Sy is nou alles genoem sedert dáárdie episode waarin sy en Ilana Gossman, nog ’n deelnemer op die reeks, se resepte net nie lekker wou meng nie: Die moangat met die grys kuif; die skreeusnaakse een met die droë sin vir humor . . .

Hoe dit ook al sy, kykers en aanhangers op sosiale media kan eenvoudig nie genoeg kry van Zelda nie. Veral nie ná ’n onlangse Kokkedoor-episode waarin Zelda so ewe droog oor haar spanmaat opgemerk het nie: “Ek kan so ’n bitch wees as ek wil – en sy’s net besig om dit uit my uit te bring, en ek moenie so wees nie . . .”

Of: “Ilana, ek vat aan niks nie – ek staan soos ’n standbeeld.”

Zelda Els
Zelda Els. Foto: Facebook

En die mees onlangse een: “Sy’s besig om vir my te crack . . . Ek hou baie van haar, ek doen rêrig. But she spaces out, I’m sorry. Sy gaan my doodmaak. Newcastle, vergewe my, ek is jammer.”

Zelda, die sogenaamde onthoukok, en Ilana, die kinkelkok, moes in dié aflewering eenvoudige melkkos met ’n nuwe baadjie opdis. Maar die hare het gevlieg; en volgens die beoordelaars was die melkkos ook nie te waffers nie . . .

Maar haar pittige sêgoed is g’n fasade nie, vertel Zelda, van Hopefield aan die Weskus, aan Huisgenoot.

“Mense nader my en sê hulle lag hulle dood vir die dinge wat ek kwytraak. Maar dis nie asof ek doelbewus daaraan dink om iets snaaks te sê nie. Ek het maar hierdie droë sin vir humor. Ek het as een van vyf kinders grootgeword – ek moes van ’n jong ouderdom leer dat my stem gehoor moet word,” vertel sy.

Ilana Gossman
Ilana Gossman. Foto: Facebook

Sy wou eenvoudig nie ’n moordkuil van haar hart maak nie, sê Zelda. Sy is getroud met Bill (56). Hulle het saam ’n dogter, Kara (6). Bill het ’n seun en dogter uit sy vorige huwelik, Quantin (33) en Zancha (29), en Zelda het ’n seun uit haar vorige huwelik, Matthew (20).

“Daar is nou klomp suur pruime daarbuite wat gereeld kommentaar lewer en sê al wat ek doen is moan. Maar ek het nie gemoan nie – ek wou net die gebeure van daardie dag stap vir stap verduidelik; waarom ek gevoel het soos ek gevoel het,” sê sy.

“En as jy nou na Facebook toe hardloop en sê ek moan – wie moan nou eintlik regtig,” sêvra sy en lag.

Daar is ná die reeks geen onenigheid tussen haar en Ilana nie, vertel Zelda.

“Al die deelnemers het ’n WhatsApp-groepie en ons gesels nog gereeld daarop. Daar is nie kwade gevoelens tussen ons nie.”

Zelda is tans ’n bekende gesig by plaaslike markte waar sy onder meer gegeurde souse en soute maak. Sy is besig om haar eie toetskombuis te stig en hoop om binnekort haar produkte aan winkels te verskaf.

“Dis groot planne – maar hulle staan nog in hulle babaskoene,” vertel sy.

Oor die gemor én gelag op sosiale media sê Zelda: “Ons lag almal lekker, maar eintlik gaan dit oor die kos. Ek het vir die reeks ingeskryf oor my ongelooflik groot liefde vir die kos en die stories daaragter, en eindelik gaan dit maar werklik net oor die kos.”

• Kokkedoor word elke Donderdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.