’n aanhanger van dié kykNET-sepie. “Suidooster is so eg soos ’n Kaapse gatsby! Dit is baie relevante storielyne en ek dink hulle probeer hard om die stories so eg Afrikaans en Kaaps as moontlik te hou. Dis vir my ongelooflik om deel te wees van die span,” sê Marlo, wat ook al in reekse soos Sara se geheim te sien was. 

Hierdie rol is baie anders as wat hy al voorheen vertolk het, maar dis vir hom lekker om te sien hoe hy groei as akteur. “Tony op 7de Laan was ’n bad guy met geen morele waardes en hier speel ek nou iemand totaal en al verskillend. Dit flex nogal my spiere as akteur.”

Juis omdat hy ’n sucker vir skurke is en hy dit geniet het om die rol van Tony te vertolk is een van sy gunsteling Suidooster-akteurs, die sakeman en skurk, Ian October (Abduraghmaan Adams). 

marlo minnaar,akteur
Imraan gaan by AB Samsodien se Aalwyn Apteek werk. Foto: kykNET/Suidooster

Dan is daar ook die liefdevolle en onskuldige Bennie wat deur Richard September vertolk word. 

“Ek en Richard is baie goeie vriende en deel ook ’n aantrekkamer op stel. Hy vertolk daai karakter amazing!

“Bennie het nie ’n wag voor sy mond nie, almal is lief vir hom en hy sê ’n ding soos dit is. Ek dink baie keer het ons ’n Bennie in ons lewens nodig,” sê Marlo.